Soos 'n wildsbok
‘n Koedoe laat hom in gewone omstandighede nie maklik stuit as hy ‘n ding in die kop kry nie. Wat nog as daar liefde in die lug is! Wanneer ‘n heining boonop ontbreek, soos Sabiepark s’n na die vloed, verg dit nie juis verbeelding om allerhande gevare op te tower nie. Soos een middag toe twee fiere bulle aan die oorkant van die rivier ons laat ys. Die duiwel maak ons dadelik wys dis Sabiepark-sierade daardie wat die wye wêreld in is. Waarom anders sou ‘n troppie (hoofsaaklik jong koeitjies) dan so trippe-trappe aan ons kant van die rivier saamdrom soos trippelende meisies wat brand om die vreemde te ontdek?
Hoe lank dit gaan wees voordat die trekpleister van die verbode vrugte oorkant
die rivier te sterk word, wonder ons besorg. Ek voel só vaderlik besitlik dat ek
net wil gaan keer. Hopelik het hul mammas darem gewaarsku, en het hulle
geluister met hul groot pienk ore toe die gevare van die lewe aan hulle
uitgespel is. Na dae van huiwer-huiwer en asem ophou aan ons kant draai hulle
toe darem terug na die veiliger Sabiepark. Koedoes hét dus ore. Maar sjoe!
Kort daarna sit Herman en Rina le Roux op ‘n Sondagmiddag saam met ons op die agterstoep en koerant lees. Ons hoor 'n reeks harde klapgeluide en spring op. Twintig, dertig meter van ons af meet twee koedoebulle kragte. Met hul koppe laag teen die grond stamp en stoot hulle mekaar heen-en-weer dat die stof opdwarrel. Later verdwyn hulle in die bos. Die volgende dag dwaal die groot bul, ‘n imposante figuur met trofeehorings, alleen rond. Ons kry hom innig jammer. Maar die natuur, soos die lewe, het ook maar sy wenners en verloorders... Een goeie ding weet ons toe darem weens die bakleiery. Ons koedoebulle is nog veilig op eie bodem. Die twee aan die oorkant was nie Sabiepark-emigrante nie. Wat ‘n verligting!
Wanneer koedoes veg, is ‘n konstante gevaar dat hul horings verstrengel kan raak. Watter ellende dit afgee, wys Hennie Potgieter se bekende koedoebeeld van die “oorwonne oorwinnaar” in Skukuza -- die ene skuins voor die Parkwinkel wat so blink van al die duisende Wildtuinbesoekers wat dit deur die jare vir ‘n foto-soewenier bestyg het. Hierdie Sondagmiddag in Sabiepark tref so ‘n ramp gelukkig nie. Maar daardie hulpelose verstrengeling is nie deur die beeldhouer versin nie. Dit kom wel voor -- en het ook al in Sabiepark gebeur. In die insident moes die sterker bok uiteindelik sy swakker teenstander se nek breek om homself los te wikkel.
In nog ‘n koedoekrisis in Sabiepark is ‘n bul by die piekniekplek deur ‘n krokodil gegryp en die water ingesleur. Die paniekerige bok het ure lank heldhaftig bly spook. Later het ‘n tweede krokodil sy makker kom help. So saam-saam het die gedugte tweemanskap die dapper stryder uitgeput en uiteindelik gedompel.
‘n Gereelde ergernis by Tarlehoet is om die huisies met die voëlsaad in die swartklapperboom by die watergat telkens op die grond te moet optel. Draai net jou rug. Dan kan jy weet ‘n bobbejaan – altyd ‘n gerieflike sondebok -- of iets ruk ‘n huisie af. Dikwels is die tou gebreek. Op ‘n dag kondig Griet aan die skuldige is nie “ ‘n bobbejaan of iets” nie. Sy het met haar “eige oge” gesien hoe kom ‘n koedoe-ooitjie die pitjies gaps. Dit klink ‘n bietjie vergesog, al het ‘n koedoe-ooi inderdaad al die gerief van die voëlbad as ‘n bron van gereelde skoon water ontdek. ‘n Koedoe is mos nie dommer as sebras, blouwildebeeste, duikers en vlakvarke nie.
In die kerk sing ons die Sondag van ‘n wildsbok wat smag na water. Ek stamp aan Tokkie en sy snap wat ek bedoel. Wildsbokke behoort na water te smag. Dis in hul aard. Maar tog nie na pitjies nie. Nietemin, wawyd-wakker waak ons daarna op die stoep vir die volgende koedoebesoek. Dié kom net ‘n paar oggende later. ‘n Troppie drentel peusel-peusel oor ons werf ooswaarts, piekniekplek se kant toe. Veral een jong koei draal 'n bietjie. Soek sy dalk die voëlbak met die pitjies wat in die nag op die grond beland het?
Tokkie prakseer gou ‘n nuwe tou uit ‘n ou velskoen se veter. Toe die bak weer hang, is daar dadelik sysies: bloues en rooibekke, maar geen koedoe nie. Ons bly egter op die uitkyk vir daardie koedoe-koei wat na bewering so ‘n bok is vir pitjies. Die kamera byderhand. Te lank laat sy ons nie wag nie. Skaars 24 uur later stap sy doelgerig pitjies se kant toe. Sy gaan staan doodstil tussen die bome. Soos ‘n standbeeld. Totdat sy gerus is dat haar liggrys vel genoeg kamoeflering verskaf, klaarblyklik onbewus van hoe die kenmerkende blerts “oorlogsverf” oor die neus -- soos dié van ‘n Rooi Indiaan, sê Tokkie -- haar teenwoordigheid telegrafeer. Dan kom die lang tong uit. Met twee vinnige hale vee sy die kosbak se bodem skoon.
Sommer so lê-lê van die swembadstoel af neem ek net foto’s. Me. Smulpaap konsentreer so op die smaaklike versnapering dat sy nie eens die klik-klik agterkom nie. Daarna rond sy haar etetjie af met ‘n paar slukkies vars water, en slenter ongeërgd weg om haar by die res van die trop aan te sluit. Nou weet ons -- en het ons ook die getuienis om ongelowige Thomasse hul woorde te laat sluk.
Tot ons verbasing bly die pitjies taamlik lank daardie opportunistiese koei se eksklusiewe geheim. Toe kom Chris van Rensburg se “voëlrestaurant” wat dit moontlik maak vir ‘n spul voëls -- en ook vir twee koedoes -- om saam “aan te sit”. Die “restaurant” word gou 'n bykomende attraksie, al is 'n koedoetong 'n bietjie groot vir die klein spasietjies waarin die saadjies lê. Maar moet ‘n lekkerbekkige koedoe se vindingrykheid nie onderskat nie! Een dame bemeester gou die kuns om haar tong feitlik dubbel te vou. Eureka, dit glip in! Weldra raak dit twee keer per dag tyd vir verversings.
Elke oggend en elke middag kom die koedoes nou aangesuiker of botter nie in hul mond kan smelt nie. Dan staan hulle nader kosbakke toe. Die tonge kom uit, plat gevou en die saadjies word gretig opgeslurp. Selfs die ou patriarg met sy spoghorings skuif later vir 'n wyle sy waardigheid opsy en staan geduldig in die ry vir ‘n mondvol pitjies. Ons op die stoep word fyn dopgehou en die bakore staan op aandag vir enige verdagte geluid. Die smullende bokke is egter nie uitermate ongerus nie. Net as ek die kamera optel, staan hulle aanvanklik ‘n entjie tru. Later ook nie eintlik meer nie. Van my skuiling agter die stutpaal van die stoep kan ek maar kiek soos ek wil. Hulle is so tuis, kalm en gemaklik as kan kom.
Vervolg ...


