Vuurplesier

Elke mens moet in sy lewe minstens een vuur maak wat onvergeetlik is; een monumentale brandstapel wat telkens voor die geestesoog opdoem wanneer met verskuldigde eerbied oor Groot Vure gepraat word.

My eie vuur der vure was eintlik ’n spanpoging. Begeester deur die inkswart Namibiese nag, die sterre soos blink klonte bokant ons, en ’n goeie voorraad rooiwyn, het ’n toegewyde trio die aand van 27 Junie 1990 naby Solitaire, tussen Sossusvlei en Walvisbaai, die pirotegniek tot ’n persoonlike hoogtepunt gevoer. Elke stomp op die werf, groot en klein, is deur my, oud-buurman Chris van Rensburg van Bloemfontein, en seun, Johan, uitgesnuffel, in bondels aangedra en in die vlamme gewerp.

Die vurige tonge het al hoe indrukwekkender hemelwaarts gelek. Selfs Ruimtebeheer in Houston sou eenvoudig nie daardie gloed met sy reuseteleskope kon miskyk nie. “Houston hier: Bly kalm. Dis net ’n verlate plaasopstal wat iewers op die donker vasteland van Afrika in ligtelaaie staan!” Hoe later, hoe kwater. Ek en Chris het mettertyd oortuig geraak dat ons hierdie plaas moet koop. Dit sou ’n goudmyn kon word, waarvan die nagstilte, die onvergelyklike uitspansel en groot vure die kern sou vorm wat toeriste met vet beursies in eindelose strome sou lok.

Johan was nie oud genoeg om saam rooiwyn te drink en so uitgebreid te droom nie. Hy was egter energiek genoeg om die antieke warmwaterstofie -- ’n “donkie” uit die jare toet -- te stook tot die pype van die kokende water rittel en beef. Nes stoomtreine wat in die nag rangeer. Nimmereindigend. Die volgende oggend was die hout gedaan, die vure ashopies, die koppe dof en die drome van kitsrykdom getemper. In nadenkende stilte is ons met ons geleende 4 x 4, ‘n Volkswagen Syncro, na die plaaswinkeltjie op Solitaire om verleë te gaan bieg watter slagting ons onder die brandhout aangerig het. Ons aanbod om ekstra te betaal, is galant deur die eienares van die hand gewys. Miskien was sy later spyt toe die omvang van die skade eers tot haar deurdring.

Toe by Solitaire so oorywerig vuur gemaak is, het die holte vir die voet in Sabiepark nog nie bestaan nie. Dit was trouens nog nie eens ‘n glinstering in die oog nie. Later, toe Tarlehoet in ons lewens kom, ontdek ek egter gou: ‘n Bosveldnag is uit eie reg ‘n nag om oor liries te raak. Selfs die manjifieke Namibiese sterre oortref nie die Bosveld s’n nie. Daardie stilte wat elke sintuig aanspreek; daardie sterre so intens dat jy wil hand uitsteek om daaraan te vat; daardie afgesonderde vuurtjie met die vlamme wat so dans en krul. Dit wat my by Solitaire so aangegryp het, bied die Suid-Afrikaanse bos self ook in ruime maat.

Oornag het my insigte verander. Grootte tel en intensiteit is vir ware vuurplesier belangrik, ja-nee. Frekwensie het egter ‘n oorheersender maatstaf van ware genot geword. Jesaja skryf soos ‘n ware vuurliefhebber: “Dis lekker. Ek is warm, ek geniet die vuur” [Jes. 44:16(b)]. Jesaja, ou maat, hierdie gryskop sekondeer. En met lekker vure is Tarlehoet koning. Punt. Hier het die Van Deventers wel nog nie ‘n vuur gemaak wat in omvang met die Namibiese meneer kan meeding nie. Dit laat ons oor aan roemrugtige vuurmakers soos David Serfontein. ’n Kampvuur is egter vir ons ’n daaglikse heerlikheid. ‘n Stuk roetine soos opstaan of gaan slaap. Drie maande lank -- 90 dae agtereen -- lek die vlammetjies elke aand van ons lang hibernasie in die bos. Twee ekstra vuurmaakplekke is juis vir die doel by ons boshuis aangebou: een voor by die stoep; die ander agter, nader aan die eetkamer en die kombuis. By elk is ‘n verskeidenheid gedugte braaiers byderhand. Dit maak verskillende konfigurasies moontlik.

Elke braaier het ‘n naam wat op sy herkoms dui: Neels se braaier, Manie se braaier, Kosie se braaier. Neels Nothnagel is Johan se skoonpa. Hy woon aan die Rand. Manie Steyn van die Wes-Rand is ‘n dik vriend uit ons Tukkiedae in die jare sestig. Kosie Olivier is ons Melkbosse buurman. Sy seun Johan het die braaier geskenk. Om ’n braaiplek en ‘n braaier te kies, is deel van elke aand se ritueel. Nes die inspring in jou spesiale braai-“uniform” (ou klere deurtrek met rook en allerlei reuke). Die spuit van die nek, polse en enkels vir muskiete. Die aansteek van sitronellakerse en -fakkels. Elke braaiplek het sy eie atmosfeer, sjarme en bekoring. Die keuse is soms ver van maklik.

Kosmaak by Tarlehoet neem soms (net soms) ander vorms aan as op die oop vuur. By die skottels, driepootjies, roosters en ander ortodokse braaitoerusting staan die Weber wat tekens toon dat hy baie myle op het. Sy swart koepel is vol duike en sy handvatsel is met tang en draad vasgewoel. Maar uit hom kom nog ‘n weergalose Kerskalkoen, bros en bruin en baie-baie smaaklik. Vir die wild is dié koddige blink, swart ding ‘n aardigheid. Kameelperde buk laag om hulleself daarin te spieël as die son uit die regte hoek skyn. Dan het ek ‘n mooi foto van die nuuskierige sebratjie (vorige hoofstuk, Swart op wit, op bl. 57) by die Weber, klaarblyklik betower deur dié stukkie vreemheid wat hy hier in die bos kom ontdek het.

Vervolg ...