Spore in die sand
Vrydagaand 22 Augustus 2003 was Marten Grond van Melkbosstrand se verjaardagbraai by Tarlehoet. Ons had vir die geleentheid ‘n volbloed-kampvuur. Ster van die aand was Helena. Tydens ete was sy in 'n stadium tot op ons voorstoep, volgens Thys Slabber, wat gaan vars lug soek het. En die kloeke Swartlander sal nie sommer wolf-wolf roep nie. Thys het gewapen met 'n graaf die fort gehou. Helena was daardie aand op wat 'n mens 'n uitgebreide besoek sou kan noem. Sy het lank genoeg in die lig van die fakkels rondgestaan vir almal om haar deeglik waar te neem en te kiek. 'n Keer het sy halfpad tussen die fakkels op haar voorpote gaan lê, soos ‘n hondjie wat hitte soek. Nes ou eenoog voorheen.
So ‘n persoonlike verhouding met ‘n gevaarlike dier sorg vir gereelde opwinding. Dis waar. ‘n Te “persoonlike” verhouding is egter nie aan te beveel nie. Die gevaar is dat ’n mens al hoe makker raak. Jy werskaf houtgerus na donker buite rond. Jy laat jou kinders toe om te stap as die son al begin sak. Jy slaap op ‘n warm aand sommer onder die sterre, waar ook ’n luiperd jou vir ‘n wegneemete kan aansien. Jy lok ‘n hiëna met ‘n vleisie al hoe nader en nader aan jou huis. Volgens gerugte spog een Sabiepark-eienaar selfs dat “sy hiëna” uit sy hand eet. Dit is hopelik net ‘n boslegende!
‘n Vriend wat ook maar nie die versoeking kon weerstaan om na ‘n braai ‘n beentjie of twee strategies te laat rondlê nie, is deur ‘n groot skrik finaal van daardie gevaarlike gewoonte genees. Die kinders het kom kuier. Terwyl hulle een oggend klaarmaak om Wildtuin toe te gaan, stap ‘n kleinkind, nog net ‘n kleuter, in die skemer by die skuifdeur uit. Sy sien ‘n dier wat vir haar soos ‘n hond lyk, en beweeg opgewonde in sy rigting. Die “hond” kom ook nader. Net betyds kom haar pa die gevaar agter. Hy storm uit en gryp sy kind voor die dodelike slagtande weg.
Miskien het die waaghalsiges nog nooit aandagtig gekyk hoe sterk ‘n hiëna se kakebene is nie. Die dikste beendere van ‘n kameelperd is vir hom kinderspeletjies, sê iemand wat sulke dinge weet. En moenie glo dat hy net ‘n aasdier is wat van dooie karkasse leef nie. ‘n Hiëna is ook ‘n dodelike, bloeddorstige jagter. Frik en Martie Nel van Bosveld ril nou nog as hulle die bloedstollende doodskrete in herinnering roep van ‘n bosbokkie wat naby hul huis in Jakkalsbessielaan deur vyf hiënas aan flarde geskeur is. En in ‘n Botswana-wildkamp is ‘n Amerikaanse kind een nag uit sy tent gepluk…
Op die laaste aand van ‘n vakansie is dit Tarlehoet se beurt vir ‘n hiëna-kommosie. Volgens ons rapporte en die kantoor se teorie is een verklaring dat ‘n hiëna en ‘n luiperd (dalk met welpies) in ‘n skermutseling was. As daardie uitgerekte en oorverdowende gromme en knorre losbars, lê jy net doodstil en hou die sif-skuifdeur stip dop. Jy belowe jouself om nooit te mak te raak nie.
In die eerste dertig jaar van Sabiepark se bestaan het wildehonde, na my wete, nooit nader gekom nie as die suipplek oorkant die piekniekplek waar ‘n trop van 20 in Junie 2004 ‘n waterbok verskeur het. Op Donderdagoggend 15 Mei 2001 kry David Zeller egter ‘n dramatiese boodskap: een van daardie bedreigde spesie met die kermisgewade draf buite die hek in die hoofpad rond. Die verbasing is groot, die opgewondenheid geweldig en die reaksie onmiddellik. Zeller kontak eers Skukuza. Die parkhoof en ‘n span spring daarna in voertuie om te voorkom dat die afgedwaalde hond beseer word en om verkeer op die Krugerhekpad te beheer.
Gou kom hulle agter dat hy net een ding in sy kop het. Hy is vasbeslote om in Sabiepark te kom. Wat sou die rede wees? Dit blyk sy twee metgeselle is reeds binne. Hy wil hom met alle geweld by hulle aansluit. Teen 12:00 is hy egter stokflou gehardloop. Hy word gepyl en in ‘n vanghok op ‘n bakkie gelaai. Die hok word naby sy maats neergesit om hulle nader te lok. ‘n Rooibok word as lokaas langs die vanghok geplaas. Teen sononder ontwaak die gevangene. Sy dringende “hoo, hoo, hoo” en die ewe dringende antwoorde van sy maats meng met die ander naggeluide -- die eerste keer dat daardie krete binne Sabiepark se grense weerklink.
Die twee wat nog op vrye voete is, het seker al geleer: haastige hond verbrand sy mond. Hulle bly op hul hoede en hardloop wye kringe deur die park. Eers vroeg die volgende oggend word die tweede gepyl. Hy kry ‘n radio-band om die nek. Daarna gooi hy dadelik sy kragte by sy maat in die hok in. “Hoo-hoo-hoo” roep en roep hulle al hoe harder. Maar Losloper wil steeds nie byt nie. Daardie aand word besluit: as hy nie gepyl kan word nie, moet die ander twee alleen terug Krugerpark toe. Die manne voel bra skuldig. Om die drie te skei nadat hulle so ‘n avontuur saam beleef het, is wreed. Hulle maak egter nie hond haaraf nie. Dit word dag, en Losloper loop steeds los. Die reis Krugerpark toe word dus maar minus hom aangepak. Sy twee makkers word in die Nwatsitshaka-omgewing vrygelaat.


