Spore in die sand

Vars kussingspore omsirkel elke oggend jou huis. Spore lê ook kruis en dwars in die gruisstrate waarlangs jy vir ‘n eerste beker môrekoffie of stiltetyd in die natuur piekniekplek toe stap. Jy sien hoe vroeër stappers met hul wandelstokke kringetjies om verdagte patrone getrek het.

Vurige debatte kan oor die herkoms van spore ontstaan. Selfs die “kenners” kan ook maar die spoor byster raak wanneer hulle onderling oor dié onderwerp begin redekawel. Behoort die hartvormige kussing met die vier duidelike tone aan ‘n luiperd of ‘n hiëna? Is die byna identiese klein spoortjie dié van ‘n muskeljaatkatjie of dalk ‘n welpie van ‘n groter spesie? En die ene met die naels? Is dit ‘n baba-hiënatjie? Wel, dit kan ‘n gebande muishond ook wees. Of wag, is dit nie dalk ‘n dwergmuishond nie?

Met diegene wat oor spore kopkrap, het ek heelwat simpatie. Vat die hiëna byvoorbeeld. Hy is lag-lag die lelikste roofdier. Geen gevaar dat jy hom op sy voorkoms vir iets anders kan aansien nie. Maar sy spore laat my elke dag struikel. Is dit nou luiperd of is dit hiëna -- en dis glo elementêr, my liewe Watson, maak net jou oë oop. “Die hiëna se spoor is langer, vriend. En kyk die tone. Sien jy nie daai naels nie?” My eerlike antwoord moet sonder uitsondering ‘n ferm “nee” wees. Oor die kleiner spoortjies is ek nog minder geneë om ‘n opinie te waag. Beter dat mense net vermoed jy is ‘n eselkop as dat jy jou mond oopmaak en alle twyfel uit die weg ruim! Dit bly ‘n gesonde motto. Gelukkig het ek ‘n vrou wat ywerig haar kennis verbreed en dus beter toegerus is om oor spore -- en mis! -- saam te debatteer. Sy het ook nie aansporing nodig nie. En sy het dit nie dikwels mis nie.

Omdat ek van my eie tekortkominge op hierdie omvattende studieveld maar alte deeglik bewus is, lag ek nie in die mou vir Hans Wilreker nie. Hans, ‘n man wat die bos ken, was dadelik lugtig toe hy een oggend buitengewone spore opmerk. Grotes, sowat een meter uit mekaar. Die beroemde Clive Walker-boek Signs of the Wild word geraadpleeg. Dit gee ‘n paar opsies. Maar by Hans is geen twyfel nie: dit moet leeu wees. Hy sit haastig af kantoor toe. Vir ‘n belangstellende gehoor teken hy die spoor sorgvuldig op ‘n telefoon-notaboekie. Presiese grootte en al. Almal stem saam: nee, dis net leeu daardie. David Zeller word ingelig. Hy en vier veldwagters haas hulle na die Wilrekerwoning in twee voertuie, een van die oostekant, en een uit die weste. Op die hoek van Worsboom en Wildevy word ankers gegooi. Hans se spoor word gevind en uitgeken.

“Bobbejaan,” kondig David aan. “Nee, twee bobbejane,” antwoord Hans met meer as net ‘n tikkie selfspot -- “ek en daardie uitgevrete lummel wat die spoor getrap het.” Hy voeg lakoniek by: “Ek gaan vir hom ‘n paar tekkies buite los om vorentoe verwarring te vermy!”

Heeltemal van die spoor af was Hans se waarneming allermins. Gaan kyk maar na die tamaaie spoor wat ‘n groot bobbejaan se voorvoet trap. Bowendien, op daardie einste kolletjie het ek en Tokkie in 1998 inderdaad leeuspore gekry -- die voorspel tot ‘n dag vol bos-opwinding wat ons nie lig sal vergeet nie. (Daarin word vertel in die hoofstuk Vat Vyf op bl. 7) Luiperdspore is volopper. Dié wys Tokkie amper elke oggend vir my uit as ons gaan stap. Hiënaspore is van al die predatore s’n egter die volopste. Die diere met die kenmerkende mank stappie draf al van vroeg middag af rond en bont in die park. As die maan uit sy dop is, kan die muskeljaatkatjies kom snuffel. Dalk ook allerlei ander katjies wat jy nie sonder handskoene moet pak nie. Almal los hul “vingerafdrukke”. Net om die verwarring groter te maak, het ‘n jagluiperd van Sabi-Sand van Mei 2004 af lank in Sabiepark haar spore kom laat, en het selfs wildehonde al hier opgeduik. Laasgenoemde se spore kan vir ‘n leek soos ek nogal aan dié van ‘n hiëna herinner. Ook aan dié van ‘n groterige huishond.

Wat is die boodskap? Vereers: hou jou nie alte slim as jy nie werklik ‘n studie van spore gemaak het nie. Ten tweede: trap maar in jou eie spoor 24 uur van die dag. Die bos en die verkeer in die bos is onvoorspelbaar. Hy slaap nooit.

Vervolg ...