Swart op wit

Die verskil tussen ‘n sebra en ‘n kwagga (die naam “kwagga” is ‘n nabootsing van die geluid van alle sebras) is naamlik ‘n kopkrapper. Sabiepark (en die Wildtuin) se sebras is inderdaad sebras, bekend as die Burchell-sebra. Dié word soms ook die bontkwagga genoem, maar verskil van die Kaapse bergkwagga en die gewone kwagga, ‘n uitgestorwe spesie wat veral aan ‘n wit agterstewe herkenbaar is. Die Nasionale Parkeraad (nou Sanparke) wou in 1999 deur teling probeer om hierdie spesie te laat herleef. ‘n Teelpaar is onder meer in Sabiepark se beskermde gebied afgelaai. Dit was egter nie lank nie of die beskermde gebied se beskerming word deur vyf rondloperleeus ongedaan gemaak. Een van hul eerste slagoffers van baie was ‘n kwagga. Einde van daardie eksperiment so ver dit Sabiepark betref.

Een feit het daardie paartjie wel in hul kort tydjie in Sabiepark onteenseglik gedemonstreer. Dit is die streng apartheid wat in die diereryk geld. Om die verskil tussen die teelpaar en die gewone sebras raak te sien, sou ‘n leek omtrent ‘n vergrootglas nodig hê. Maar meng? Moenie glo nie. Van die begin tot die einde het die wit-en-swartes en die swart-en-wittes apart geloop.

Burchell-sebras, bergkwaggas of wat. Eintlik kry jy net twee soorte meen ‘n veldwagter-vriend. Dit is ‘n vet sebra en ‘n dooie sebra. Waarom, wil ek toe by hom weet, is ‘n “vet sebra” dan altyd so moddervet? Is dit sy eetlus? Kry hy te min oefening? Is dit in sy gene? Die veldwagter se antwoord is ‘n verrassing: “Die sebra eet nie meer as ander diere nie en is ook nie werklik vetter nie. Die vertikale strepe om sy pens skep maar net so ‘n illusie.” Sê net weer. En daardie ronde boude dan wat so dril as hy wegdraf? Ook ‘n illusie? Daaroor skuld die veldwagter my nog ‘n verduideliking.

Hoe vinnig ‘n “vet sebra” ‘n dooie sebra kan word, het ek in Junie 2002 gesien. ‘n Hings met ‘n yslike wond aan die linker-agterbeen -- seker na ‘n bakleiery om trop-dominansie -- kom sukkel-sukkel op drie bene by Tarlehoet aangeslof. Sy gesig is nog langer as gewoonlik. Hy drink die watergat half leeg, klaarblyklik bitter dors. Dis koors se werk, meen Tokkie. ‘n Paar dae later, op ‘n Saterdagoggend, is hy terug. Hondsiek. Die kroes en kruppel dier sleep sy lyf weer direk watergat toe, waar ek hom afneem.

Kort daarna kom ons agter hy’t omgeval. Ek dag hy is dood of op die punt om te vrek, en bel die kantoor. Maar hy kom wonderbaarlik weer op die been -- wat met net 75 persent van sy vastrapvermoë geen eenvoudige prosedure is nie. Hy wei net ‘n paar minute en gaan lê toe weer. Later bring David Zeller ‘n dierearts van Skukuza. Die beseerde sebra kry ‘n doofpyl en Tarlehoet se werf word terstond ’n “teater”. Eers maak die arts die ontsteekte wond versigtig oop. Daarna word die pasiënt ‘n fris dosis antibiotika toegedien. Ek is die heeltyd by met my kamera.

Nadat hy dronkerig op die been gekom het, staan hy die hele middag op ons werf rond. Die indruk is dat die behandeling verligting gebring het. Dit lyk of hy op die been wil-wil trap. Die volgende oggend is hy weg. ‘n Week lank gaan ek omtrent elke dag navraag doen oor sy welstand. Ten einde laaste kry ek die slegte nuus: die seer been het net al hoe seerder geword. En die sebra al hoe maerder. Hy is toe uitgesit. ‘n Geveg om ‘n merrie het hom sy lewe gekos.

Vervolg ...