Swart op wit
Diere by ‘n watergat is altyd ‘n mooi gesig. Sebras wat drink, is ekstra mooi. As daardie gestreepte lywe so styf teen mekaar bondel en die trotse nekke met die regop maanhare saam-saam boog maak na die water toe, is dit ‘n strepesimfonie. Ten minste hierdie fotograaf kan net nie sy vinger op die sluiter in toom hou nie. Dit gebeur ook daardie oggend. Genoeg foto’s word geneem vir ‘n hele sebra-album. ‘n Volgende besoek was geruime tyd voor ontbyt. “Ons sebras” daag opstaantyd by die watergat langs ons slaapkamer op. Toe laat iets hulle skrik. In die badkamer kan ek net hoor hoewe klap en takke kraak. Wat sou dit kon wees? Tokkie reken dis my skuld met my “luidrugtige manier van tande borsel.” Ek wonder darem of dit regtig só luidrugtig is!
Op pad piekniekplek toe loop ons gereeld sebras raak. Tokkie sê ‘n keer vir ‘n alleen-ou: "Jy kan maar na ons huis toe gaan." Hy vat haar op haar woord. Met ‘n begrypende blik na haar kant toe stap hy stadig met die motorpad op in die rigting van die huis. Skielik is dit toe net sebralywe waar jy kyk. Die res van die trop was tussen die bosse verskuil. Blykbaar net gewag vir die formele uitnodiging! Ons draai dadelik om en tou op ‘n eerbiedige afstand agter hulle aan. Dis ‘n verstandige besluit. Want hierdie keer kuier ons gaste selfs nog langer. Tot lank na skemer. Hulle sorg vir juweeloomblikke. Voor die huis, agter die huis, langs die huis, oral was in ‘n stadium net streeplywe waar jy kyk. Op die agterstoep is Tokkie omtrent omsingel. Sy kon nie roer nie om ‘n herhaling van die berugte tandeborsel-insident te vermy. Twee ma’s en hul kleingoed strek hulle later op die gras by die nuwe braaiplek uit en vang ‘n middagslapie. Die pa rol in die gras en stof rond -- ‘n beproefde sebraresep om van lastige parasiete ontslae te raak. Selfs my vuurtjie moet maar ‘n ruk wag, ‘n allemintige opoffering waaroor ek in gewone omstandighede diep beswaard sou wees.
‘n Klein sebratjie is bra lomp. Hy loop aarselend nes ‘n baba wat sy eerste tree gee met ‘n te groot doek aan, sê my vrou. Ontstellende Wildtuin-statistieke is dat tussen 60 en 80 persent nie hul eerste jaar oorleef nie. Vir leeus, luiperds, jagluiperds en hiënas is hulle van die sagste sagte teikens, hoewel hul vaders tog wel ‘n reputasie het dat hulle ‘n geveg kan opsit om hul merries en vullens te beskerm. As die nood druk, kan ‘n verwoede hings selfs ‘n leeu doodskop of erg beseer. Hy kan ook gevaarlik byt met daardie sterk perdetande van hom. Een kleintjie -- nog wankelrig op sy knopknieë en met net bruin dons op sy kruis -- maak op Tarlehoet se werf nogal pikant met die groot nuwe wêreld kennis. Eers bekyk hy die snaakse tweebeen-wesens stip terwyl sy ma haar stert heen en weer swaai. Elke keer kry hy ‘n veeg deur die gesig. Daarna ontdek hy die swart Weberbraaier en die plaveisel in die lapa. Jy kon sien hoe uit die veld geslaan hy is as hy so kloppetie-klop op die harde steenoppervlak trap-trap. Maar die braaier is nog nie die einde van daardie dag se wondere nie. ‘n Klompie tarentale wat kom pitjies soek, trek sy aandag. Hy jaag hulle kamma en probeer hulle vang -- nes ‘n spelerige klein katjie. Die volgende keer toe dieselfde troppie ons opsoek -- amper skoorvoetend, besluit ons later -- staan donsruggie se afwesigheid soos ‘n seer duim uit. Skielik onthou ons hoe ontsteld die sebras die vorige nag gebalk het. En in ons harte weet ons: ons outjie sal nooit weer sy beeld op ‘n Weber se deksel sien of ‘n tarentaal jaag nie. Hy was nou deel van die statistieke. Luiperds moet ook eet…..
Sebras se strepe verwerf vir hulle by sekere mense die bynaam “pajamadonkies”. Nee kragtie, is my gevoel -- dit is darem te banaal en beledigend. Ver van reëlmatige pajamastrepe is daardie bont huide in elk geval. Eintlik is elkeen ‘n kunswerk uit eie reg met ‘n unieke patroon soos die vingerafdrukke van ‘n mens. Die doel is kamoeflering. As gevaar dreig, maal die sebras rond en spat uitmekaar om die roofdier te verwar. Hulle is bekend om hul waaksaamheid en reageer vinnig in die aangesig van gevaar. Hul strepe konfoes nie net roofdiere nie. Dit slaan ook baie mense dronk.
Vervolg
...


