Vat Vyf
Leeu-episodes sorg vir vele avonture wat in kleur en geur in die kolegloed van kampvure onthou en oorvertel word. Veral toe die reservaat nog jonk en totaal ongerep was, was dit vir allerlei roofdiere 'n onweerstaanbare trekpleister. Leeus met jeukvoete was voor in die koor. Vir parkhoof Crabtree het vuilbaard doerie jare telkens hoofbrekens kom gee. Letterlik voor brekfis al, soos ‘n keer in 1980.
Die huishulp kom die oggend gillend die eetkamer ingestorm. Vier leeus bedreig haar by die agterdeur, deel sy stotterend mee. Sy beduie met haar hand hoe hoog hulle staan. Crabtree spring op en gaan kyk. Hy ontdek die vier indringers het stil-stil 'n wildebees vlakby sy kombuis platgetrek. Die parkhoof se staande opdrag in daardie dae was, soos hy dit stel, "om enige leeus uit te wis wat ons wild aangeval het of mense bedreig." Net een genade dus: om by die voordeur uit te glip en die indringers met sy Sako .243 te bekruip. Sy ander wapens is in 'n kluis in die kantoor toegesluit. Die leeus gewaar hul bekruiper en los teësinnig hul sappige prooi. Hulle stap traag en misnoegd oor die grasperk ruigtes se kant toe. Dit gee Crabtree genoeg tyd om te korrel. Twee syg in hul spore neer met 'n skoot agter die ore. Die ander twee word verwilder. Hulle kies grimmig koers, terug na die Sabi-Sandwildtuin oorkant die teerpad tussen Hazyview en die Krugerhek. Die Sabi-Sand is Sabiepark se ander groot buurman.
Twee ander leeukonfrontasies in die Sabiepark-annale sal Crabtree in sy dag des lewens nooit vergeet nie. Een was op ‘n besige Saterdagoggend in 1982 met die park vol sorgvrye naweekbesoekers. Nommer twee kort daarna met die Crabtreegesin se motor klaar gepak vir ‘n vakansie in die Kaap. Toe kom lol die leeus ...
Die aksie op die Saterdag begin toe ‘n ontstelde vrou by hom kom rapporteer: ses leeus het hulle op die trappies van die klubhuis neergevly. Hulle monde water vir ‘n troppie blouwildebeeste op die groen gras. Maar kan ‘n mens dit waag om te skiet terwyl mense kom en gaan? ‘n Klompie telefoonoproepe later het die parkhoof sy opdragte: “Raak van die leeus ontslae. Summier.” Vir negentig gespanne minute word Sabiepark daarna ‘n “jagplaas”.
Vier leeus word in die bosse rondom die kantoorgebou vasgekeer en doodgeskiet. Twee kraagmannetjies kom weg. Crabtree wil hulle probeer terug jaag Wildtuin toe. Hy en vyf veldwagters sit hulle met ‘n klein Toyotabakkie agterna. Een laat vat sonder veel weerstand oor die rivier. ‘n Tweede laat hom nie só maklik uitboender nie. Eers kruip hy suutjies weg agter ‘n miershoop. Toe storm hy die bakkie met ‘n magtige brul. Crabtree moet vinnig oorhaal. Maar die blits-skoot tref sy kol. In sy momentum tuimel die gewonde dier oor die enjinkap en seil oor die dak tot tussen die verskrikte veldwagters op die bak. Dié spring benoud na veiligheid en kies gillend hasepad naaste bome toe. Die leeu word later deur Crabtree ‘n genadeskoot toegedien.
Kort daarna staan die Crabtrees op vertrek vir 'n Desembervakansie in die Kaap. Toe bring ‘n asvaal boodskapper slegte nuus: 'n groot leeu het die hele bouspan by een van die oewerpersele tot op die huis se grasdak gejaag. Nou-ja, ‘n man moet doen wat ‘n man moet doen. Crabtree trek toe maar mooitjies sy vakansieklere uit, spring weer in sy bosdrag en sit af rivier toe. Op die toneel beduie werkers waar die sondaar grommend in 'n ruigte skuil. Die indrukwekkende dier laat ook nie op hom wag nie. Hy vlieg orent en storm luidrugtig op die man met die geweer af. Crabtree het skaars tyd om die sneller te trek. Maar die enkele skoot met die Parker Hale .308 tref sy teiken. Die leeu val voor die verligte parkhoof se voete. Morsdood.
Nog was dit het einde niet. Amper by die hek uit op sy vertraagde vakansiereis, moet Crabtree weer omdraai. Hierdie keer veroorsaak 'n leeu probleme by die piekniekplek. Geen ander keuse nie: die hele ritueel moet herhaal word. Met een komplikasie. Hierdie kêrel, ‘n makker van die eerste, is in ‘n nog omgesukkelder bui. Crabtree en sy veldwagters staan net kwaai bont. Die parkhoof skiet egter sekuur. Toe eers kan hy gaan klaarmaak -- en die reis van amper 2 000 kilometer sonder verdere onderbreking aanpak vir 'n welverdiende rus. Alles in ‘n dag se werk!
Mettertyd het Sabiepark "makker" geword. Nousedae is leeubesoeke baie minder. Maar opgehou? Moenie glo nie. ‘n Opportunistiese leeuin het in April 2001 in ligte reën selfs kom skuiling soek op die kantoorgebou se stoep. Op ‘n dowwe nagfoto in ‘n Sabiepark-plakboek sien jy net oë blink. Gesels ook maar met Stuart en Bernadette Graham van Bateleur (erf 112 in Knoppiesdoringlaan, aan die westelike punt van Sabiepark). Twee keer kort na mekaar in die jare negentig moes hulle teen wil en dank vir leeus “gashere” speel.
Twee wyfies was net oornag-“gaste”. Hulle word sonder veel moeite verdryf. ‘n Jong leeumannetjie kuier egter lekker. Hy verskyn in die middel van die nag feitlik by die Grahams se voordeur en brul oorverdowend sodat die vensters letterlik bewe. Later blits hy heen en weer aan die voorkant van die huis verby. David Zeller, huidige parkhoof, het toe pas die Crabtrees -- eers Ian en toe later sy seun, Derek -- opgevolg. Hy laat ‘n kordon om die gebied trek. Veldwagters bring ‘n rooibok-karkas uit die Wildtuin. Die sappige bokvleis word aan ‘n paal vasgemaak om die karnallie te lok. Maar honger of te nie, hy is ‘n uitgeslape kalant. Hy ignoreer daardie verloklike maal asof hy ‘n vegetariër is. Uiteindelik bring hy maklik twee weke in Sabiepark deur. Toe stap hy neus in die lug by die piekniekplek uit en oor die Sabierivier vort huis toe.
In 1998 skrik ‘n Bloemfonteiner, Ronnie Schoombie (erf 267, ‘n pypsteel uit Wildevylaan), hom beneweld. Op sy gereelde wandeling op die wandelpad loop hy hom stoksielalleen in ‘n leeuin vas. Die goue reël is om in sulke noodsituasies doodstil te staan omdat ‘n leeu jou eerder van agter sal aanval as van voor sal bespring. Die verbouereerde Schoombie vergeet skoon daarvan. Hy vlieg om en dra sy knieë terug piekniekplek toe. Die leeu skrik haar gelukkig ook ‘n aap. Dié blaas ‘n ewe vinnige aftog -- darem in die teenoorgestelde rigting!
Vervolg ...


