Sonaanbidders

Nadat die grensheining in 2000 weggesleur is, het daardie kontrei se seekoeie nuwe weivelde in Sabiepark ontdek. Nagtelike verkenningstogte het hulle gevoer tot by die kantoorkompleks aan die noordekant teenaan die hoofpad na die Krugerhek. Om sulke wye draaie agter kos aan te loop, lyk dalk na onnodige moeite. Dit is egter heel verstaanbaar as ‘n seekoei se eetpatroon en formidabele behoeftes in aanmerking geneem word. ‘n Vrag gras van 130 kilogram verdwyn oornag in ‘n seekoei se keel.

'n Eie ontdekking, met die komplimente van Johan en Mariza, was die "sterrewag" op ons motorpad. Toe die twee ons ‘n aand na ete daarheen nooi, weet ons eers nie waarvan hulle praat nie. Ons kom gou agter al wat nodig is, is om ‘n plastiekstoel oor die skouer te gooi en halfpad met die motorpad af te slenter. Op ‘n kol maak die bome 'n oopte. Van daardie plek kan die Bosveldse uitspansel onbelemmerd bewonder word. Een ontdekking lei tot 'n ander. Nie 'n meter van daardie strategiese uitkykpunt af nie gewaar Tokkie die volgende oggend fyn vars mis teen die lae bossies. Seekoei! ‘n Avontuurlike rondloper het jou werklik hier vlak by Tarlehoet se stoep kom gras soek. Net voor of net na ons “uitstappie”. Ons het hom klaarblyklik net-net misgeloop. Sjoe!

Selfs ‘n oningewyde herken ‘n seekoei se mis maklik weens die tekstuur wat kwalik verraai watter tamaaie “fabriek” dit produseer. Geen ander dier waaier ook sy uitwerpsel oor so ‘n wye gebied nie. Nie sonder rede nie, volgens ‘n mooi boslegende wat ons by Annatjie Strydom van Rustig gehoor het. Sy vertel: “Koning Leeu trap seekoei uit omdat hy die heeldag in die water lê. ‘Jy vreet al ons visse op!’ ‘Nee, Koning Leeu,’ antwoord Seekoei bedeesd , ‘ek eet nie vis nie. Ek lê maar so in die water om my vel teen die son te beskerm. As ek wil eet, kom ek uit. My kos is plante en gras.’ Koning Leeu bly egter skepties. ‘Dit wil ek sien’ bulder hy. ‘Jy sal my net op een manier kan oortuig. Sê jou wat, as jy buite die water kom mis, moet jy jou stert swaai. Die mis moet oop agter jou val. So sal ek kan sien of daar grate in is of nie’. Seekoei is ‘n gehoorsame onderdaan. Soms, net soms raak hy egter ‘n bietjie lui. As Koning Leeu nie naby is nie, sal hy sommer gou-gou in die water sy besigheid doen. Die visse moet ook eet. En die waterplante groei lekker van die natuurlike bemesting.”

Nou-ja, Seekoei het nie vir Koning Leeu gejok oor sy voorliefde vir die water nie. Dit is inderdaad, soos hy verduidelik het, vir beskerming. Vir tye buite die water produseer sy liggaam egter ‘n eie ingeboude sonroom. ‘n Taai, dik, rooierige vloeistof word deur die sweetgaatjies afgeskei, wat mense al van die antieke Griekse tyd laat glo dat die rivierperd (soos die Grieke hom gedoop het) letterlik bloed sweet. In werklikheid bevat die stof egter velpigmente wat die dik haarlose velle -- dit maak ‘n uitstekende seekoeisambok! -- teen ultravioletstrale van die son beskerm. Ja, die ysterkoei MOET sweet! En sonaanbidders van die tweebeen-tipe kan ook maar die ore spits. “Seekoeisweet” is ‘n natuurlike sonroom met antibiotiese eienskappe wat ook vir menslike gebruik uiters geskik is, het wetenskaplikes in Japan ontdek. Die slegte nuus … dit stink!

Seekoeie bedreig nie net mense nie. Hulle is ook vernietigende vegters onder mekaar. Word die dominante bul in ‘n trop uitgedaag, veg hy vir sy status -- en die erotiese byvoordele wat dit behels! -- soos ‘n besetene. So ‘n skermutseling word ‘n worstelstryd wat met ‘n bloedstollende lawaai gepaard gaan. Die klank van die “trombone” trek in ‘n gevegsituasie so ver dat dit klink of reuse-klankversterkers dit uitdra.

Van die hewigste gevegte vind op die grond plaas. Soms gryp die vegtendes mekaar egter in die water, net onder die oppervlak. In water is ‘n seekoei in elk geval só tuis soos die spreekwoordelike vis. Swem is vir hom tweede natuur. Boonop kan hy op die rivierbedding vinnig oor die weg kom. Hy hardloop onder water so vinnig soos ‘n mens kan loop. En hy’t ’n lang asem. ‘n Seekoei kan tot ses minute onder die water bly. En hou maar dop vir daardie allemintige “gape” waarin die bekke tot 120 sentimeter gerek kan word. Dikwels toon dit aggressie. Die vegtendes wys vir mekaar hul massiewe tande as ‘n vorm van intimidasie. En hul byt is erger as hul gaap. As die tande toeklap, stroom die bloed.

Met die onaardse lawaai wat tydens gevegte opklink -- veldkenners glo dit is die ergste denkbare lawaai in die bos -- kan ‘n mens jou maklik misgis. Een skemeraand het ek en Tokkie die wêreld vol SMS'e gestuur oor die verskriklike “leeugebrul” aan ons poorte. Ek dag die “leeus” hou ‘n vleisfees op Tarlehoet se stoep. Die volgende oggend hoor ons by Sipho, opsigter by die piekniekplek, dit was glad nie leeus nie. ‘n Seekoeigeveg het vlakvoor hom op ‘n sandbank losgebars. Na ‘n gewelddadige onderonsie het die verloorder weggehardloop.

Vervolg ...