Tannemanne
Ontmoet Pumba en Timone. Of Mo en Flo. Of sommer die Terrible Twins. Hierdie twee saamloper-vlakvarke was op hul dag groot gunstelinge in Sabiepark. Een en almal het name vir die tweestuks gehad, en was baie ingenome as hulle op hul kenmerkende drafstappie opdaag om op hul roetine-huisrondes ‘n bietjie verwen te word.
Ander gerekende Sabieparkse vlakvarke was ‘n gesinnetjie wat na die
koninklikes van Engeland geheet het. Die ouers was, ietwat
oneerbiediglik, net bekend as Liesbet en Flip. Onder die jonger
klomp was ‘n Charles en Di, ‘n Andrew en Fergie, ‘n Beatrix en Sarah
en selfs ‘n Camilla. Annalien Steyn, ‘n gas van Piet en Verity Möhr
van Net Reg, is deur hierdie “familie van faam, elkeen met sy eie
naam” beweeg om op die Möhrs se lekker ruim stoep die digpen op te
neem.
In ‘n prettige vers, ‘n Ode op Net Reg se stoep, verwys sy na hul “houdinkies en stywe onderlip… seker oor hul weet dat hulle na die blouste bloedfamilie heet”. Camilla is (wie sekondeer?) “foeitog, nie juis mooi, al het sy haar in modder getooi”. Die “wilde, ondeunde een wat Fergie heet” is op haar beurt “een wat als van die dinge van die lewe weet”. En Di? Dié jong sog het, glo dit of nie, soos haar gesogte naamgenoot ‘n paar jaar tevore, in ‘n motorongeluk omgekom. Op die teerpad Krugerwildtuin toe het sy vlakvoor Sabiepark onder ‘n motor se wiele beland. Wat Annalien laat lamenteer: “ Dit het ’n groot leemte hier gelaat, ons kan nie ophou oor haar praat.”
Eienaardig genoeg, het een van die Terrible Twins net ‘n jaar of wat tevore op ‘n soortgelyke wyse sy/haar einde op daardie besige pad ontmoet. Later is ‘n groot beer in Sabiepark doodgery -- wat nogal vrae laat ontstaan oor vlakvarke se padgedrag. Of was die “padvarke” dalk agter die stuurwiel? ‘n Mens kan nogal daaroor debatteer.
Met hul robuuste voorkoms sal vlakvarke nie in ‘n skoonheidswedstryd in die diereryk iewers kom nie. Hul lang snoete, knopvratte, tranerige ogies, grys bakkebaarde en plat bekke is nie juis vir die bos ‘n versiering nie. Hul growwe vel bedek met yl haartjies is eweneens uit ‘n voorkomsoogpunt geen bate nie. Tog is dit opvallend dat juis hierdie onaansienlike diere die uitverkorenes is wat so algemeen vir troetelname kwalifiseer -- ‘n eer wat ander diere minder te beurt val.
Een rede vir geneentheid teenoor hierdie “alkant leliks” -- ‘n betiteling deur ‘n dier-onvriendelike vriend -- kan wees dat die uitdrukking “mooi van lelikgeid” die phacochoerus aethiopicus dalk meer as elke ander wilde spesie soos ‘n handskoen pas. Later kyk jy verby die ruwe uiterlike -- dis tog maar net veldiep -- en ontdek ‘n warm hart. Die hegte band tussen mens en vlakvark het waarskynlik ook ‘n ander oorsprong. Dit is dat laasgenoemde so bedremmeld kan lyk; kompleet nes iemand of iets sy kos afgevat het. Die skrefiesoë wat so sonder ophou trane stort, is feitlik gewaarborg om menslike jammerhartigheid te wek. Daarvan het ek uitgebreide ervaring Toe deernis vir diere uitgedeel is, was my vrou mos voor in die tou. Terwyl sy ‘n keer die swembad skoon suig, is ek in die lapa doenig. ‘n Lastige vlakvark foeter al tussenin totdat ek streng waarsku: “Blikskottel, as jy my Weber omsmyt, gaan ek baie gatvol wees.” Tokkie, nie links nie, berispe my dadelik van die swembad se kant af: “Ag nee, Hennie man, kyk hoe nat van die trane is sy wange nou. Hy wou ook maar net help!”
Om te wil help. Dis nogal ‘n vlakvark-eienskap. Jy begin net afpak, dan weet hulle al van jou. Dadelik word nader gestaan en tussen die motor en die voordeur heen en weer gedraf. Jy moet maar versigtig trap met jou arms vol blikke, bokse en bottels as jy nie oor een van die “verwelkomingskomitee” se lede wil val nie. En haal nou net ‘n verfkwas uit. Wat ‘n vlakvark aan ‘n verwery so boei of bekoor, is enigiemand se raaiskoot. Toe Tokkie ‘n dennehoutkassie op die agterstoep vernis, het ‘n “inspekteur” haar geen oomblik in vrede gelaat nie. Sy moes net waak of die blik vernis beland op sy sy. Kapous Mouton kon in soortgelyke omstandighede by Vreklekker nie sy natuurlike ondeundheid onderdruk nie. Toe ‘n vabond weer sy snoet omtrent binne-in die verfblik druk, gee Kapous hom ‘n wit blerts oor die ete en drinke. “Ek merk jou nou as my vlakvark,” kondig hy plegtig aan -- en voltrek net daar en dan ‘n buitengewone bos-“doop”. Dae daarna het “Kapous se vlakvark” nog met die wit streep soos ‘n Kainsmerk op sy gevreet geloop.
Vervolg
...


