Spore in die sand
Leeus kom net periodiek oor die grens. ‘n Besoek van wildehonde is selfs nog seldsamer. Met hierdie twee natuurlike vyande uit die pad en ook geen jagters wat hulle bedreig nie, is Sabiepark se hiënas waarlik kaatjie van die baan. Op hul sluiperige manier loop hulle waar hulle wil, net wanneer hulle wil. By Tarlehoet se lapa het ek en Tokkie al versteend gesit terwyl ene om 17:15, helder oordag, met daardie onaangename asem-aroma -- jy ruik hom voordat jy hom sien! – by ons verbyskuur. Ander eienaars rapporteer soortgelyke ondervindings: van hiënas wat onheilspellend tuis op hul stoepe kom snuffel; “soos groot bere” met hul voorpote op ‘n vensterbank nuuskierig deur ‘n kamervenster loer, of selfs ‘n aangebrande pot op ‘n braaiblad se deksel afstamp om die water met sy lekker vleissmakie so staan-staan luidrugtig op te slurp.
Só vroeg soos daardie middag kom hy/sy/hulle darem nie gereeld nie. Op ‘n besoek later in die aand kan jy sekere vakansies egter wed. Ook op die roete. Al wat werklik wissel, is hoe laat die besoeker gaan opdaag. Hiënas het nie horlosies nie. Soms is die vleisie nog sissend op die kole. Ander kere het jy dit pas afgehaal. Dan hoor jy ‘n geskuifel …
As jy ‘n hiëna in die nag hoor tjank, blaf, kekkel, jil, huil of lag, weet jy vir seker jy is diep in die bos. Daardie kakofonie is nie juis musiek op die oor nie. Tog het die hiëna se deurdringende roepe ‘n egte Afrikaklank. Jy kan jou daarmee identifiseer. Op ons eerste paar besoeke aan Sabiepark was dit al wat verraai het dat die raserige diere in die omgewing is. Op ‘n latere besoek het Ouma meegedeel “iets wat soos ‘n groot hond lyk” het in die maanlig by die skuifdeur van haar slaapkamer verbygestap. Toe verdwyn drie stoepkussings een nag geheimsinnig van die voorstoep. Die flentertjies het ons oor ‘n tyd verspreid op die werf opgetel. Die “groot hond” was besig om al hoe tuiser te raak!
Die eerste ontmoeting onder vier oë was by die agterstoep. Terwyl ek die tjoppies en wors vir oulaas ‘n slag omdraai, roep Marisa opgewonde: “Hi-e-e-e-na!” “Waar? Waar?” Hier staan hy toe net enkele treë van ons af. Ons kyk vir hom. Hy kyk intens terug. Toe los ek en Brent gelyktydig die flits en braaitang en drafstap vir ons kameras. Met dié skrik die besoeker en hinkstap haastig uit die ligkring uit. Hy gaan lê onder ‘n boom met sy kop op sy voorbene. Pure hond. (Hiëna se kind trap, soos reeds genoem, ‘n taamlik honderige spoor. Hy steek oortollige vleis diep onder die water weg, amper soos “oubaas se honne” bene begrawe. En hy’s nie dom nie. Gewoonlik kies hy water waar nie krokodille naby is nie.) Ewenwel, ek lig die rooster ‘n vlak en wag op sy volgende skuif. Dit was nie ‘n lang wag nie. Toe staan hy weer skoorvoetend nader vuur -- en vleis! -- se kant toe. Hy vertoef lank genoeg vir die braaiers-cum-fotograwe om hom in verskillende poserings te kiek.
Daardie ou was skynbaar ‘n veteraan van vele gevegte. Dat hy net een oog het, was in die flits van die kamera duidelik. Op die foto’s kon ons ook ander littekens onderskei. Minstens twee vakansies lank kon ons hom aan sy botteloog en littekens identifiseer. Die derde vakansie was ‘n jonger ene in sy plek. Aansienliker en met ‘n minder gehawende pels. Wat van eenoog geword het, weet niemand. Sy plaasvervanger raak egter gou ingeburger en bring selfs by geleentheid twee makkers vir geselskap saam. Dit is nie buitengewoon nie. Hiënas is in die algemeen nogal gasvry en verdraagsaam teenoor hul eie vlees en bloed. Mannetjies onderneem glo selfs hofmaak-uitstappies in spanverband. Enige wyfie op hitte word dan voor die voet bygedam. Hulle het klaarblyklik nie beginselbesware as gebiede oorvleuel nie. Hierdie saamlopery bewys dit.
‘n Naam vir “ons” hiëna kom een aand op Tarlehoet ter sprake. Ons kom toe darem al ‘n langerige pad saam. Mariza stel voor Helena. Sy hou van rym en alliterasie, en het ‘n keer in ons boek iets soos die volgende neergepen: “Helena die hiëna/het ons pad een vroeë aand/met ‘n gedruis gekruis ...” Ek wonder hardop of Wena nie beter sal pas nie in die lig van die hartroerende geween wat dikwels in die maanlig opklink. Dit rym tog ook. In ‘n demokratiese stemming klop Mariza se alliterasie-voorstel my (verdienstelike!) poging egter met ‘n groot meerderheid. Helena die hiëna word dit. Sy of hy maak toe nie meer saak nie. Vir ons was ons besoeker ter wille van die lekker naam van toe af ‘n sy, kort en klaar.
Blykbaar kom Helena iets agter van die verhoogde status wat ‘n naam meebring. Sy grawe haar net dieper in Tarlehoet se doen en late in. Twee aande na die plegtige dopery is sy soos blits die braailapa in net nadat die wors van die kole gekom het. Sy moet iewers in die donkerte geskuil het. Sy loop ewe voor op die wa op die plaveisel rond en snuif verlangend aan die rooster. Was daar nog wors op die rooster het Helena sweerlik ‘n halfgaar vleiskossie gegaps. (Ek sien in my geestesoog weer hoe 'n astrante seemeeu met meeuemoed 'n ruk vantevore op Buffelsbaai nonchalant 'n warm sosatie van die rooster pluk en heel insluk. Die stokkie steek in sy nek vas soos ‘n spalk. Maar watwou! Dié gulsige seëvoel sluk-sluk ‘n slag. Toe bring hy die sosatie op, stokkie en al, en vlieg weg met sy vonds om dit ver van sy belangstellende vriende vreedsaam te geniet.)
Vervolg
...


