Swart op wit

Sabiepark se embleem is ‘n sebrakop. Die kop pryk lewensgroot by die grasdak-hoofingang. Dit verskyn ook in swart op wit op elke stuk korrespondensie (en rekening!) uit daardie oord. Die park se sebras dink blykbaar die embleem verleen aan hulle ‘n spesiale status. Dalk beskou hulle die hoog-in-die-mode swart strepe op hul vet wit lywe as rangtekens wat hulle vir buitengewone regte laat kwalifiseer.

Tuiser as ‘n sebra sal jy immers nie sommer op jou werf aantref nie. Hulle palm dit behoorlik in. Groen graspolle en gerieflike drinkplekke is nie al wat hulle aanlok nie. Vir ‘n grasdak is hulle so lief soos ‘n skrophoender vir ‘n plaaswinkel se stoep. As die son steek, kom hulle graag onderdak koelte soek. As die reën neerswiep, annekseer hulle dieselfde ruimtes as skuiling. Die stoepstanery kan nogal ontnugterende gevolge hê. Een eienaar was hoogs ontstoke toe sy met oorsese gaste opdaag. Haar stoep is, na ‘n deeglike skoonmaak deur Sabiepark-personeel, van hoek tot kant as ablusiegerief benut. Die hele wêreld het soos ‘n perdestal gelyk en geruik. Die gasvrou moes eers ‘n paar trae sebras verjaag en tuinslange uithaal voordat sy die koffiewater kon kook.

By Tarlehoet is strategiese kettings aangebring om sebras van die stoep af te hou. Nie dat ‘n mens die gawe diere met die kwik op bloedige somervlakke ‘n blaaskansie misgun nie. Maar jy mis tog liewer so ‘n huisbesoek. Anders weet jy wat jou voorland is. Jy sal jou rug moet buig om die bolle op te tel. Laat daaroor dus geen misverstand wees nie: Tarlehoet se kettings verrig ‘n noodsaaklike funksie. ‘n Afdak van groen skadunet is egter ‘n gewilde alternatief. Ons eie groen afdak is met groot persoonlike moeite en ongerief vir die Van Deventervoertuig opgerig. Sodra die motor verwyder word, kommandeer die sebras dit egter telkens vir ander doeleindes op. Die huislike toneeltjie van ‘n ma wat houtgerus haar vulletjie onder jou afdak staan en voed, is vir ons geen vreemde gesig nie. En moenie praat hoe teësinnig die “besetters” dan is om die “verowerde gebied” prys te gee nie!

Sebras het die gewoonte om jou boompies te kom buig terwyl hulle nog jonk is. Letterlik. Wanneer sebralywe jeuk, loop hulle sommer goedsmoeds bo-oor die eerste, beste boom, neem wydsbeen stelling in en skuur die pense tog te lekker teen die takke met ‘n salige uitdrukking op die gesig. Vir die bome self en vir hul groen plastiek-naamplaatjies is die sebramanier van krap dikwels nie voordelig nie. In ‘n stadium was meer as 30 soorte Bosveldbome op Tarlehoet geïdentifiseer en by die 50 groen plastiek-naamplaatjies aangebring. Maar elke vakansie is nuwe skade te bespeur. My enigste suurpruim is plaatjie en al uit die grond geloop. Dit het ek nie op prys gestel nie. Tokkie was ooggetuie toe ‘n halfdosyn sebras by ‘n jong appelblaar beurte maak om te trap en te krap. Na die mishandeling bestaan geen twyfel meer oor die oorsprong van my plaatjieverliese nie.

Wanneer Sabiepark se sebras jou met hul teenwoordigheid kom vereer, kan hulle egter ook in jou hart kruip. Die bedaarde diere kan ure lank rustig rondom die huis kuier. Van tyd tot tyd sou jy oor die voorstoep se lae muurtjie op ‘n drilvet boud kon klop. Andere kere kom hulle wei-wei tot byna op die oop agterstoep. In ‘n stadium het ons vermoed een troppie het Tarlehoet sy hoofkwartier gemaak. Die konstante teenwoordigheid was veel eerder ‘n bron van vreugde as van ergernis -- al het een onverskillige blikskottel ‘n opgeskote blinkblaar-wag-‘n-bietjie platgetrap.

Alles het begin toe hierdie “resident”-trop vir ontbyt opdaag. Kort na 07:00 stap hulle luiters uit Wildevylaan met die motorpad op -- en deponeer oral hul "wilde vye” wat oornag in hul pense opgebou het. Hulle maak eers spore nadat die huismense hul elfuur-rooibos en beskuit in die eregaste se teenwoordigheid geniet het. Die vyftienstuks, waaronder twee vullens, wei in daardie tyd minstens twee keer reg rondom die huis. In die oggendstilte klink die gegirts-girts van die geil Afrikabrekfis in die lang gras (niks kontinentaal daaraan nie!) bo die konstante gedruis van die Sabierivier op. Die jongeres hap speels na mekaar. Party doen strekoefeninge. ‘n Kleintjie sak vermoeid in die lang gras neer. 'n Sublieme oomblik is toe die twee jong knape soos op 'n militêre bevel gelyk aan hul mammas begin drink. Dié wat te oud is om melk te drink, dam die watergat en die naasliggende voëlbad by. Liters water word verorber, en ons (eintlik Tokkie) moet weer emmers vol aandra.

Vervolg ...