Slang in die gras (dak)

Fickie kan ook heel paar slegte slangstories vertel. Een slang wat hy al uit sy huis moes verwilder, was -- as ek dit nie mis het nie -- ‘n Mosambieke spoegkobra. Hierdie uitvoerproduk uit die land van Graca Mandela is amper so giftig soos ‘n mamba. Die derduiwel het die reputasie dat hy tot op twee meter uiters akkuraat sy spoeë spoeg. Reguit oë toe! Die goeie nuus is: die kobras is nie BAIE aggressief nie. Indien hulle nie versteur word nie, let wel.

‘n Buffet, ‘n opgemaakte bed, ‘n stortbad en ‘n opgestopte bedkopstuk is glo al in Sabiepark deur allerlei adders uitgekies om te oorwinter en te vervel. In Tarlehoet het Tokkie in ‘n donker hoekie van die soldervertrek, bokant ‘n bed vir oorloop-gaste, ‘n ou, deursigtige slangvel aangetref. Soort onbekend. Met giftige slange word in elk geval maar van tyd tot tyd potjies geloop. Meesal is die ander party ‘n mens of ‘n dier. Slange takel egter ook ander slange. Op Tokkie se verjaardag het ons by die piekniekplek gesien hoe ‘n rinkhals ‘n tierslang die skrik van sy lewe besorg. Vinniger as daardie middag het laasgenoemde hom seker nog nooit uit die voete gemaak nie. Hy het geseil, soos ‘n bekende radioman altyd gesê het, “that the dust so stand”.

In een slang-mens-konfrontasie was die dramatis personae ‘n oormoedige jong besoeker en ‘n swart mamba. Dié seun het by die tennisbaan se kleedkamers ‘n jong mamba van sowat driekwart meter lank verras. In stede van voetjie vir voetjie pad te gee, probeer die kêreltjie, wat hom as ‘n amateur-slangvanger uitgee, onwys die slang self vang. Vir sy moeite word hy aan ‘n vinger gepik. Sabiepark-personeel hardloop om die vangstok te gaan haal. Toe hulle daarmee opdaag, het domastrant se ma, ‘n formidabele tante, egter die mamba klaar die ewigheid ingehelp. As dit ‘n groter en ouer swart mamba was, was daardie knaap dalk nie so gelukkig om volkome te herstel nie.

‘n Slang so dik soos ‘n pofadder (bedoelende daardie lekkerny wat jy braai: ‘n geurige wors met lewer, niertjies, vet, afval en ander lekker goed in ‘n dikderm gestop) het my by Tarlehoet my boeglam laat skrik. Die lummel het skemeraand glibberig uit die gras te voorskyn gekom en geruisloos voor my voete oor die lapa se baksteenvloer gewoerts. Trippe-trappe-trone, slang snuif aan my tone! In die flou lig van twee flitse, myne en Griet s'n, het Tokkie later 'n regte, egte pofadder voor die pakkamer die ewigheid ingehelp. Brent Claassens, my skoonseun uit die Kaap, het in ‘n heldhaftige oomblik sy aversie vir slange oorwin, en ‘n Oostelike tierslang met die braaitang behendig tot oorgawe gedwing.

Kort daarna gewaar my oplettende vrou twee gereelde “groenetjies”. Soms is hulle op die agterstoep se plaveisel, soms in die takke van die rosyntjieboom langs die stoep. Later verskuif hulle na die riffies van die huis se bakstene. Daar kom hulle blykbaar noordeson soek. By die geringste stoornis, wurm hulle hulle dan blitsvinnig in die kleinste gaatjie onder die grasdak in. ‘n Slang in ons (dek)gras -- nee, maak dit ‘n dubbel! Dadelik tower my verbeelding skrik-scenarios op van wriemelende reptiele wat in die nag uit die dak op die slapende Van Deventers neerstort. Dat die saak dringende aandag vereis, spreek vanself. Ons gaan leen by die kantoor die “slangstok” -- ‘n lange van so twee meter met ‘n lussie aan die punt. Dit moet om die slang se kop gegooi word. Dan trek jy dit net styf. Siedaar, jy het jou slang!

Hoe ons die lussie om ‘n gladde, slank slangnekkie gaan kry, wou ek graag sien. Maar dis Tokkie se departement daardie! Sy paradeer stok oor die skouer al om die huis en oefen. Blaartjies en takkies, hoog en laag, kry sy met die slangstok beet sodat sy voorbereid kan wees om op enige hoogte toe te slaan. Telkens roep sy triomfantlik uit as sy een van die twee voortvlugtiges opmerk. Hulle kom uit die gat en bak hulle teen die muur lekker warm -- die voorste deel van die lyf alte gerieflik op die vensterbank gestut. Maar hulle bly buite bereik van die stok. Telkens verdwyn hulle dan weer in gate waar die grasdak en die muur ontmoet.

Sodra een groene uitloer, is Tokkie by. Agtervolger en agtervolgde beloer mekaar en eersgenoemde oorweeg verskillende opsies. Sy kan op die leer staan en hulle met die hark probeer afruk. Dit is nie die mees praktiese plan nie, meen ek op ‘n veilige afstand. As iets sou skeefloop, val sy nog van die leer af met ‘n slang bo-op haar. Sy dreig: sy gaan Doom Fogger koop en die “boggers” uit die dak “fogger!” Die feit dat die presiese gaatjies nou geïdentifiseer is, laat haar egter besluit om eers daardie skuilplekke met gewone Doom aan te val. Dit werk met die kleinste slangetjie. Dié swig met ‘n blitsende tong voor ‘n gesamentlike aanslag van Tokkie en Griet, elk gewapen met ‘n kannetjie Doom. Die kantoor se vangstok, ruime aanwending van die “geheime wapen” en 'n paar kaphoue met die graaf beteken sy einde. Die groter “loseerder” kom weg. Ongelukkig. Dit spyt my om te rapporteer dat die uwe met die graaf bewapen was toe hy grond vat. My reaksies was, helaas, hopeloos te stadig. Dat hy sy as afgeskrik het -- seker vir Tokkie se Doom -- is egter ‘n feit. Hy het nie teruggekom nie. *

* Deesdae is dit wet in Sabiepark: geen slang word doodgemaak nie; roep asseblief die kantoor.

In die vensterbanke plaas ek toe twee plastiek-speelgoedslange wat vir die bobbejane bedoel was. Let op die verlede tyd. Of dit ‘n faktor was om sy herverskyning te stuit, weet ek nie. Wat ek wel weet, is hoe besimpeld ek my vir my eie slangverskrikkers geskrik het. Ek was sonder spraak en rooi in die gesig. Só beweer Tokkie. Bobbejane weet al dis als bluf. 'n Mens vergeet egter soms dat daardie rubberspeelgoedjies nie die ware Jakob is nie as een van hulle skielik voor jou opdoem.

Vervolg ...