Tannemanne
Vlakvarke -- Tarlehoet se mense noem hulle “tannemanne” na aanleiding van ‘n geliefde kierie met ‘n vlakvarktand as handvatsel -- sien glo maar vrotterig. Dis dalk die rede dat hulle soms so erg lastig kan raak. Hulle moet mos darem seker maak presies wat die dowwerige beeld is wat hulle vaagweg waarneem (deur ‘n spieël in ‘n raaisel!) en watter vreemde ding die gedaante aanvang. Soos met Tokkie en Kapous se gewerskaf. Of as my vrou die oggend elke lantern en lamp in ‘n kring om haar pak om hulle met lampolie te vul. Of as jy ge-laken om jou nek vir ‘n haarsny in die bos onder ‘n boom gaan plaasneem. Selfs net as jy op die stoep sit en kuier. Meer as een Tarlehoetgas is al met blou kolle vort huis toe, soms op heel ongemaklike plekke. Hulle wou mos ‘n vlakvark te naby laat kom om te groet!
Vlakvarke was van die eerste besoekers wat met die nuwe eienaars van Tarlehoet kom kennis maak het. Op een van my eerste foto’s loer ‘n ou nuuskierig om ‘n stoepmuur. “Hy soek ‘n koue Castle,” was Herman le Roux se lakonieke kommentaar. Net ‘n dag later het Rina die een afgeneem voor die nuwe naambord wat pas deur my en Herman (tydelik) staan gemaak is. Toe die grassies groen begin uitspruit nadat die swembad se water die eerste keer uitgetap is, was dit omtrent ‘n vlakvark-kermis. ‘n Gesin van vier het hulle behoorlik tuis gemaak op die Van Deventers se werf. As jy maar sien, is hulle op hul knieë, besig om soos grassnyers deur die jong gras te ploeg. Streng volgens hiërargie, let wel. Want as daar nou een ding is wat ‘n iesegrimmige snork en ‘n driftige stormlopie by ‘n vaderbeer uitlok, is dit ‘n oneerbiedige gade of japsnoete met ‘n houding wat nie aan etenstafel hul plek ken nie. As die ou grootman eet, dan eet net hy, verstaan!
Sabiepark se mense gee hul vlakvarke nie net name nie. Ondanks gereelde waarskuwings oor die gevare daaraan verbonde om diere te voer, gee hulle soos stout kinders ook altyd graag ‘n stukkie bederfkos om die gras, wortels en bolle van die natuurlike vlakvark-dieet aan te vul. Pap, brood, vrugte, skille en mieliepitjies is veral gewild, hoewel die voorsit van laasgenoemde altyd in Tokkie ‘n tweestryd ontketen. Sou Witnek, die duiker, nie dalk aanstoot neem nie? As sy haar dan tog maar laat verlei, en die besoekers grommend op hul knieë sak om gulsig elke pitjie met hul dik lippe uit die stof op te pik -- seker uit oorwegings van gerief -- vertolk my vrou die knielery graag as blyk van nederige dankbaarheid. Ook daardie “mooi eienskap” verdien by haar vir vlakvark ‘n regmerkie vir goeie gesindheid.
Maar as die vark se maag dun is, is die geduld min. In 2001 en weer in 2003 moes met seuns hospitaal toe gejaag word nadat hul vlakvark-voerdery in Sabiepark skeefgeloop het. In die eerste voorval het ‘n oorgretige vlakvark die kuit van sy voerder met sy tand oopgeskeur. In die tweede het ‘n seun, Pieter, ‘n vlakvark wat kom oorskiet soek het, ‘n appel aangebied. Die vlakvark het die appel blykbaar as voorgereg beskou. Hy het dit opgeraap, vinnig gebêre en dadelik nadergestaan vir ‘n tweede gereg. Pieter bied ‘n hand vol mieliepitte aan. Nou-ja, vir ‘n mieliepit sê ‘n vlakvark nooit nee nie, altyd, altyd ja. Dié ou storm blindelings nader en stamp Pieter in sy opgewondenheid teen die linker-bo-arm. Met sy gekrulde tand skeur hy die bo-arm oop. Pieter was mans genoeg om aan sy pa te erken dit was sy fout; hy was immers gewaarsku. Maar sy fout of nie sy fout nie, vir sy pa het dit ‘n noodrit van oor die 100 kilometer Nelspruit toe beteken om die wond te laat versorg en toewerk. Gelukkig was die sestienjarige Pieter al ‘n stewige knaap. ‘n Kleiner kind kon slegter seergekry het.
Vervolg
...


