Slang in die gras (dak)

Skerpioene en spinnekoppe is te uitgeslape vir enige strategie wat ‘n tuiswag kan uitdink. Só maklik soos met ‘n paar ou amateur-slangetjies laat hulle hulle nie uitoorlę nie. Op enige onmoontlike tyd op enige onmoontlike plek maak hulle steeds hul onwelkome opwagting. Skerpioene het die nare gewoonte om die badkamer saam met jou te besoek. Miskien besef hulle jy’s in bepaalde badkamersituasies redelik onparaat. Spinnekoppe hou ook om die een of ander duistere rede van daardie vertrek. Een het hom in die badkamerskaal ingewurm. Daar sit hy nou soos ‘n museumstuk permanent agter die glas verewig in die omstreke van die liga waarin my massa val -- nie juis ‘n aanmoediging om gereeld te monitor wat die uitwerking van elke aand se braaivleis en Kaapse “kultuur” by die groot maat is nie.

Buitelug-spinnekoppe versondig jou siel op ‘n ander manier. Hulle span hul webbe op gesighoogte van boom tot boom, selfs oor strate -- sonder inagneming van die onplesierigheid wat dit vir stappers kan veroorsaak as die draderigheid in hul monde en hare beland. Tokkie noem dit Sabiepark se eie "internet" (of S-web). Een verskil: hier is geen keuse van webwerf nie....

Padda-indabas kan veral na ‘n verfrissende somerbui die nagrus ru versteur. Die bruinrug-boompaddas “haa....haa” sonder ophou. Hulle glo blykbaar hulle moet die węreld opkikker. Lag en die węreld lag saam met jou! Ander (op-)kikkers -- identiteit onbekend -- laat jou wonder wat jy hoor: ‘n magtige paddakoor of dalk ‘n onwettige kragopwekker?

Skuimnes-paddas is verkleurmannetjies in vermomming. In die skaduwee vertoon hulle grys. In die sonlig word hulle krytwit. Hul eintlike woonplek is bome, maar die stoep is bedags besonder aanloklik. Saans is dit ‘n stryd om dit in hul koppe te prent die swembad is eintlik ons s’n. Private eiendom. Oortreders sal vervolg word. Hierdie paddatjies sit ook graag op die buitenste dranktrollie wat deur die vorige eienaar wit geverf is, of balanseer hulle op die rame van die groot voëlplakkate op die stoep. Op die tafeltjie is hulle so wit dat jy hulle kwalik raaksien. Op die houtraam raak hulle bruin. Weer uitstekend gekamoefleer.

‘n Grillerige padda-ervaring was juis met een van die skuimnes-garde. Ek skop my stapskoene uit vir ‘n middagslapie op die swembadstoel. Toe gaan soek ‘n klein kikvorsie ‘n holte vir sy torso heel voor in die neus van die bruin skoen. Susanna platanna! Ek gil en gooi die skoen dat hy doer trek toe my tone die skurwerige teenwoordigheid van ‘n onbekende verstopping agterkom. Ter verdediging, daardie hindernis kon ‘n skerpioen gewees het. Nog ‘n goue reël: skud altyd jou skoen uit voordat jy dit aantrek -- veral as jy dit buite laat rondstaan.

Van die skuimnespadda se naam raak ek die eerste keer bewus toe ‘n yslike bol “skeerskuim” aan die reuserosyntjieboom by die watergat opduik. Naslaanwerk bring aan die lig dis ‘n liefdesnes wat soos room opgeklop word deur die betrokke paartjie met die hulp van ‘n paar flukse vrygeselle. In die nes, gewoonlik aan ‘n tak wat oor water hang, word die eiers dan gelę -- baie gerieflik met die oog op ‘n “watergeboorte” cum doop. Skuimnespaddas? Natuurlik! Hoe dan anders?

Sowat van akkedisse, koggelmanders, salamanders, geitjies en sulke goeters het ons nog nie gesien nie. Vales, gekleurdes, lang sterte, stomp sterte, blou koppe, geel koppe. Op die plaveisel en mure, binne en buite, is altyd een van die mini-krokodilletjies -- mini-dinosourussies? -- wat op kort pootjies iewers heen skarrel. Een akkedissie -- net ‘n vingernael lank -- kom drink wrintiewaar water in die swembad. Sy oë is waarlik groter as sy maag. Waarskynlik ‘n selfs nog kleiner eksemplaar -- dalk die kleinste van die vyftig soorte -- is verantwoordelik vir die mikro’ste, mini-eiertjie in die badkamer se deurslot. Spreuke 30: 28 kom onwillekeurig by jou op: “ ‘n Geitjie kan jy met die hand vang en tog kry jy hom in koninklike paleise....” Ons Boshuis is geen paleis nie, maar ons begryp die Spreukedigter se sentiment. Geitjies en akkedissies is oral.

Vervolg ...