Suiker vir 'n duiker
In Sabiepark is veel meer huise as duikertjies. Boonop word die huise steeds meer en die duikertjies minder. Amper elk huis spog egter met ‘n “eie” duikertjie. Die eienaars eien enetjie vir hulself toe, al deel hulle hom waarskynlik met vele ander. “Jou” duikertjie laat ook nie op hom wag nie. Hoe hy dit weet, is ‘n raaisel tensy hy maande lank elke dag kom loer. Maar jy het skaars grond gevat of hy kom dagsê.
By die mens bestaan ‘n natuurlike aangetrokkenheid tot hierdie alleenloper-bokkies. By die bokkies tref jy weer prysenswaardige lojaliteit aan -- en ‘n kinderlike vertroue wat harte week maak. Hegte verhoudings kom so tot stand. Van die mooiste Sabieparkstories spruit uit sulke mens-bokkie-verhoudings.
Die storie van Bok-Bok begin vyf, ses jaar gelede. Annatjie Strydom van Rustig (erf 333 uit Apiesdoringlaan) werskaf een dag in haar tuintjie toe sy 'n vreemde geluid hoor. Dit klink soos 'n aanhoudende gekerm van iets wat in groot nood verkeer. Voetjie vir voetjie begin sy agter die klank aan beweeg. Sy is egter skrikkerig. Sê nou 'n luiperd spring iewers uit! Maar dis of 'n magneet haar trek.
Met gespitste ore beweeg sy stadig deur die droë lopie agter hul lapa. Die gekerm raak sagter, kom sy nou agter. Terselfdertyd raak sy bewus van geluide wat soos 'n stoeiery klink. Toe bemerk sy 'n duikerooitjie wat teen ‘n wal op en af hardloop. Haar oog val ook op 'n opgekrulde luislang in ‘n sloot. Die ooitjie is skynbaar met die slang in 'n hewige stryd gewikkel. Die dapper bokkie hardloop teen die wal af en gee hom 'n skop. Dan weer bult-op. Dan weer af teen die wal. Sy skop en sy skop. Annatjie staan versteend. Sy sien nou die luislang het 'n duiker-lammertjie in sy dodelike greep. Elk keer as die lammertjie in doodsangs blêr, versterk die greep. Die slang knyp sy prooi al hoe vaster en vaster totdat die koppie skynbaar leweloos grond toe sak. Die agterpote gee 'n laaste swakkerige skoppie.
Die treurige lot van die klein duikertjie vervul Annatjie met groot hartseer. Die ongelykheid van die stryd maak haar kwaad. Sy weet net sy wil daardie duikertjie uit die slang se kloue kry -- ook ter wille van die ooitjie wat so onverskrokke bly storm en skop om haar kleintjie te probeer red. Sy is bewus van 'n veldwagter, Ferros, se teenwoordigheid naby hul huis. Sy hardloop om hom te gaan soek en soebat hy moet asseblief tog kom help. Op daardie oomblik kom haar man, Dawie, en hul dogter, Lientjie, aangery. "Ouboet, kom help my!" skreeu sy vir hom.
Dawie aarsel. Die natuur moet sy gang gaan, is sy eerste reaksie. Dit is ook die veldwagter se mening. Om met 'n gevaarlike slang te sukkel, is in elk geval nie iets waarvoor hy hoegenaamd aptyt het nie. Kom ons gee liewer pad, is sy advies. Maar die Strydoms staan vasgenael. Na ‘n rukkie gaan haal Lientjie die kamera. Daar is net twee foto's op die film oor. Dawie neem ‘n foto van die slang om die bokkie waaruit die laaste asem skynbaar nou gepers is. Sy tongetjie hang slap uit sy mond.
"Ouboet, ons moet help," hou Annatjie vol. En asof hy haar hoor, blêr die bokkie 'n laaste wanhoopsblêr. Dit ruk Dawie aan die hart. Die luislang lyk in elk geval vir hom nog baie jonk en te lig in die broek om die lammertjie af te sluk. Die slang is nog skaars twee meter lank. Dawie neem 'n vinnige besluit. Hy gryp 'n vingerdikte stok en druk dit in by die hoek van die slang se bek wat styf om die lammertjie se nek sluit. Hy woel die stok in sy keel af. Toe gebeur 'n snaakse ding: die slang laat sy prooi skielik los. Hy rol weg en seil na sy gat agter 'n klip 'n entjie verder.
Die duikerooitjie het op kort afstand staan en kyk. Ook toe Dawie
haar kind optel en hom na die lapa dra, staan sy steeds asof
gehipnotiseer. Dawie onthou op daardie oomblik sy ma se resep as
iemand groot geskrik het. Bring gou suikerwater, vra hy. Annatjie
roer vinnig 'n paar lepels suiker in 'n beker water en bring dit vir
haar man. Dié het intussen voel-voel vasgestel geen bene is blykbaar
gebreek nie. Die duikertjie wat net sy twee hande vol lê, het dalk
tog 'n kans. Dawie dwing die mondjie oop en laat stadig 'n paar
druppels suikerwater inloop. Hy herhaal die proses 'n paar maal. Toe
gooi hy 'n bietjie water oor die lyfie. Hy voel hoe sy in sy hande
begin beweeg.
Toe hy haar neersit, is sy egter te swak om te staan. Haar bene vou onder haar in. Uit die hoek van sy oog gewaar Dawie die ma het intussen stadig nader gekom. Sy staan by die punt van die lapa en kyk pleitend na haar kind se weldoeners. Dawie tel weer die kleinding op en sit haar versigtig op haar voete neer. Wonder bo wonder bly sy regop. Val-val begin sy na haar ma toe waggel. Dadelik soek sy ‘n speen. Steeds onvas op haar voete, begin sy gretig drink. Die ooitjie knip geen oog nie. Sy staan net daar, doodstil, en laat haar kind drink totdat sy genoeg het. Toe stap sy weg, steeds ewe bedaard, met haar kind wat amper dood was, agterna. ‘n Oomblik van groot vreugde vir die Strydoms. Hul ervaring laat hulle besef hoe groot die veggees van 'n dier is.
Die volgende oggend is Annatjie weer by die lapa doenig. Hier kom die ma en haar kind aangestap. Asof hulle wil kom sê: baie dankie julle wonderlike mense. Hulle staan 'n bietjie daar rond en gee toe heel rustig pad. Trane van dankbaarheid en aandoening het in die Strydomhuis gerol. Dit was die eerste en laaste keer dat sy 'n duikerlammertjie gesien het, sê Annatjie. Duikerooitjies steek hul kleingoed deeglik weg.
Vervolg ...


