Slang in die gras (dak)

Een vakansie besluit ons ‘n voordeurklokkie is nodig. Kort daarna kry ons laterig onverwagte besoek. Tokkie is in die bad en ek al in die bed toe die klokkie lui. Nou wie de drommel? Later werk ons uit 'n akkedissie moet oor die knoppie gehol het. Wel, miskien bestaan ‘n beter verklaring. Maar wat? Kom sê vir my!

Akkedisse en hul naaste familie het die verrassingselement vervolmaak. Só moeilik dit vir ‘n mens is om ‘n vlieg raak te klap, só maklik vind ’n akkedis dit klaarblyklik om een met sy lang tong nader te hark. Sulke vangste kom gereeld voor op Tarlehoet se stoep. Dit is fassinerend om dop te hou. Ook ‘n mens word soms onaangenaam verras. As jy bad of skottelgoed was, is dit telkens ‘n skrikfaktor as ene, gewoonlik so plus-minus veertien sentimeter lank, oorgewig en liggroen, skielik agter ‘n dakbalk of ‘n gordyn uitspring. Die omvang van spysverteringversteurings moet geweldig groot wees onder hulle te oordeel aan die donker strepe teen Tarlehoet se mure. Dis seker dié waarom Clarabelle van Niekerk sing: "Akkedis, akkedis, jy is wat jy is."

Maar of hulle nou jou klokkie lui, jou groot laat skrik of mure bemors, voel ‘n mens tog aardig elke keer as een van die gediertetjies in ‘n wastrog, toiletbak of ander “lewensgevaarlike” put met hoë, gladde rante sy einde ontmoet. Dit gebeur nogal dikwels. Daarom identifiseer bedagsame eienaars al die gevaarsones en plaas as hulle padgee in elkeen ‘n regop takkie as ‘n “leer” wat vir vasgekeerdes ‘n ontsnaproete bied. Jy maak ook seker dat jou toiletdeksels toe is sodat enetjie nie daarin val en verdrink nie.

Groter eksemplare sluit in die bloukopkoggelmander. In November is ‘n mannetjie se blou kop ekstra blou. Dis hul broeiseisoen en die natuur sorg dat die teenoorgestelde geslag hulle sal opmerk. Op die hoek van Wildevy en Apiesdoring ontdek ons 'n gat in 'n groot miershoop. Daarin bly 'n rêrige knewel van oor die halfmeter lank. Dit heet amptelik ‘n reuse- gepantserde akkedis, al doen die “reuse” darem die waarheid ietwat geweld aan. Soos ‘n oumens op ‘n stoep sit hy blykbaar sy dae in die son om. As ons op ons tone nader sluip, betrap ons die knaap met die skurwe skubbe soms voor sy gat. Maar hy’s uiters gevoelig vir naderende verkeer. Kom hy ‘n trillinkie agter, is hy soos blits terug in die donker dieptes in. Ek hoop darem genoeg te ete kom verby. Onder die huilboerboon agter ons huis woon ‘n kleiner boetie met 'n geel kop. ‘n Geelkop-koggelmander sou dit kon wees, as daar net so iets was. Daardie geel kop wys hy ook maar net as die son warm skyn. Kom hy ons agter, maak hy ewe vinnig spore.

Tokkie kan nie net ‘n slangstok swaai nie. As ‘n vlermuis-afweermiddel is die swembad se skepnet in haar hande buitengewoon doeltreffend. ‘n Lelike verteenwoordiger van die orde chiroptera wat helder oordag in die woonkamer begin duikbewegings oefen, word eers sonder welslae deur die uwe met opgerolde sokkies bestook. Met die ratser Tokkie kry hy nie so maklik kat en muis gespeel nie. Sy tref hom met die swembad se skepnet en hy syg bedwelmd op die vloer neer. Verligting allerweë. Beelde het begin opdoem van die besoeker wat nes maak in een van ons se hare -- darem glo ‘n “ouvrou”-storie. Of erger: beelde van Bram Stoker se Dracula, die bloeddorstige vampier met die yslike tande.

‘n Verbete vrugtevlermuis-aanslag op die nagapies se piesang wek my teensinnige bewondering vir die swiepende figure se vermoë om in die pikdonkerte doodsekuur op hul teiken af te pyl. Die armswaaiende Van Deventers word telkens rakelings gemis. Toe neem Tokkie die skepnet op. Vlermuise se gehoor is egter uitstekend. Elke keer as die skepnet om hulle swiesj-swiesj, ontduik hulle dit met spoed en grasie. Maar Tokkie het nie haar slag verloor nie. Ten einde laaste pen sy een tussen die nagapies se stukkies piesang op die tafel vas. Manie Steyn is dadelik by met ‘n kierie. Die “opfoetering van die fledermaus” het Manie se gade, Sannie, later dié operasie genoem. Die oorlede vlermuis se makkers het besluit: liewer bang Jan as dooie Jan. Met ‘n laaste verbyvlug is hulle die donkerte in. Die slagoffer van die kierie is met die skepnet oor die stoepmuurtjie geslinger. In die nag het iets hom kom wegdra.

Vervolg ...