Soos 'n wildsbok

Telkens as ‘n koedoebul op Tarlehoet se werf kom, is ek opnuut van harte dankbaar dat ek net met my kamera jag. Om ‘n koeël te jaag deur daardie edele kop met die kartelhorings wat so statig op die vorstelike nek sit, sou ek nooit oor my hart kry nie.

Maar wag nou, wag nou, liefhebbers van die jagsport. Moenie skiet nie, manne! Ek soek regtig nie baklei nie. Trouens, dat beheerde jag sy plek in die bewaring van ons natuurerfenis het, gee ek geredelik toe. Vir verantwoordelike jagters gun ek hul genot. Ek konstateer maar net die feit dat ek, Jakob Hendrik van Deventer, om die dood nie ‘n doodskoot op mens of dier sou kon vuur nie. Agter die ruwe uiterlike en spreekwoordelike joernalistieke sinisme skuil eenvoudig ‘n te sagte, sentimentele hart.

Ondanks hierdie sensitiwiteit van Tarlehoet se baas hang teen die oostelike muur van die woonkamer ‘n oorheersende koedoekop. Die spogtrofee van ‘n knap jagter. Hoe dan? Laat ek verduidelik. Vir eers is dit ‘n geskenk. Maar wel een wat met oop arms aanvaar is. En dit nie net oor die bydrae wat so ‘n opgestopte kop tot die huis se boskarakter lewer nie. Nee, dis ‘n bok met ‘n storie daardie. Een wat ek graag oorvertel.

Die skenker en die man wat die bul geskiet het, is my swaer Neels Nothnagel van die Rand, ‘n jagter van formaat. Elke keer as daardie skut duisend die sneller trek, val sy bok. Só was dit altyd. Kopskote taks om taks. Ook hierdie keer. Toe die groot lyf die aarde tref, was die koedoebul morsdood. Toe Neels by hom kniel, was hy trots op ‘n knap skoot. Die groot blink trane wat in die starende oë opwel en stadig oor die bul se wange biggel, is egter ook vir die ervare jagter ‘n hartseergesig. Meer as ooit tevore word hy daardeur ontroer. Toe oormeester ‘n weekheid hom. Sy skouers begin ruk. Hy huil saam oor ‘n verspilde lewe. Die eerste keer.

Net net daar in die veld, alleen langs Tarlehoet se koedoe, neem Neels toe ‘n harde besluit. Daardie koedoe was sy laaste. Tot siens, jagveld. Vir altyd. Hy wat Neels Nothnagel is, sou nooit weer ‘n geweer optel nie. Hy het ook nie.

Dat juis daardie met emosie deurdrenkte trofee in ‘n nie-jagter se huis hang, is gepas, meen ek. Dit bevat ‘n element van wat die Engelse poetic justic noem. Maar hierdie adellikste van die wildsbokke wat in Sabiepark te vinde is, verdien ook om historiese redes ‘n ereplek in die Van Deventer-annale. Daarvoor draai ons die geskiedenis terug tot 1998…

Daardie jaar stap ons die eerste keer die wandelpad van begin tot einde. Op die wandeling, met ons harte wat doef-doef in ons borskaste, hoor ons na sowat 500 meter ‘n geritsel. Die volgende oomblik staan ’n koedoebul voor ons -- die toonbeeld van perfeksie in die watte-sag laatmiddag-lig. Roerloos. Die oë vasgenael. Net die groot radarore wikkel van kant tot kant om die oorsprong van die vreemde voetval te bepaal. Ons eerste kennismaking met die wonders van die wandelpad.

Die volgende toneel is vier jaar later, op Saterdag 13 Julie 2002. Dit is 28 maande na die verwoestende vloed van Februarie 2000. Die nuwe wandelpad word uiteindelik oopgestel, en ek en Tokkie is van die eerste “ontdekkingsreisigers”. Ons stap amper te bang om rondom ons te kyk. Aanvanklik sien ons ook niks anders as die verwoesting nie. Dit is erg. Ontnugterend erg. Die oorblyfsels van bome wat deur die vloedgeweld vermink is, lyk soos ‘n slagveld. Net 'n entjie gestap, hoor ons ‘n stampgeluid. Skielik is daar beweging in die bos. Toe spring ‘n koedoe uit. Sommer teenaan die paadjie, net waar dit ‘n Kaapse draai maak rivier toe. Weer ‘n bul met enorme horings. Toe dreun die aarde. En al hoe kleiner en kleiner word die wit van sy stertkwas wat reëlmatig op en af wip. Die “gatjieponner” (gat-japonner) van die diereryk. So noem ‘n vriend hom nie verniet nie.

Koedoes figureer in uiteenlopende Van Deventer-herinnerings. Op een foto in ‘n Sabiepark-album is ‘n foto van ‘n koedoepaartjie. Hul natuurlike skugterheid het hulle ‘n rukkie oorboord gegooi. Vlakvoor ons, teenaan die straat, het die bul se begeertes die oorhand oor sy normale waaksaamheid gekry. Agt maande later sien ons toe ‘n kalfie nie ver van daardie kolletjie af nie aggresief aan sy ma staan en drink. Stamperig soos ‘n hanslam. Dalk die enetjie wat in daardie bestyging verwek is? Ons wou dit graag glo. ‘n Koedoekoei dra sowat 210 dae. Nou was dit agt, nege maande later -- genoeg omstandigheidsgetuienis vir vrugbare verbeeldings om romanties op voort te borduur.

Vervolg ...