Slang in die gras (dak)
Een Januarie, in die hartjie van die somer, begin die maroelaboom langs die huis skielik blare afgooi. Dit is die boom wat moet koelte maak vir my motor, en ek volg sy agteruitgang misnoegd. Die tweede, derde oggend kom ek agter op die grond onder die boom -- en op my motor! -- lê nie net ‘n tapyt van dooie maroelablare nie. Tussen die blare is duisende dooie wurmpies. Ek bekyk die boom mooi. Toe ontdek ek die stam en elke moontlike tak is met ‘n blink sydraad toegespin -- ‘n reuse-taak . G’n wonder nie dat die dooie wurmpies so uit die lug reën. Hulle het hulle letterlik dood gewerk! Later kom ons agter daar is omtrent nie ‘n maroelaboom so ver die oog kan sien wat nie met ‘n silwer “sykous” oorgetrek is nie, ook oorkant die rivier aan die Wildtuinkant. Gelukkig was net een seisoen se vrugte daarmee heen. Die bome het herstel. My koelte is terug.
Nie alle wurms werk hulle dood nie. Party pleeg hara-kiri. Hulle gaan ‘n gewelddadige einde onder motorwiele tegemoet. Wat hul regte name is, weet ek nie. Ons noem hulle die “selfmoordwurms” of die “treinwurms” -- om klaarblyklike redes. Hulle is wollerige wurms wat by mekaar aanhaak soos treinwaens. Jy sien hulle eers in rosyntjiebosse saamkoek. Maar “’n ieder woelt hier om verandering”. Almal wil dan, klaarblyklik gelyktydig, skielik op ‘n ander plek kom as waar hulle is.
Sabieparkers leer om stadig en met oop oë te ry. Vir enigiets van onwrikbare miskruiers met rekord-bolle, tot hottentotsgotte wat, soos slagysters, roerloos op hul agterpote vir ‘n prooi sit en wag, tot suutjiestrap verkleurmannetjies met hul lang tonge hou ‘n mens graag stil. Wie is dan ook so harteloos om twee skilpadjies kort te knip nadat hulle met ‘n slakkegang tot in die middel van die pad gekom het om te paar? Of om ‘n oorblufte kolhaas met sy swart-wit donsiestert in die straal van jou motorligte te verblind?
Maar as daardie meters-lange “wurmtreine” die pad oorsteek, is die arme motorryer magteloos. Geen manier onder die son bestaan dat jy kan vermy om met jou swaar wiele oor hulle te ry nie. Dit word ‘n slagting. Soos die “salf van eie gom” van Totius se doringboompie besit die wurms gelukkig ook die een of ander potente lewensessens. Hulle hergroepeer eenvoudig, vorm nuwe skakels en sit die tog wie weet waarheen voort.
Goggas gee die meeste mense die ritteltit. Jy dink aan muskiete wat jou in een warm somernag nag van onderduimse aksie vol jeukende bytplekke op jou gesig en arms kan laat. Of aan miere wat ‘n koskas stormenderhand inneem. Of nuwejaarsbesies wat met hul eentonige skril geraas jou siel vertoorn. Gewone huisvlieë en brommers, vlooie en (veral) bosluise is ook allesbehalwe gewild. Laasgenoemde kan jou in die veld bespring dat jy lyk of jy masels onderlede het.
Goggas wat beslis nie ‘n bydrae lewer tot ‘n positiewer ingesteldheid jeens die sowat 80 000 soorte insekte wat ons in Suid-Afrika ken nie, is stinkbesies. Hierdie piepklein rakkers van sowat een sentimeter lank voer hul “chemiese oorlogvoering” in die somer dikwels tot in jou braaislaai of glasie wyn waaraan jy saans langs die kampvuur sit en teug. Na reën vermenigvuldig die klein ronde goggatjies in ‘n geweldige tempo. Dit is nogal ‘n skok as jy so aan jou slaai weglê en dan aan een van die “kraakvars”, nie-kulinêre bestanddele byt.
Stinkgoggas behoort tot ‘n spesie insek wat gekenmerk word deur sy vermoë om ‘n onaangename reuk van ‘n klier tussen sy bene te produseer. Hulle word aangetrek na lig, omdat hulle snags die maan en die sterre vir oriëntasie gebruik. As hulle ‘n kunsmatige lig teëkom, verander hulle gedurig hul posisie om hul oriëntasie te behou. Hul woning is onder blare en hulle leef op wortels se sap. Die grootste is ‘n delikatesse in dele van Zimbabwe. Dit bied maar min troos. Zimbabwe se standaarde is grotendeels maar vir die deursnee-Suid-Afrikaner ietwat benede peil!
Insekte is nie net lastige goeters nie. Die ander kant van die munt behels die kennismaking met ‘n wonderwêreld van leefstyle en gewoontes waaroor ‘n mens net jou hande kan saamslaan. Die bos is in vele opsigte ‘n klaskamer van die natuur waarin jy oor die loop van tyd merkwaardige kennis opdoen. Dit weet ons tog. Eers skrik jy vir die saad wat op pad piekniekplek toe allerlei energieke hop-hoppe uitvoer. Jy hoor dit is tambotiesaad. Dit spring darem nie op eie stoom nie, maar weens die insekkie binne-in. Jy sien twee hottentotsgotte verdag optree. Dan kom jy te wete dat ‘n hottentotsgotwyfie eers die mannetjie se kop moet afbyt voordat hulle kan paar. Eina! In die aand sit jy gefassineerd ‘n paar vuurvliegies en dophou. ‘n Veldwagter vertel dat die wyfie haar “flitskode” willekeurig kan verander om ‘n mannetjie nader te lok -- net om hom dan ewe koelbloedig op te vreet. Nog grusamer!
Sade wat spring, is klaar uiters koddig. Al gehoor van ‘n tak wat rondloop? Ek moet erken: ons was uit die veld geslaan toe ons so ‘n mobiele tak op ons agterstoep ontdek. Ons kyk mooi, maar sien geen gogga wat dit sleep nie; die tak beweeg klaarblyklik selfaangedrewe voort. Dis 'n langerige tak met kleiner takkies -- die soort wat 'n mens in die veld sal optel en 'n stukkie van sal afbreek om 'n lastigheid uit jou tand te verwyder. ‘n Keer gaan “dit” roerloos sit. Ek probeer “dit” optel. Toe loop “dit” weer met mening. Later is die ding weg.
Die aand vat ons die insekteboek van Holm en De Villiers.* Johan beveel aan: “Soek onder stokinsekte.” Waarlik, só 'n insek bestaan. Wandelende takke is hul ander naam. Dis 'n plantvretende insek wat bedags meesal roerloos lê. As hy 'n poot (tak?) verloor, groei een weer in die plek daarvan uit. Die stokinsek kan ook van kleur verander om by sy omgewing aan te pas, om vyande soos voëls en akkedisse te ontglip -- of om domkoppe soos ekself te laat wonder of hulle straks ‘n spook sien!
* Ons Eie Insekte - E. Holm en W.M. de Villiers, Tafelberg, 1983.


