Soos 'n wildsbok
Een aand om ‘n kampvuur is my storie oor die onwaarskynlike pitjiediewe by Tarlehoet se voëlbak, soos voorheen ook al, deur sommige met kwalik verborge skeptisisme begroet. Een van die teenwoordige vroue – ek onthou haar naam is Magdaleen – snel my toe te hulp met ‘n storie oor ‘n potjie wat sy met ‘n koedoe geloop het. Sy wou brood bak, en sit toe haar deeg in twee potte buite op ‘n warm plekkie neer om te rys. Later hoor sy die geklingel van ‘n deksel wat val. By die agterdeur betrap sy ‘n koedoe met wit slierte deeg aan sy snoet. Die vindingryke “broodwinner” het mooitjies die deksel afgestamp om by die watertand-lekkerny uit te kom.
Koedoes akkordeer uitstekend in Sabiepark. Waterbokke akkordeer glad nie. Sedert Julie 1998 is al 18 aangekoop. Die leste een is dood, opgevreet of oor die grensdraad Wildtuin toe. ‘n Yslike vragmotor bring op ‘n dag van Gravelotte af weer ‘n klompie plaasvervangers. Ek word saam genooi boma toe om vir die nuusbrief foto’s te neem. Maar eers moet ek op die voertuig se dak kom. Daardie steil klim is geen geringe operasie nie vir iemand wat met die stygende jare heelwat gewigtiger en minder rats geword het. ‘n Skatlike krulkoppie groet my nie om dowe neute nie gereeld by die piekniekplek met ‘n vrolike “hallo, oom Vettie Boems”!
Steun en kreun (en met ‘n kragwoordjie of twee tussenin) kom ek wel bo en korrel kortasem daar van die hoë dak af met my Canon na die hek waar die aanwinste moet ingaan. Met die eerste vyf gaan die vrylating vinnig -- te vinnig vir die betrokke fotograaf, altans. Toe die sypaneel oopskuif, vloog hulle vervaard uit. Dit is vier jong koeie en ‘n bulkalfie. Die jongste is nog maar ‘n druppeltjie. So noem Tokkie ‘n klein waterbokkie. Met die groot bul -- ‘n stewige vier jaar oud -- is dit 'n ander storie. Hy weier volstrek om uit die veilige kokon van die vragmotor te kom. 'n Skokstok, 'n lang tou wat vinnig gaan haal is, 'n swaaiende geel goiingsak -- alle moontlike word probeer. Hy gaffel net verwoed met sy skerp horings, en gaan lê elke keer moedswillig om sy ontsetting te fnuik. Seker 'n uur of langer gaan dit so aan. Ek bly maar korrel met die kamera. Toe skielik, sonder waarskuwing, laat hy vat. Woerts uit by die oop sypaneel en binne die boma. Van Deventer is hopeloos te laat. Al wat ek afgeneem kry, is wind.
‘n Geslaagder vertoning as amptelike fotograaf vir die nuusbrief volg kort daarna. David Zeller kom roep my by my rekenaar weg. "Kom saam, ons gaan drie wildebeeste vir die Mövenpick vang." (Mövenpick was in daardie stadium die naam van die karaktervolle boshotel teenaan die Sabierivier by die Krugerhek. Deesdae is dit bekend as die Protea-hotel Krugerhek.) Die hotel het ‘n eensame bul wat na geselskap smag. Onderstepoort is ook op die toneel met 'n kombi vol studente. Dr. Dewald Keet van Skukuza lei die prosessie in sy Land Rover. Dan volg ek met my Honda CR-V. Agter kom 'n bakkie met 'n sleepwa.
‘n Dragtige koei word in die omgewing van Rooibos 'n verdowingspyl in die boud toegedien. Toe gaan die spul aan die hardloop asof ‘n eskader blindevlieë op hulle losgelaat is. Doelloos in die rondte soos net ‘n verwarde klomp blouwildebeeste kan. Die bevange bokke mik dié kant toe. Dan daardie kant toe. Dan steek hulle verdwaas vas asof hulle mekaar wil vra: “Wat hôl ons dan so?” Nee, bedaardheid is werklik nie deel van hul geaardheid nie!
Die doofpyl werk heelwat stadiger as wat ek verwag het. Eindelik begin die present-wildebees se bene darem swik. Sy word aan die horings beetgekry en laat haar gedweë na die sleepwa begelei. Oor haar oë kry sy 'n wit handdoek. Dit moet die pupille teen die stof beskerm, omdat sy onder verdowing nie self haar oë kan knip nie. Dis ‘n aantasting van haar waardigheid wat jou met empatie vul. Maar sy lyk darem ook baie komieklik met die wit handdoek om die kop!
Die pasiënt kry allerlei inspuitings. Haar hele lyf word gedurig natgegooi om die temperatuur te beheer. Dan vertrek die prosessie na die hotel. Saam met die wildebees op die sleepwa ry twee Onderstepoorters. Dit tref hoe sorgsaam die diereartse oor hul pasiënt waak. Die pols word gedurig geneem. By Mövenpick word 'n oopte uitgesoek. Die wildebees word versigtig van die sleepwa gelig en ‘n teendosis word toegedien. Sy kom dronkerig orent en kies koers, al hoe stewiger op haar vier pote, om haar nuwe blyplek te verken. Toe sy so wegstap, neem ek ‘n laaste foto.
Vervolg ...


