Soos 'n wildsbok
Kyk, blouwildebeeste is nie juis ‘n prentjie nie. Met hul verspotte agterstewes lyk hulle maar ietwat uit proporsie -- soos ‘n karikatuur van ‘n wildsbok wat deur ‘n amateur-spotprenttekenaar geskep is. Daardie toiingrige koppe en afdraande-gesigte kom darem ook net te afgerem en hartseer voor. Pure lykbesorgers. Selfs die kalfies lyk bra oes. Hoekom ‘n hanskalfie in Sabiepark in die laat jare negentig terstond die naam “Funny face” verwerf het, is werklik geen raaisel nie. Die eerste maand of twee waggel dié verrimpelde ou bokkies met die “koddige gesiggies” op lomp pote al agter hul moeders aan. Soos skaduweetjies. Dis seker verstaanbaar. Want as daar baie kleintjies in ‘n trop is, kan kalf en ma maklik van mekaar geskei word. Hulle lyk dan almal eenders. Gelukkig ruik hulle darem nie almal eenders nie. Die ma’s leer gou hul eie spruite se reuk deur aan hulle te lek.
Een van die eerste takies van ‘n somervakansie in die bos is om die sproeier voor by die stoep aan die gang te kry. Dit lok onmiddellik ‘n verskeidenheid voëls wat kom stortbad. Sodra die groen grassies na ‘n paar dae deurslaan, word dit vinnig deur die wild ontdek. Op ‘n warm Desembermiddag kom ‘n troppie blouwildebeeste op die kraakvars lekkernytjie af. Sesstuks sak kop-omlaag op die groen kolletjie toe. Hulle smul lank en lekker aan die smaaklike grassies, en vergeet skoon hul gewone skrikkerigheid. Nader aan die huis het hierdie bangbroek-diere nog nooit kom wei nie. Een les selfs sy dors in die drinkgat. Gewoonlik drink hulle hier liefs snags wanneer hul lywe met die donker saamsmelt.
In hierdie troppie is drie kleintjies. Toe hul ma’s na die feesmaal om die hoek van die huis te voorskyn kom, is dit of ‘n afsetter sy pistool laat klap. Die kalfies kom gelyk uit hul blokke en storm op hul ma’s af vir ‘n paar slukke melk. Dit het nie gelyk of daar by ma’s of kroos enige identiteitsverwarring bestaan nie.
‘n Ruk later kuier Johan en Mariza een aand op die stoep. ‘n Geluid laat hulle regop sit. Dit klink vir hulle asof 'n olifant deur die bosse bars. Die twee spring in hul bakkie en ry 'n ent in Wildevy af. Maar van ‘n olifant is geen teken nie. Die enigste “olifant” is toe al die tyd twee nukkerige blouwildebeeste wat op hul knieë staan en kopstamp. Seker maar hartsake.
Die elegante rooibokkies (impalas) se hartsake verloop ook taamlik luidrugtig. ‘n Aanhoudende gesnork word van April tot Junie dag en nag gehoor. Vir die onkundige kan dit soos ‘n gevaarlike roofdier klink. Maar dit is niks gevaarliker nie as die rooibokramme wat ooitjies na hul territorium lok. Hulle probeer die ooitjies daarbinne hou deur hulle met ‘n gesnork rond te jaag. Die einde van die jaar is rooibok-lamtyd. Dan wemel die veld van die manhaftige klein “Brent Russeltjies” wat lyk of hulle sommer uit die staanspoor soos mini-volwassenes saam met die trop kan hardloop en bokspring. Om die oulike kleintjies in hul speelgroepies dop te hou, is net ‘n plesier.
In Sabiepark leer ‘n mens om rooibokkies te geniet. Jy hou nie sommer blindelings verby soos uitgekuierde Wildtuinbesoekers nie. ‘n Stuk saligheid is om op ‘n Sondag na kerk in jou eie motorpad deur ‘n trop rustige rooibokkies vasgekeer te word. Of om op ‘n staptog skielik omring te raak van ‘n trop wat heen en weer oor die pad dartel. Wat is mooier as ‘n rooibok wat homself opraap en grasieus tien, twaalf meter deur die lug trek -- ‘n perfekte toonbeeld van klassieke beweging?
Rooibokkies lyk altyd so lewenslustig en energiek. As jy een aantref wat ongelukkig lyk, roer dit jou hartsnare. Ek en Tokkie wonder nou nog wat agter ‘n hartseer-toneeltjie sit wat ons een middag in Appelblaarlaan teëgekom het. Op ons laaste stappie voordat ons die lang pad huis toe vat, hoor ons eers net ‘n bokkie wat hartverskeurend blêr. Dan sien ons haar. Dis ‘n alleen-ooitjie wat smekend na ons kyk. Sy hardloop ‘n paar tree. Steek vas. Kyk weer vir ons. En blêr hard en intens. Só hou dit ‘n hele ruk aan. Maar ons is magteloos. Vir eers is dit teen die reëls om ‘n mede-eienaar se grond sonder sy toestemming te betree. Ten tweede kan haar vreemde optrede dalk ‘n waarskuwing wees. Sê nou ‘n luiperd skuil in die lang gras? Of ‘n slang? By ‘n veldwagter hoor ons ‘n derde moontlikheid. Dit gebeur, sê hy, dat ‘n ingedagte bokkie van die trop afdwaal. As sy ontdek sy is stoksiel-alleen, “huil” sy haar hart uit. Die ongeluk is dat die geblêr dikwels die attensies van ‘n honger luiperd uitlok …
Sabiepark het maar minnerig bosbokkies. Ongelukkig, want hulle is ware sierade van die bos. Maar moor die onverdraagsame rammetjies met die spiraalvormige skerp horings mekaar nie self uit nie (Lees ook die hoofstuk Hoekie van die Hemel op bl.15), maai die luiperd en hiënas onder hulle.
By die rivier en langs die Amazinispruit sien ‘n mens die skaam, kastaiingbruin alleenloperbokkies met die kenmerkende wit “halsband”, wit strepies en wit kolletjies op hul slanke lywe meermale koes-koes tussen die takke van die oewerbos deur loop, altyd waaksaam. Op ons werf sien ons egter selde een. As een van tyd tot tyd wel sy opwagting maak -- veral ‘n sierlike rammetjie -- is dit altyd ‘n okkasie. Almal word geroep. Kameras word gegryp.
‘n Verruklike bosbok-toneeltjie op die ou wandelpad bly my by. ‘n Kalfie wat ‘n pronkerige ram liefderik staan en lek en lek. Seker daardie dag Vadersdag gewees in die diereryk!


