Vuurplesier

n Bosveld-vuurtjie en innerlike vrede -- die twee is sinoniem. Só strelend soos die vlammedans vir die oog is, só ‘n plesier is die knetterklanke van die braaihout vir die oor. ‘n Vuur is ‘n sielsgenoot. Maak nie saak wat die gemoedstemming is nie. By die flikkerende vlamme kan jy uitgelate wees, lag, gesels en glasies klink. Jy kan met vriende langbeen sit en herinneringe uitruil. Jy kan ook stoksielalleen stil raak en jou gedagtes laat koersvat. Met ‘n vleisie, ‘n pruttende moer-by-potjie (Sarel Venter van Bloemfontein se kreatiewe skepping), ‘n potbrood, ‘n paar asgebraaide aartappels en uie, of selfs net ‘n verslete koffieketel op die kole hoef jy nie ander geselskap te hê nie. Alleen kan jy wees; eensaam nooit.

Elke stamboekvuur begin natuurlik by die regte hout. In Namibië is dit die klipharde kameeldoring (of sy bruikbare stalmaat, vaal kameelboom). In die Bosveld is die eerste keuse hardekool, ‘n gespierde stuk yster versteek agter ‘n misleidende silwergrys bas. Hierdie koning van die combretums is onlosmaaklik deel van die Afrikaanse vuur-kultuur. Wie 'n kampvuur ken wat met hardekoool gestook is, weet die kole het die volgende oggend nog genoeg woema om koffiewatertjies te kook. ‘n Stomp hardekool is ‘n prima-Bosveldgeskenk. Jan de Necker (erf 281 uit Appelblaarlaan) het vir my ewe plegtig met sy Avis-Golf ‘n pragstuk kom aflaai om vir iets dankie te sê. Dit bêre ek soos goud vir ‘n baie spesiale geleentheid. Soos ‘n bottel kosbare ou wyn uit die beste skatkamers van die Bergkelder.

Hardekoolbome trotseer die elemente met ‘n taaie onwankelbaarheid. As hulle uiteindelik doodgaan -- sò ‘n aristokratiese boom kan mos nie vrek nie! -- bly hul skelette nog eeue lank hul monumente. Jy sien dit om baie vleie in die Wildtuin. Die Herero's van Namibië glo selfs dat hul voorouers in hardekoolbome verander. Klaarblyklik is daardie trotse nasie ook deur die onsterflikheid van hierdie bosreuse getref. Een ongeluk: hardekool raak al hoe skaarser. Vorige generasies het daarmee gemors. Gebruik dit dus asseblief spaarsaam en oordeelkundig. Dit is deesdae ‘n wet van die bos. Selfs die grootste vuur-fynproewers moet teen wil en dank maar vir alternatiewe rondkyk. Te ver hoef hulle darem nie te soek nie. Hardekool se kleinboet, rooiboswilig, die dominante boom in baie kolle in die Wildtuin, lewer self ‘n bobaas-braaihout. Op plekke waar die optel van hout, anders as in Sabiepark, wel geoorloof is, word die beste vuurmaakhout in rooibosveld versamel. Dit kan ek waarborg. Tel net die ou verknoetste stukke op -- dit lyk of hulle nooit verweer nie. Ou rooibos-stamme word ontsettend hard. Dumisa, ‘n sterk, jong Sjangaan van die Huntington-trustgrond naby Sabiepark, het op ‘n Saterdagmiddag, na ‘n dag se fisieke arbeid by Tarlehoet, nog genoeg krag in sy arms oorgehou om twee bylstele op weerbarstige rooibosstompe flenters te slaan.

‘n Sekelbos lyk wel nie na veel nie met sy veeragtige blaartjies en petieterige pienk blommetjies. Maar sy dorings is blikskottels, hoor. Vir veldvoertuie se bande is sekelbos ‘n doring in die vlees. Maar sy hout is ook ‘n doring by ‘n braai. Ja, sekelboskole het ‘n la-a-ang asem. Uit sy taai stam kom nie verniet pik- en bylstele nie. Dis nie al nie. Op houtkenner en -liefhebber Jan Scholtz van Bloemfontein het die grein groot indruk gemaak. Hy het stilletjies ‘n stuk sekelhout uit my stapel braaihout herwin en huis toe gevat. Die resultaat is ‘n sierlike staanlamp wat nou in Tarlehoet se eetkamer pryk.

Pas egter op vir tambotie. Gewetenlose padsmouse verkwansel dit soms as braaihout. Maar tambotiekole is “giftig” -- letterlik. Hierdie donkerbruin hout met die amper geel vlekke maak uitstekende meubels, maar daar hou dit op. Dit bevat ‘n gifstof wat oog- en velirritasie veroorsaak. Sy melksap (tiermelk?) kan vir ‘n kwaai “babelaas” sorg die dag daarna. “Te veel hardehout?” “Nee, ek dink dis van die tambotiekole!”

Van hardehout gepraat. By kampvure word soms met oorgawe gesing. Gewoonlik laterig in die aand nadat ou vriende lekker saamgekuier het. Een liedjie wat na ‘n paar wyntjies onder my persoonlike aanvoering aangehef word, het al ‘n soort handelsmerk van Tarlehoet geword. Dit besing die wondere van die bos, al het dit ver, ver van daar af ontstaan. Op Melkbosstrand, ’n goeie 2 000 kilometer ver, stap ek op ’n mooi dag alleen op die lang wit strand. Die branders lek aan my voete. Tafelberg lê donkerblou in die verte. Die wysie van Stadig, stadig oor die klippertjies maal in my kop. Eensklaps: inspirasie! Daar en dan word ’n “liedjie” gebore. Hierdie onmusikale siel se eerste en enigste! Ek loop dit die hele pad huis toe valserig en sing. So lui die eerste strofe van Wonderlik, soos ek my skeppinkie gedoop het:

Die lewe in die bos

Dié is so wonderlik,

Jy drink jou koffie

Uit ‘n ou jêmblik,

Jy pak jou vuurtjie

Net met hardekool,

En jy kyk in jou

Voëlboekie

Wat is watter voël.

Die lewe in die bos dié is so wonderlik ... Tokkie is ook lief om daardie woorde soms ironies-spottend op my brood te smeer wanneer ‘n teenspoedjie tref, soos dat die sonkragstelsel se (duur) batterye of ‘n noodsaaklike gastoestel meteens die gees gee. Wonderlik is egter nie die enigste Sabieparkse “drinkliedjie” nie. Ander dateer uit my Tukkiedae. Een daarvan is Hasie, Hasie Vaaljan wat Peet Langley in Kollege-tehuis altyd op sy kitaar uitgetokkel het. Pierre le Roux van Mosselbaai het die woorde uit sy geheue opgediep en sing dit deesdae graag vir sy kleinkinders. Dit laat hulle kraai van plesier. Die eerste versie lui:

Hasie, hasie Vaaljan

Olifant speel kitaar

Slakkie blaas die saksofoon

En skilpad sê net poing-pong, poing-pong…

Pierre sing tot by die skilpad wat sê. Die kleinkinders dra ‘n entoesiastiese “poing-poing, poing-poing” by. Of goeie ou Peet (waar sou hy hom bevind?) die skepper van Hasie was, kan ek om die dood nie onthou nie. In ‘n stadium het ek vermoed Piet Henning van Makhado/Louis Trichardt het die liedjie saam met sy indrukwekkende repertorium oneerbiedige rugby songs van St. John’s College in Johannesburg saamgebring na Kollege waar ons in 1958 saam eerstejaars was. Hy ontken aandadigheid.

Van Piet se liedjies weerklink wel soms by Tarlehoet as ‘n klompie Kollegemanne soos vanouds saamkuier. Net, nousedae gaan dit darem heelwat stigteliker! Omdat baie van die woorde in die vergetelheid geraak het, klink dit meermale soos ‘n minder harmonieuse neuriekoor. Een Piet-lied, The Ball at Kerriemuir, lui so: Four and twenty virgins came down from Inverness, and when the ball was over, there were four and twenty less... Oor daardie deel struikel die “kampvuursangers” soms. My ervaring is egter dat hulle die akrobatiese doen en late van ene Mrs McGinty in dieselfde lied uitstekend onthou: Mrs McGinty, she was there; she kept us all in fits, by jumping off the mantle piece and bouncing off her t**s.

Ons sing ook graag nog Way down in Arizona where the doggies shovel coal, a doggie shovels shovels up another doggie’s hole. ‘n Tweede strofe kan selfs (baie) verlangs op ‘n “bostema” aanspraak maak: Way down in Arizona where the birdies pick up grass, a birdie picks a feather from another birdie’s a**e.

Voëls maak ook hul buiging in die “koor” van die ietwat weemoedige Quarter Master Stores: My eyes are dim, I cannot see, I haven't brought my specs with me… …And now ladies and gentlemen, we come to the kee-kee bird ... the ostrich ... the ooh ah bird... Dan word o.m. uitgewei met watter moeite elke soort haar eiers lê. Laasgenoemde uiter na die verskriklike inspanning van die eierproduksie net “oee-aaa!”

 Vervolg ...