Swart op wit
‘n Beheptheid met die vroulike geslag kan inderdaad in die sebragemeenskap tot hoogs uitsonderlike gedrag lei. In Maart 2003 is ‘n pasgebore vulletjie aanhoudend deur ‘n hings geskop en erg beseer. Gait-Jan Sterk en Alfred Mathebula, twee lede van Sabiepark se personeel, het die beseerde sebratjie versigtig op ‘n draagbaar getel en koelte toe gedra ter wille van sy ma wat telkens omgedraai het om haar telg te soek. Die hings het op sy beurt alles in sy vermoë gedoen om haar te keer. Later is die vulletjie dood. ‘n KNP-dierearts het saamgestem dat die hings se wangedrag klaarblyklik was om “toekomstige kompetisie” te elimineer in ‘n klein, reeds dig bevolkte weigebied. Ce’st la vie.
Dieregedrag is nie altyd maklik te verklaar nie. Twee Sabieparkse sebra-galoppe val in daardie kader. Die een het hom voor my afgespeel. In Wildevy. Van die ander insident het ek net die gevolge gesien. Oor wat agter albei sit, skud selfs dierekenners net die kop.
‘n Vreemde sebra-“hendikep” is in die straat voor ons huis uitgespook. Twee baldadige sebras, geslag onbekend, hardloop eers voluit van wes na oos verby piekniekplek se kant toe. Kort daarna dreun die hoewe terug weswaarts. Nog nie klaar gebaljaar nie, draai hulle weer in hul spore om vir ‘n derde naelloop. En ‘n vierde een. Later kom hulle op Tarlehoet se werf ‘n blaaskans vat. Maar na vrolikheid kom olikheid. Een ou was bra mankerig. Seker ‘n spierbesering of ‘n geskeurde ligament.
Al lekeverklaring wat ek kan aanbied, is lewensvreugde weens reën. Na ‘n dorre vroegsomer het die eerste welkome buie pas uitgesak. Eers was daar ‘n sagte bui: 7 mm. Toe kom ‘n harde stortbui: nog 15 mm. In die veld het oornag ‘n metamorfose gekom. In die diere se bewegings was eensklaps ‘n huppel. Die paddas het vir ‘n vale begin kwaak. Dik duisendpote het oral uitgepeul. En twee uitgelate sebras het blykbaar mekaar uitgedaag…
Galop nommer twee se slagoffer was ‘n splinternuwe bussie. Eddie en Marie Haumann (erf 209 uit Maroelalaan) het pas vir ‘n kort vakansie opgedaag. Naby hul huis sien hulle toe twee sebras oop en toe in ‘n motorpad aanstorm. Die egpaar hou stil om te kyk waarheen die twee só in aller yl op pad is. Op die laaste nippertjie swaai die een weg. Hy mis die bussie net-net. Die ander een gooi ankers uit, maar dis te laat. Die verskrikte sebra skuif met ‘n luide slag teen die metaal vas en beland op die enjinkap van die voertuig (gelukkig een van die moderne snoetbussies met die skuins ruite). Hy tref die voorruit met voorspelbare gevolge. Daarna draf hy verleë weg. Gelukkig is geen ‘derdeparty’-skade aangerig nie. Maar bedink Eddie se gesprek met sy versekeraar: “Ek wil ‘n eis indien na ‘n botsing. My voertuig het doodstil gestaan toe ‘n ongelisensiëerde sebra daarteen bots. Dit was alles sy skuld, want dit was nie op ‘n sebra-oorgang nie!”
Sekere sebragedrag is weer uiters voorspelbaar. Iris Coetzee (erf 29 in Maroelalaan) is aan die woord:
“Ek en my man, Dirk, is nou in daardie goue jare dat ons vier maande aaneen in die salige Sabiepark kan bly en vier maande in die Kaap met die see aan ons voete. Die ander tyd ry ons rond. Eintlik is ons huis in ‘n aftree-oord in Johannesburg. In die Kaap maak ons vriende met ‘n Namakwalandse egpaar, so aards as kan kom. By hulle leer ons ‘n uitdrukking oor mense wat mekaar goed ken: Hulle p**p sommer voor mekaar.
“Terug in Sabiepark, spuit Dirk die grasstoppeltjies voor die huis ‘n bietjie nat. Net toe ‘n groenigheid begin deurslaan, ontdek die sebras die lekker kos. Dit maak Dirk vies. Hy wil nie hê hulle moet sy gras afvreet nie, en jaag hulle aanhoudend weg. Na die soveelste probeerslag kom hy baie ontevrede, brom-brom die huis in: ‘Hulle dink blykbaar ons is vriende. As ek hulle wegjaag, dan p**p, p**p hulle net aanmekaar!’ ”


