Spore in die sand
Intussen bly Losloper hot en haar in Sabiepark na die ander twee soek. Verskeie eienaars sien hom deur die dag. Zeller stel daardie aand weer ‘n vanghok. Maar eers 24 uur later kom die nuus: Losloper se losloopdae in Sabiepark is beëindig. Nou word vinnig gespring. Hy word -- steeds in die hok maar nou wawyd wakker -- op ‘n voertuig gelaai, bestemming KNP. Ewe rustig asof hy hom met sy lot versoen het. Toe begin ‘n groot soektog na sy maats in die Wildtuin.
Gelukkig is ‘n helikopter beskikbaar wat olifante moes terugjaag van die Hazyview-gebied af. Die dierearts kommandeer dit op om die twee via die radiosender te probeer opspoor. Lank gebeur egter niks. Die moed sak laag in die skoene. Maar uiteindelik kom ‘n deurbraak. Meer as 30 kilometer suid van waar hulle losgelaat is, begin die radiosender fyntjies piep. Op die grond is dit nog 11 kilo’s van die naaste pad die bos in. Dit word ‘n hele oggend se ry deur die veld, oor bosse, deur vleie, om bome, oor rotse en oor spruite voordat die sein helder raak. Toe word Losloper vrygelaat. Daar word gehoop dat hy die ander self sal opspoor. Twee weke later rapporteer die dierearts opgewonde: die drie is saam net noord van Skukuza gesien. Sending voltooi. Nog ‘n hoofstukkie in Sabiepark se veelbewoë geskiedenis is geskryf.
Klein diertjies, groot plesiertjies. Dit geld albei die kleiner kussingvoete wat by Tarlehoet fyn spoortjies trap. Bedags is dit die gebande muishondjies. Hulle ruk op in ‘n hele regiment en skarrel energiek van punt tot punt, so gespanne en aktief soos net hulle kan wees. Na donker is dit die muskeljaatkatjie. Hy kom gly-gly in die gras nadergeskuif.
Die gebande muishondjies is oulike gemeenskapsdiertjies wat in troppe van tot veertig alles saam doen. Hulle is die helfte kleiner as die bekende witstertmuishond maar groter as die dwergmuishondjie wat ‘n mens soms in die natuur oor die pad sien skarrel. ‘n Kenmerk is die strepies of bande van die skouers tot waar die stert begin. Insekte is hul stapelvoedsel. Hulle is gedurig miskruiers se bolle aan’t omkeer agter ‘n lekkerny aan. Hulle is ook gek na voëleiertjies. Dié breek hulle oop deur dit tussen hulle agterbene deur teen ‘n klip te laat rol. Maar ek het darem ook al gesien hoe sak hulle op ‘n lapa toe as die vorige aand op die grond kos gemaak is. Van die krummels van die braaibroodjies of stywe pap tot stukkies vet of vleis pik hulle gretig op.
Dis pret om hierdie vrek nuuskierige en energieke kleingoed dop te hou en te raai waaroor hulle so aaneen babbel. ‘n Toeskouer moet hom egter goed kamoefleer. En ‘n fotograaf sonder ‘n vinnige voorvinger kan maar vergeet om al die skarrelende lyfies in fokus te kry. Die bangjanne in hul geledere sal sommer ‘n agteroor-salto uitvoer as hulle ‘n mens sien. Daardie stukkie gimnastiek word met skril uitroepe van skok en verontwaardiging begelei. Dan spat die hele lotjie luidrugtig uiteen. Na ‘n paar sekondes hergroepeer hulle nadat die leier blykbaar tot kalmte gemaan het. Hulle hervat hul vorige aktiwiteit asof niks gebeur het nie. ‘n Mens kan jou maklik met die diertjies misgis. Al lyk hulle so fyntjies en kwesbaar, speel hulle tjop-tjop met ‘n giftige slang klaar. In Sabiepark het hulle al ‘n luislang gepak en doodgebyt. Die oormag was te groot. As roofvoëls op hulle toesak, verdedig hulle hulleself ook met mening.
Muskeljaatkatjies, aan die ander kant, is alleenlopers. Hulle is gewoonlik ook maar sku diertjies. Soms lyk dit tog of mense en mensemaniere hulle fassineer. Hulle sal byvoorbeeld soos ‘n huiskat ewe huislik met die kop op die pootjies by ‘n lapa kom lê wanneer die huismense om ‘n vuurtjie gesellig saamkuier. Of sorgeloos op die stoep kom motte en ander insekte “jag”. Dis nie soseer agter ‘n happie aan nie, maar eerder as ‘n lekker tydverdryf. Dan word dit ‘n boeiende spel waarin die “jagters” hulle daarin verlustig om met Job se geduld hul prooi te uitoorlê.
Klaar so gekattemaai, breek die tyd aan vir ‘n tydsame en klaarblyklik genotvolle skoonheidskuur. Jy verwag half dat “Kietsie” enige oomblik salig tevrede sal begin spin.
Tarlehoet is gelukkig om ‘n resident-muskeljaatkatjie te huisves. Die outjie het een aand letterlik katvoet op die muurtjie van ons braailapa rondgewals Heen en weer verby my wynglas waaruit ‘n laaste slukkie goeie rooi van Leeuwenjagt pas in my keelgat af is. Ek was verstom hoe versigtig hy trap om die leë glas nie om te stamp nie. Ook nie met daardie lang spoggerige stert van hom nie. Miskien was hy net nie dors nie…
‘n Kort afwesigheid van die nagapies ontmasker hom egter as ‘n eersteklas opportunis. Dis toe al die tyd dié karnallie wat in die donker ure van die nag die piesangstukkies op die stoeptafel kom gaps! Wat hom verraai, is die tekens van ‘n nuwe ablusieblok op die tafel. Daardie fyntjiese mis het ons al leer ken as ons soggens met toiletpapier moet loop om dit voor ons kamerdeur op te tel. Ja, muskeljaatkatjies is nie vol fiemies nie. Hulle eet amper enigiets: van insekte, voëls en paddas tot vrugte. Moenie enige kos buite laat staan as ene in die omgewing is nie
‘n Gebande muishondjie of muskeljaatkatjie lyk of dit ‘n skattige troeteldiertjie kan wees. Hokaai, pas tog maar op. Hierdie klein roofdiertjies beskik oor potente geheime wapens. Soos sy groter broeders en susters van die muishondfamilie kan die gebande muishondjie in nood uit die kliere onder die stert ‘n walglike stank versprei. Die muskeljaatkat se anale en perineale kliere skei op hul beurt muskeljaat af. Dit word wel in die vervaardiging van parfumerie gebruik. Maar onverdun en onverwerk is muskeljaat (musseljaat) ook katastrofaal vir ‘n sensitiewe neus.


