Sonaanbidders

Soos sonaanbidders op ‘n luilekker somervakansie lê hulle by die water. Eenkant die bonkige seekoeie soos tampans aan ‘n hoender met hul donker, plomp lywe op potsierlike stomp beentjies. ‘n Entjie verder die plat krokodille in eweredige skuins rye met hul lang, skerp snoete en growwe skubbe, soos brandhout met ‘n ruwe bas.

Die ou seekoei lyk ‘n lompe lummel. Sy enigste aktiwiteite is skynbaar ‘n periodieke wyebek-gaap en ‘n steungeluid diep uit die maag, soos ‘n tromboon wat voor ‘n simfoniekonsert luidrugtig ingestel word. Die krokodil lê op sy beurt in ‘n diep slaap en bak sy koue reptielbloed in die son warm. Jy wonder: sal dié dooilike ding dit ooit agterkom al word ‘n potensiële maaltyd hom op ‘n spreekwoordelike skinkbord aangebied? Skyn bedrieg egter. Dit weet almal wat hierdie twee dodelike vegters van die waterkuile al in aksie gesien het. Des te meer weet diegene wat onverskillig, roekeloos, dom of vermetel genoeg was om aan die verkeerde kant van dié koelbloedige doodmakers te kom – en gelukkig was om dit te oorleef.

Die twee diere word in die Bybel treffend beskryf. In die bos lees ek graag Job 40 en 41. Daarin kapittel die Here vir Job omdat hy so ‘n klakous is. Om Job te laat besef hoe beperk sy kennis van die natuur en van God se almag is, neem hy hom as’ t ware oor sekere kernwaarhede van die diereryk onder kruisverhoor. Oor die seekoei vra die Here onder meer vir Job: “Wie kan hom van voor af pak, wie kan ‘n vangtou aan sy neus sit?” (Job 40: 19) En oor die krokodil: “Wie kan sy bek oopmaak? Wie kan met ‘n toom naby sy tande kom?” (Job 41: 4) Job moet oplaas sy nietigheid bely voor God wat sulke ontsagwekkende skepsele gemaak het.

Ontsagwekkend inderdaad. Ook stof tot nadenke vir almal. Want wie sy Bybel by Job 40 oopslaan, sal weet dat slegs ‘n dwaas met ‘n seekoei sal sukkel. ‘n Verstandige mens sal uiters waaksaam wees om dit nie tussen ‘n seekoei en die water of tussen ‘n ma en haar kalf te waag nie. Die hippopotami amphibius (hippo is tog ‘n waardiger naam as die onsinnige seekoei of, nog erger, seekoeibul!) haat dit immers om verras te word terwyl hulle wei of klein hippopotamussies by hulle het.

Pas veral op vir ‘n ou bul of ‘n ou koei. Hul lonte is kort. 'n Verwoede seekoei sal 'n indringer sommer platloop en vermorsel, vermaan mense wat die veld ken. Eensklaps word die skynbare ou vetsak dan ‘n gespierde tenk van tussen 2 000 en 3 000 kilogram wat met ratsheid, spoed en kille berekendheid van die bedreiging korte mette kan maak. Seekoeie het nie onverdiend nie die reputasie dat hulle in Afrika meer mense as elke ander dier doodmaak.

En die krokodil? In ‘n oogwink vind in hierdie waterbewoner eweneens ‘n metamorfose plaas. Die skynbaar roerlose luiaard is skielik ‘n meedoënlose, wawyd wakker jagter. Sy kragtige stert kan die niksvermoedende prooi soos ‘n stuk staal tref. Of hy verskeur en verslind die ongelukkige slagoffer met sy wrede kake van die dood. (“Ver benee die palmietstele/ in die bloue duister wag Lalele/kwintessens van alles boos/die wreedheid self, meedoënloos…”*)

* Uit Eugène N. Marais se gedig Mabalêl. Lalele is ‘n groot en gevaarlike krokodil wat by ‘n drif of ‘n drinkplek op sy prooi lê en wag.

Die Sabierivier bied 'n natuurlike tuiste vir seekoeie sowel as krokodille. Tussen die waterplante en riete in die kuile maak die twee hul woning. Seekoeie sien en hoor Sabieparkers feitlik elke dag. Die massiewe stukke vleis hang rond in die water of wei op die rivieroewer. Krokodille kom minder voor, maar is tog taamlik gereeld deel van die landskap by die piekniekplek. Selfs die rysige koedoe moet gedurig op sy hoede wees.

Voor die Groot Vloed van 2002 was reg voor die piekniekplek ‘n seekoegat. Enige tyd van die dag kon seekoeie se spits oortjies bo die water waargeneem word. Ek onthou veral een Saterdagoggend. Tydens die jaarvergadering in ‘n markeetent langs die rivier het sewe “afgevaardigdes” in daardie gat raserig hul eie kworum gevorm. Die sewestuks het glimlagte uitgelok toe hulle met hul snorkgeluide op die regte oomblikke die besprekings punktueer. Hoor-hoor! Hoor-hoor!

Die ou wandelpad was gemerk met sementblokke waarop seekoeispore afgebeeld is. Die seekoeitema is nie om dowe neute gekies nie. Nou is daardie blokke diep-diep onder sand begrawe. Maar daaraan steur die seekoeie hulle min. Elke nag kom hulle nog op hul ou paaie wei of ‘n goeie nagrus geniet. Veral een oggendwandeling op die nuwe wandelpad sorg die wete vir beklemming. Want nooit tevore (en nie daarna) raak ons nog só intens bewus van seekoei-teenwoordigheid nie. Enorme spore wat heen en weer kriskras; vars mis op die tipiese seekoeipatroon gewaaier; platgetrapte gras en oopgekloofde “lanseerbasisse” langs die rivieroewer vertel die storie van die donker ure se doen en late. Ek en Tokkie wys mekaar die tekens en stem saam: daar was duidelik die vorige nag flukse aktiwiteit. Minstens vier of vyf seekoeie moet op die oewer oornag het. Was hulle almal al terug in die water? Is daar nie dalk kleintjies in die omtrek nie? Onuitgesproke vrae soos hierdie wek nogal ongemak terwyl ‘n prentjie van hul yslike snytande voor jou geestesoog opdoem.

Bekyk daardie tande deur ‘n verkyker. Dis indrukwekkend. Meer as ‘n halwe meter lank. Dis ‘n bron van top-ivoor vir onder meer menslike kunsgebit. In ‘n geveg is sy tande ook ‘n seekoei se gevaarlikste wapen. Hy byt ‘n boot (of ‘n mens!) tjoef-tjaf middeldeur. En vir hom weghardloop? Vergeet daarvan. So kolossaal soos hy is, kom die reusedier verrassend vinnig op spoed. Draai hy die krane oop, haal hy, kort stampertjies ten spyt, tot 30 kilometer per uur. En die wandelpad is juis daardie oggend bra nat en glad, kwalik ideaal vir ‘n vinnige aftog!

Periodieke onheilspellende gromgeluide laat ons telkens vassteek. Dan luister ons met gespitste ore. Tokkie kom toe met ‘n rare plan van aksie: as gevaar dreig, is dit elkeen vir homself. Gelukkig word die tog sonder teenspoed voltooi.’n Otter wat met ‘n vis in sy bek vinnig stroom-af swem, ‘n seekoei wat sy gramskap laat blyk oor die onnodige rusverstoring, en twee skarrelende likkewaantjies is die enigste tekens van lewe wat teëgekom word. Wat Tokkie se bedoeling was, bly haar geheim.

Vervolg ...