Slang in die gras (dak)

Vat ‘n slang, ‘n skerpioen en ‘n spinnekop. Voeg by ‘n muis, ‘n padda en ‘n akkedis. Dit klink soos ‘n eksotiese bosresep vir ‘n Chinese “wildspotjie”. Of soos ‘n raaisel oor wie eerste vir wie gaan opvreet. Dit is geeneen van die twee nie. Die fokus in hierdie hoofstuk is op wat hierdie vabonde van die veld gemeen het.

Ten minste een ding sonder enige twyfel: hul vermoë om ‘n mens te verras, te ontstel, te skok of te irriteer, is meesal omgekeerd eweredig aan hul grootte. Anders gestel: wees maar op jou hoede vir allerlei klein goedjies wat in die bos rond kruip, kriewel, klouter of seil. Of hulle nou byt, steek, pik, knibbel of knaag, hulle kan jou laat bontstaan. Sommige, soos paddas, teister jou op ‘n subtieler manier. Hulle dreun jou ore van jou kop af met hul luidrugtige padda-indabas.

Vir die drie vreeslike s’e, slang, skerpioen en spinnekop, het ek ‘n ingebore skuheid. Van al drie se teenwoordigheid het ek kort na ons intrek bewus geraak op ‘n wyse wat niks gedoen het om bestaande vrese te besweer nie.

Die heel eerste aand toe ek in die bad klim, verskyn twee arige, harige spinnekoppe vanuit die niet om die verrigtinge te monitor. Met hul lang pote -- het hulle sowaar net agt, nie dalk twaalf nie? -- skarrel hulle op ooghoogte teen die muur heen en weer. Ek is oortuig die motief is om die weerlose, bleek lyf in die water te intimideer.

‘n Kaalvoet-sending kombuis toe ‘n paar aande later eindig amper rampspoedig. Nog dom en onverskillig, trap ek voor die yskas so hittete op ‘n skerpioen. Met sy stert soos ‘n draad gespan en sy gifangel bakleierig ontbloot, sit die gevaarlike kalant daar dreigend in die ligkol van Tokkie se flits. Gelukkig het ek haar geroep om vir my te kom wys waar ek vir die kaas moet soek. Goue reël: moenie kaalvoet en sonder flits in die donker rondloop nie.

Toe skiet Craig Hay, ‘n vorige assistent-parkhoof, ‘n mamba van net duskant 2,5 meter lank in die dak van Tony Zimolong se huis dood. Die knewel word gevries en by die jaarvergadering uitgestal -- ‘n grillerige skrikmaker oor wat alles in jou eie dak kan skuil. Goue reël nommer twee: moet nooit oorgerus raak nie. Gevaar skuil dalk waar jy dit die minste verwag.

Een van die Van Deventers se donkerste dae in Sabiepark was egter nie ‘n slang se skuld nie. Ook nie ‘n skerpioen of spinnekop s’n nie. Laat ek maar met die sak patats vorendag kom al voel ek ‘n bietjie soos ‘n aap. Die verdriet begin toe die betroubare gesinsmotor een oggend net verseg om te vat. Langs die pad Hazyview toe het ek voorheen ‘n plankie teen ‘n boom gesien wat die dienste van ‘n michenik adverteer. Met groot moeite word die adverteerder opgespoor en oorgehaal om te kom kyk wat skort. Hy ruk hier, pluk daar en prewel die hele tyd uitsprake wat al hoe onbelowender klink. Uiteindelik kondig hy aan: “Joe-joe-joe, hier’s bajang moeilikgeid.” En vir sulke komplekse herstelwerk het hy nie die tools nie. Hy beveel aan die motor moet Nelspruit toe. Wat meer as 100 kilometer ver is. ‘n Noodvoertuig word dus ontbied. My spoggerige maroen kar word met kettings opgehys en bra onwaardig agter op die plat bak van die insleepwa verwyder -- gelukkig darem eers net na Hazyview vir ‘n eerste diagnose.

Toe die AA-vragmotor stadig soos ‘n lykwa tussen die bome wegry, staan Ouma Marietjie verslae die verdwynende ryding en agterna kyk. Ek voel om saam met haar ‘n paar trane te stort. Om in die bos gestrand te sit sonder motor -- vir hoe lank? -- is ‘n sombere vooruitsig. Maar net twee dae later lui die selfoon. Ek kan my kar op Hazyview kom haal. En die fout? Niks ernstigs nie. Net muise wat in die enjin nes gemaak het. Hulle het die drade na die vonkverdeler afgeknaag. Lyk seker vir hulle soos swart spaghetti ha-ha, lag die garageman.

Muise! Watter soort? Dit weet ek nie. Iets soos 50 soorte van hierdie onplesierige soogdiertjies se bestaan is glo opgeteken. Kleintjies kom soos onkruid. Elke paar maande sien ‘n nuwe werpsel lig. Op pad huis toe kry die muis ‘n nare stertjie. ‘n Vragmotor van voor skiet ‘n klip op. Die vlieënde missiel keep ‘n gat uit die voorste buffer en reduseer ‘n nuwe Pirrelli tot ‘n patetiese hopie rubber. Dit word ‘n peperduur uitstappie. Maar algaande leert men. Van toe af staan ‘n bakkie Racumen, ‘n omgewingsvriendelike gif, elke aand onder my voertuig, tensy ek vergeet, wat ongelukkig wel soms gebeur.

Vir daardie vergeetagtigheid word ‘n prys betaal. Minder as 15 maande later is die veldmuise ‘n tweede keer onder my enjinkap destruktief doenig. Die keer is die voertuig wat deurgeloop het, my splinternuwe Honda CR-V. Gelukkig het die wa ligter daarvan afgekom. Hy kon darem nog loop. Maar toe die werktuigkundiges by Menlyn McCarthy's in Pretoria die kap lig, kon hulle hul oë nie glo nie. Man en muis moet kom kyk. Oral is pypies vol gate gekou. En ek was dik die josie in oor wat ek dink is ‘n watertenk wat lek! “Hoe dink julle moet ek Kaap toe ry as ek nie my ruite kan skoonspuit nie!” Swak, Piketberg!

Ek bekla my lot by Fickie en André Visagie. Toe hoor ek nog ‘n ontstellende muisstorie. Van ‘n aanstaande muismoedertjie wat in hul afwesigheid in ‘n laai vol tafeldoeke in die Visagies se kombuis nes geskrop het. Al wat ‘n lap is, is gepluis om ‘n lekker gerieflike kraamkamer in te rig. Met die bevalling afgehandel, knaag sy ‘n ontsnaproete deur ‘n laai en verdwyn met haar kleinspan.

Vervolg ...