Vat Vyf!

Die hamer val amper uit my hand. Toe ek opkyk, ontmoet my oë deur die kamervenster twee vurige geel kykers. Dit behoort aan ‘n luiperd. In ‘n ooptetjie tussen die knoppiesdoringbome neffens die hobbelrige motorpad. Houtgerus lê die groot kat daar asof die plek aan hom behoort, al is die kaart en transport van erf 154, Wildevylaan, Sabiepark*, kraaknuut in my dokumentelaai.

‘n Lappie aarde van een hektaar in die private natuurreservaat het pas die Van Deventers se Laeveldse wintertoevlug geword -- 'n eie stukkie Afrika met 'n grasdakboshuis van donker klinkerstene, omring deur bome met musiek in hul name. Net twee kilometer van die Krugerhek. Sabiepark en die Nasionale Krugerpark is naaste bure. Slegs die lui Sabierivier skei ons plek en Suid-Afrika se grootste wildpark. ‘n Ryk diere- en voëllewe reik tot teenaan ons voorstoep.

Die luiperdskok tref terwyl die ingenome nuwe “baas van die plaas” op 16 Maart 1998 laatmiddag spykers in die muur kap om met ou studentefoto’s as ‘t ware sy gebied af te baken. ‘n Skok is dit wel. Om skielik, helder oordag, deur een van die gevaarlikste diere ter wêreld by jou voorstoep ontnugter te word, kan nogal ontstellend wees. Want kyk, in Sabiepark word nie agter hekke en hoë heinings geleef soos in die "beskawing" nie. Stappers kom en gaan waar hulle wil op die gruis paadjies van hul anderster dorpie -- ongewapen, buiten met kameras, verkykers, voël- of boomgidse en wandelstokke. ‘n Rondloper-luiperd is eenvoudig nie in 'n nuwe intrekker se draaiboek nie.

Maar verdeksels! My nuwe langlens-Canon E0S 500 N -- ‘n afskeidsgeskenk met my aftrede -- lê onder in die sitkamer. Ek storm die trappe twee-twee af om die kamera te gryp. Binne sekondes is ek weer bo. ‘n Lastige dakbalk blokkeer egter die venster se pad. Al uitweg is om op die stoep die beste hoek vir ‘n foto te vind. Dus maar weer haastig na onder. A, daar lê ta nog. Presies op dieselfde plek. Sy groot kop is nou skuins huis se kant toe gedraai. Dit lyk asof hy die koorsagtige reaksie uit daardie oord as ietwat oordrewe bejeën. Vererg dalk, of selfs effens geamuseerd betrag hy die fotograaf se gesukkel. Want, glo dit of nie, van die stoep af is weer ‘n knoppiesdoring in die pad. Bo is tog beter. Kritieke tyd is egter verspil. By die venster opgedaag, is ek net betyds om te sien hoe die sierlike geelbruin kollepels in ‘n jong tambotiebos verdwyn.

Noodtoestand! Net in my klam swembroek spring ek in my motor. Die hekwagte moet dringend gewaarsku word. Die gruis spat. Die motor skommel oor die hobbels. In ‘n stofwolk hou ek stil. “Daar’s ‘n luiperd by my huis,” stamel ek deur die oop ruit. Ek wag nie op 'n antwoord nie, maar jaag terug om saam met my vrou, Tokkie, op die stoep op verdere aksie te wag -- waarskynlik ‘n span veldwagters met vangnette, sou ek raai.

* Vir vreemdelinge in Jerusalem: die “Sabie” van Sabiepark kom van die Sabierivier aan sy suidelike grens, nie van die dorp Sabie nie. Trouens, daardie skilderagtige bosboudorp lê sowat 80 km weswaarts op die rand van die oostelike Eskarp, amper halfpad tussen Hazyview en Lydenburg. “Sabi” is vermoedelik ‘n oerwoord vir rivier. Dit verklaar name soos Rusape, Lesapi, Save en Sabi in Mosambiek en Zimbabwe, wat nie almal na dieselfde rivier verwys nie.

Dalk met gewere. Maar skemer daal en niks gebeur nie. Later kom ‘n nagapie rats in die bome aangeswaai op soek na 'n skemerhappie. ‘n Gespanne duikertjie kom drink water in die drinkgat. 'n Muskeljaatkatjie skuifel uit die bos. Paddas kwaak verbete. Dit word nag in Sabiepark. Maar die luiperdvangers daag nie op nie. Loer-loer oor my skouer gaan steek ek later ‘n vuurtjie aan, en luister met gespitste ore. Takke kraak onheilspellend in die donker. Ek sluk swaar aan sulke "trae reaksie".

“Jy’s gelukkig,” neem parkhoof David Zeller die volgende oggend die wind uit my seile. “ 'n Luiperd by jou voordeur sommer met die intrapslag. Mintag, man, baie van die ou inwoners sal bitter jaloers wees...” In Sabiepark-terme is ons ervaring glad nie so uniek of vreesaanjaend nie, kom ek toe agter. Trouens, ons moet die luiperd as 'n bonus beskou. ‘n Stuk of ses luiperds vind in en om die park ‘n tuiste. Van tyd tot tyd loop “bevoorregte” eienaars een raak. Tot in hul braailapas of op hul stoepe. So kry Clive en Leonora Robertson van Maroelani (erf 217 in Gwarrieboslaan) in 2002 ‘n buitengewone "Kersgeskenk": 'n luiperd wat hom behaaglik op hul stoepmuurtjie uitrek. Gelukkige Sabieparkers sien sommer twee op ‘n slag. Of vier op ‘n dag soos Johan en André Potgieter, deeleienaars van Leeuplesier (erf 240 in Apiesdoringlaan), net ‘n klipgooi van hul huis.

Clive en Leonora was op 24 Desember in die Wildtuin. Op ‘n vrugbare daguitstappie loop hulle vier van die Vyf Grotes raak: leeu, olifant, renoster en buffel. Net luiperd ontbreek om dit ‘n voltal te maak. “Toemaar, as ons by die huis kom, lê ‘n luiperd op ons stoep,” spreek Leonora toe skertsende ‘n profetiese woord. “Huis” is vir die Robertsons aan die bopunt van Gwarriebos. Toe hulle stilhou, stap ‘n luiperd so warempel om die hoek -- die “verrassing van ons lewe”, volgens Leonora. Clive stoot haastig sy bakkie agteruit vir ‘n gunstiger posisie. Net toe klouter die uitgevrete roofdier luiters op die stoepmuur. Slegs een foto op hul film is oor. Die kamera klik.

Sabieparkers kan hul sterre dank dat sulke kennismakings tussen panthera pardus en homo sapiens in Sabiepark tot dusver heel vreedsaam verloop het. Een keer, twintig jaar gelede, in 1983, het ‘n luiperd egter amper vir perde gesorg. In die middelpunt was Lizette Crabtree, sewejarige laatlam van die eerste parkhoof, Ian, wat nou op Villiersdorp woon. Waar Lizette op haar swaai speel, skaars tien meter van die parkhoof se huis teenaan die hek, kom sy op ‘n dag agter ‘n dier met kolle hou haar dop. Sy kom vertel vir haar ouers dis ‘n jagluiperd.

Twee halfmak jagluiperds, Charles en Lady Di, was inderdaad tot die vorige jaar permanente inwoners van Sabiepark. Die paartjie het hulle vroeër onder die koeltebome by die swembad kom tuis maak. Hulle was minsaam en flikflooierig en het niemand ooit kwaad berokken nie. Vele besoekers het op hulle verlief geraak. Maar hulle had 'n stewige aptyt vir volstruise, allerlei bokkies en selfs nuwe sebra-aankomelinge. Uiteindelik was daar geen ander keuse nie as 'n gedwonge verskuiwing na ‘n geskikter oord: die De Wildt-teelstasie by die Hartebeespoortdam.

“Jy verbeel jou,” kon die Crabtrees dus met redelike gerustheid op hul dogter se mededelings reageer. Maar ‘n Sondagmiddag omstreeks 15:00 kyk Ian deur ‘n venster. Hy verstyf. ‘n Tamaaie luiperdmannetjie lê en bak langs sy nuwe motor -- skaars twintig meter van Lizette se swaai. Wag kon hy nie. Die Maandag word gou-gou reëlings getref om die luiperd te verdoof. Met hulp uit Skukuza is dit redelik maklik. ‘n Nuwe tuiste lewer ook geen probleem op nie. “Laat hom kom,” stem Mike Rattray, eienaar van Mala Mala, dadelik in, en ‘n veilige 30 kilometer van Sabiepark word die dier toe oor die Sandrivier in vloed losgelaat.

Maar net twee dae later, hier’s meneer terug. Met mening. Eers trek hy ‘n albino-volstruis langs die Crabtreewoning plat, ironies genoeg ene met die naam Lizzie, genoem na hul dogter Lizette. Twee dae later is sy slagoffer ‘n klein koedoe, ook nie ver van die huis af nie. Die volgende naweek kom rapporteer ‘n eienaar hy het ‘n jong paartjie met ‘n kind gesien, kort op die hakke van ‘n luiperd wat pas ‘n vlakvark gevang het. Die luiperd was besig om sy prooi in die oewerbos in te sleep, in die omgewing van Crabtree se private woning aan die Sabierivier.

Hy het instinktief geweet dit is die nimlike mannetjie, vertel Crabtree. Dié het nou vir almal ‘n gevaar geword. Veral as hy paniekerig sou raak. Die toenmalige Parkeraad, die Departement van Natuurbewaring op Nelspruit en die Sabi-Sand-wildtuin was eenparig in hul uitspraak: raak tot elke prys van hom ontslae. Hierdie opdrag het Crabtree bra skoorvoetend van die uitkykdek van sy huis langs die rivier uitgevoer van waar hy die luiperd duidelik by die vlakvark-karkas kon waarneem.

Hierdie geskiedenis het ek nie geken nie toe “my luiperd” my in Maart 1998 laat skuins opkyk. Net so min wis ek toe dat die Van Deventers se pad redelik gou weer met Sabiepark se luiperds sou kruis (Lees ook die hoofstuk Het Jou! op bl. 129). Ook die ander vier van die Vyf Grotes is in allerlei situasies -- van amusant tot benouend -- raakgeloop. Dat die lewe in Sabiepark bepaald nie sonder verrassinkies is nie, daarvan was ek egter nou terdeë bewus.

Soms gróót verrassings … tot van 'n hele 5 000 kilogram of meer. Kwasterige olifante uit die Wildtuin het eienaars al minus hul waardigheid laat ooplê of ure lank vasgekeer. Party moes plat op die maag by dié "pad-versperrings" verbyseil of met stram litte om hulle luiperdkruip. Motors is deur kwaai olifante met flappende ore bestorm. Die bestuurders moes haastig in trurat uit die gevaarsone wegskarrel.

Net drie maande na die luiperd se verskyning loop ek en Tokkie op Donderdag 18 Junie 1998 ons eerste Sabiepark-olifant raak. Laterig die middag. Op Sabiepark se beboste, private wandelpad langs die Sabierivier; nie ver van die brug by die Krugerhek af nie. Ons stap -- soos altyd as ons daardie gevaarlike niemandsland betree -- voetjie vir voetjie. Twee liefdevolle bosbokkies in die skaduwees van die magtige trosvybome aan die rivieroewer geniet ons volle aandag. Die volgende oomblik hoor ons takke kraak. Ek steek summier vas, hart in my keel. Tokkie, te dapper vir haar eie gesondheid, stu voort. 'n Paar tree vorentoe maak die paadjie 'n draai. Net daar gooi my vrou ook anker. Sy wink opgewonde. Vlakvoor haar, net enkele meters verder, staan ‘n bosreus, rustig aan't wei aan 'n groen boom. Sy allemintige agterstewe versper die hele paadjie.

Dié keer was my kamera reg en gereed. Op die foto -- ‘n treffer, al moet ek dit self sê -- staan Tokkie, skynbaar houtgerus, duim in die lug aan die linkerkant. Regs is ou grootvoete se (nog groter) agterstewe. My liewe vrou se hart het gebons. Dit kon jy net nie sien op die foto nie – my eerste van ‘n olifant aan die "verkeerde" kant van die rivier. Maar nie die laaste nie!

Numero uno van die Vyf Grotes bly vir die meeste mense ‘n leeu. Leeu-beheptes beoordeel ‘n hele Wildtuinvakansie net aan hoeveel leeus hulle op hul kerfstok het. Ek hoort nie in daardie kader nie. Maar ‘n leeu is darem ‘n leeu, altyd ‘n welkome en opwindende gesig vir ‘n wildkyker, en gewaarborg om fotograwe hul langste lense te voorskyn te laat bring. Te meer so in 'n plek soos Sabiepark wat nie Vyf-Grotes-kontrei is (of behoort te wees!) nie. Die “koning van die diereryk” hoort allermins hierdie kant van die rivier. Vanselfsprekend. Leeus het egter nie ore nie. Kom winter, dwing hulle oor die rivier, taks om taks -- om onder Sabiepark se "mak" en relatief volop wild te kom maai. Hulle glip in, vreet vinnig en glip uit, soos drie “vreetsame” leeumannetjies in Desember 1994. Hul slagoffers was twee jong kameelperdjies – vreesloos sommer teenaan die kantoorkompleks bygedam.

Vervolg ...