Tannemanne

Die lus vir ‘n spesiale happie bring eie insiatief en kreatiwiteit onder vlakvarke na vore. Veral by die lapa, as ‘n skraapseltjie braaikos van die vorige aand dalk oorgebly het. Dan laat vlakvark se kind hom nie stuit nie. Nie eens deur die muurtjie nie. In sy ywerigheid duik hy sommer bo-oor agter ‘n lekkernytjie aan. Net soos hul kos, geniet vlakvarke ‘n goeie modderbad met oorgawe. Selfs die heel kleintjies dons in asof hul lewe daarvan afhang. Daarna word die modderlywe teen ‘n klip, boomstomp of miershoop blink gevryf. ‘n Ortodokse bad is self nie te versmaai nie. Op ‘n warm dag plons sommer twee op ‘n slag in Tarlehoet se watergat in. Pens en pootjies. En hulle vat hul tyd sodat hulle behoorlik kan afkoel.

Dink jy aan ‘n vlakvark, dink ‘n mens gewoonlik aan sy manhaftige draffie met sy dun stertjie so pennetjie-orent soos ‘n antenna op ‘n polisiemotor. Dis een van die vertederende tonele van die bos om ‘n vlakvark-gesinnetjie so op mekaar se hakke te sien wegdraf, “antennatjies” na bo. Daardie manhaftigheid is nie sommer net vertoon nie. Vlakvarke is inderdaad dapper diertjies wat ‘n oormag sal aandurf as hul goed en bloed bedreig word. As ‘n vlakvark enigsins voel hy is in ‘n hoek, raak hy ‘n derduiwel. Mens en dier kan dit lelik ontgeld. En as hy eers sy agterlyf in ‘n doringbos gewikkel het en met sy krom slagtande begin swaai en kap, is hy nog ‘n gevaarliker klant, selfs vir ‘n leeu of luiperd.

Ongelukkig het vlakvarke in Sabiepark deur die jare stapelvoedsel vir luiperds geword. Ondanks ‘n aktiewe hervestigingsprogram het hul getalle in die laaste tien jaar ‘n dramatiese duik beleef. In 1998 is 23 nuwe vlakvarke die park ingebring. In Maart daardie jaar skryf David Zeller: “Dit is wonderlik om weer dikwels trotse vlakvarkouers met hul spruite op ‘n drafstap in die park te sien. Hopelik sal die bevolking nou die predasiedruk van die luiperds kan weerstaan.” ‘n Jaar later was net sewe oor. ‘n Paar jaar later net twee. Die teenoorgestelde het, helaas, gebeur. Die predaksiedruk het toegeneem, nie die vlakvarke se weerstand nie.

Onder Tarlehoet se vlakvark-inwoners was in ‘n stadium ‘n gesinnetjie van vier wat in ‘n stormwatertonnel onder Wildevy tuisgegaan het. Sulke skuilings, ook erdvarkgate, word altyd stertkant eerste binnegegaan. Skerpkant voor, is hulle gereed om hulle te verdedig as ‘n roofdier buite wag. Sabiepark se luiperds het egter oulik geword. Na ‘n paar skermutselings sou hulle nie meer uitdagend by die tonnel se bek gaan sit en wag nie, wel ‘n strategiese entjie verder weg. As die vlakvarke niksvermoedend vars lug kom soek, word hulle van agter af bespring. Hope vlakvarke is al met die tegniek gevang en opgevreet. Want vlakvarkvleis is lekker, ook vir die mens, hetsy in ‘n potjie of op die rooster.

Ander Sabiepark-ongevalle wat aangemeld is, sluit in die ou groot beer wat in die park doodgery is. Nog een het in stropers se strik beland. ‘n Paar avontuursoekers het buite die park gaan rondloop en nooit teruggekom nie. Die resultaat was jammerlik. By die meeste Sabieparkers het ‘n vlakvark-besoek van ‘n gereelde ding tot amper iets seldsaams verminder. By Tarlehoet het later net af en toe tweetjies gekom. Toe raak hul lang afwesigheid kommerwekkend. Ons was naderhand seker hulle is ook maar gevang. Tot ek Tokkie een middag bly hoor uitroep: "Kyk, wie's hier!" Daar lê een van die twee “tannemanne” toe 'n middagslapie langs die voëlbad en vang. Op daardie oomblik kom nommer twee ook uit die bos aangedraf.

In ‘n lang vlakvark-droogte op ‘n volgende vakansie hoor ek haar eendag roep: “Liefling, is jy hier?” Ek kry sommer dadelik die spesmaas dat sy nie met my praat nie. Ek had dit nie mis nie. Die aangesprokene was ‘n beer wat slobberend by die watergat staan en drink.

‘n Dag of wat later deel ek Kapous Mouton somber mee dat die luiperd blykbaar in Appelblaarlaan weer ‘n vlakvarkmaal geniet het. ‘n Veldwagter het met die slagoffer se tande by ‘n vriend se huis opgedaag. Ek en Kapous aanvaar teësinnig dit was een van ons laaste Gideonsbendetjie. Ons verwens die luiperds. ‘n Paar uur later kom die baas van Vreklekker uitasem by my aan. Dit was nie “ons” vlakvark wat in Appelblaar gevang is nie -- waarskynlik ‘n dagbesoeker wat onwyslik onder die draad deur gekom het van die Wildtuin se kant af. “Ons twee” was albei nou net daar by hom. Spekvet en gesond.

Toe drink ons twee ou gryses ewe verspot ‘n heildronkie op “ons” vlakvarke se gesondheid. “Lank sal die luiperds hulle misloop….”