Sonaanbidders

Later die dag gewaar ek en Tokkie 'n donker lyf oorkant die rivier van die uitkykplatform af. Tokkie reken eers dis 'n renoster. Toe sien ons dis 'n eensame seekoei. Hy stap moeisaam 'n ver ent met die S3 ooswaarts en swenk toe in rivier se kant toe waar hy agter bosse wegraak. Deur die verkyker sien ons die rou wonde aan die kop en skof. Min twyfel dat hy in die vorige aand se geveg die verloorder was. Gelukkig darem vir ‘n seekoei met ‘n eina: daardie spesiale sonroom van hom is terselfdertyd ‘n wondersalf. Selfs in die vuilste water word selde smetterige wonde ontwikkel.

Daardie nag is die kabaal eens so erg en langdurig. Die bos word oorverdowend op horings geneem. Dit hou eenvoudig nie op nie. Lank voor sonop is ek en Tokkie in ons “Bosbus” in Wildevylaan op en af op soek na die oorsprong van die verskriklike gegrom en gesnork. Al het ons 24 uur gelede met die rumoerige klanke van ‘n seekoeigeveg kennis gemaak, was ons tog onseker. Was dit nie hierdie keer dalk tog leeus nie? Maar leeus was dit nie; wel weer seekoeie. Só het ons dit op Sipho se gesag. Die onttroonde leier het vermoedelik geweier om te aanvaar dat hy deur ‘n jonger uitdager oorwin, verneder en uitgeskop is. Net ‘n dag lank het hy sy wonde gelek. Toe dwing sy trots hom terug om die stryd om sy eer en belange te hervat. Tokkie vermoed die tweede was 'n geveg tot die dood. Van die geluide was vir haar “soos die doodskrete van 'n dier wat pynlik sy laaste asem uitblaas”. Die verslane alleenloper het ons daarna nie weer gesien nie.

Onder hul klipharde uiterlike berg seekoeie blykbaar ‘n sagte plek vir kleiner diere. Die vreemde vriendskap tussen ‘n seekoei, Betsie, en ‘n energieke boerboel, Tiger, by Lawaaidraai tussen Marble Hall en Roedtan het jare gelede die koerante gehaal. Betsie en Tiger het elke dag mekaar se geselskap opgesoek. Hulle het opgeruimd in die Olifantsrivier geswem en geplas. Ook allerlei bokkies maak die oorgewig ou grotes se harte blykbaar week. Veral as die kleintjies in nood verkeer. In sulke oomblikke openbaar die seekoei ‘n doodsveragtende beskermingsdrang.

Só ontstaan een oggend ‘n drama’tjie wat die piekniekplek jare gelede in rep en roer had. Sabieparkers hou die oggend 'n krokodil dop wat roerloos in die vlak water skuil. Tipies Lalele. 'n Rooibok kom drink. Maar die oomblik toe hy sy nek buig, skraap die krokodil hom. Hy spartel vergeefs. Die prooi word onder die water ingesleur. Dadelik verskyn 'n tweede krokodil op die toneel en kry 'n been beet. Die twee reptiele spook om die buit dat die skuim spat. Op daardie kritieke oomblik skommel 'n jong seekoei nader. Sy stamp-stamp die krokodille met haar groot kop om die impala te bevry. Nog ses seekoeie dop soos enorme swart proppe bo die water uit. Hulle sak op die krokodille toe en probeer hulle wegstoot. Maar die twee klou op lewe en dood. Na ‘n gespook verdwyn die jagters met die bokkie agter die riete. Wat die uiteinde was, weet niemand.

Vir sensitiewe wildkykers was dit dalk ook maar goed só. Want die natuur kan maar wreed wees. Dit besef André Visagie opnuut ‘n keer toe twee ander krokodille by dieselfde piekniekplek oor ‘n rooibokkie toutrek. Voor haar oë kry een die bokkie se kop in sy massiewe kake beet, en die tweede sy agterkwart. Hulle ruk en pluk. Die twee slaan hul vlymskerp draketande in die bokkie of hul lewe daarvan afhang. Asof dit so afgespreek is, lig albei die volgende oomblik hul voorlywe heeltemal uit die water. Hulle staan amper kiertsregop op hul sterte. Toe gee hulle die karkas een geweldige draai. Die bokkie knak in die middel en die vel skeur oop soos ‘n ou stuk lap. Die ontstelde André sien hoe die lyf in twee stukke breek. Een aanvaller verdwyn met sy helfte in die water. Die ander verdwyn met syne in die riete. Toe’s dit stil. Die bloedstollende einde laat haar nou nog gril, sê André.

Oor ‘n bokkie en ‘n krokodil het ek en Tokkie ‘n eie storie. ‘n Moedswillige Chris van Rensburg hou nie op om Tokkie daaroor te terg nie. "Vertel net weer van die leeus, en die luiperd, en die wildehonde en die hiënas en die olifante en die seekoeie en die bokkies en die krokodil..." Dis natuurlik ‘n growwe oordrywing. Wildehonde kom hoegenaamd nie in ons storie voor nie; ook nie hiënas of olifante of seekoeie nie. Leeus was daar wel. En 'n luiperd. En bokkies. En apies. En 'n krokodil.

Die toneel is ‘n boomryke suipplek in die Sabierivier op die Salitjepad tussen Skukuza en Onder-Sabie in die Krugerpark. Die tyd: winter 1973. Ons sit ure daar vergeefs en tuur na waar skerpkykers die stert van 'n luiperd op 'n riffie sien roer het. Die dag daarna lok die heerlike koeltebome, ‘n lastige kleintjie in die motor en die vooruitsig om ons eerste luiperd te sien ons terug. Saam met die insittendes van so vier of vyf ander motors hou ons die apies se manewales dop. Lank gebeur niks. Toe sien ons ‘n troppie rooibokkies kom af water toe. Stadig en behoedsaam. Die apies trek skielik los. Hulle kwetter histeries dat hoor en sien vergaan. 'n Koor van diepe ontsteltenis. Die bokkies skrik en laat spaander. "Kyk daar," roep Tokkie, en beduie na die luiperd wat van regs af storm. "Kyk daar," roep ek feitlik gelyktydig, en beduie na die leeus wat van links af agter die hoërige grondwal uitgedraf kom.

Die verskrikte bokkies vat kortpad. Een raap hom op en spring bo-oor die motor langs ons blou Fiat se enjinkap. Nog een skop 'n duik in 'n deur. Op hul hakke kom die leeus. 'n Onverstandige waaghals wat dit op sy motor se dak gewaag het met sy rolprentkamera, sit versteend toe een van die roofdiere rakelings by hom verbyflits. Terwyl ons ons nekke rek om alles in te neem, hoor ons net water spat. Ons swaai om. In die rivier het ‘n krokodil ‘n bokkie in 'n doodsgreep. Sekondes later -- dis die reine waarheid! -- kom die leeus op hul spoor terug. Skurend by die motors verby, met die verskrikte fotograaf steeds op sy dak.

Na 'n paar tellings was die krokodil weg met sy maal. Die leeus onsigbaar agter die wal. Die luiperd nêrens te sien nie. En die apies doodstil. Asof niks gebeur het nie.

Krokodille kan ook avontuurlik raak en nuwe wêrelde gaan verken. Een se ontdekkingsreis het George Lourens van Sabiepark ‘n taamlike skok besorg. Lourens kon sy oë nie glo nie toe hy onverwags twee skurwe oogbanke bo die water in sy suiping sien uitsteek. ‘n Eertydse eienaar, oor wie se identiteit onsekerheid bestaan, het in die beginjare van die park nog groter geskrik. Toe hy ‘n venster van sy huis oopmaak, hoor hy ‘n klapgeluid. Dit was nie die venster nie, maar ‘n Leviatan van vier meter wat sy kake sentimeters van sy gesig toeklap.

So ‘n kortafstand-ervaring het ek darem nog nooit met een van hierdie swaar gepantserde waterbewoners gehad nie. Aan die een kant is dit rede tot dankbaarheid. Aan die ander kant bring dit mee dat ek ‘n krokodil se gelaatstrekke nie eerstehands geken het nie. ‘n Gevolg van die onbekendheid was dat ek oor die oorsprong van die woord “krokodiltrane” lank in die duister was. Eers onlangs het die herkoms deur my kragtigste verkyker tot my deurgedring. Die donker “traan”-merke onder die oë van die krokodil in my visier was onmiskenbaar.

Soos altyd as ek iets nuut in die natuur raakloop, is ek reguit na Tarlehoet se boekrak wat nogal in ‘n redelike tempo uitbrei. ‘n Krokodil se traankliere skei baie vloeistof af terwyl hy eet, lees ek toe. Ek buig graag voor daardie kenner se meerdere kennis. Maar ek wil tog graag glo dat iets in die verklaring van “krokodiltrane” steek wat Photius, die patriarg van Konstantinopel, in die 9de eeu v.C. gegee het. Volgens hom sou die krokodil ‘n geluid maak soos ‘n kind wat huil. Só lok hy sy slagoffers. Sulke geveinsdheid, huigelary en hartelose agterbaksheid sou ek nogal van die sluwe krokodil verwag.