Skukuza konneksie
Ons Sabieparkse posadres is pk. Skukuza. Die Wildtuin se hoofkamp is egter nie net ons poskantoor nie. Nie-amptelik is dit ook ons waskamer, ons geriefswinkel, ons vulstasie, ons internet-konneksie, ons gholfbaan, ons dokter en ons kerk.
Een van die uniekhede van Sabiepark is hoe ‘n mens deur die Krugerhek die Wildtuin vinnig kan inzits vir sake of vir 'n erediens in die treffende koel kerkie met sy indrukwekkende koorsboom in Skukuza se netjiese personeeldorp. Sabieparkers koop feitlik deur die bank ‘n seisoenkaartjie vir die Wildtuin. Eers was dit die Impalapermit. Deesdae is dit die Wildcard. Vir ‘n honderd rand of drie kry jy ‘n “seisoenskaartjie” wat ‘n jaar lank onbeperkte toegang tot die Wildtuin verleen ongeag die doel: hetsy inkopies, plesier, kerk of werk.
Van Sabiepark tot by die Krugerhek is net twee kilometer. Voeg 13 kilo’s by tot
by die ruskamp. Soms vat die rit van 15 kilo’s na Skukuza net 20, 25 minute.
Soms duur dit heelwat langer. Jy kan nie haastig raak nie wanneer ‘n beneukte
olifant dreigend een skynstormloop na die ander op al wat ‘n motor is loods,
twee moedswillige renosters jou pad versper, of ‘n honger leeuwyfie op 'n
jagekspedisie op ‘n Sondagoggend voor ontbyt meer as twee kilometer ver voor jou
loop en prooi soek. By die honger leeuin in die pad wou ek net verbysteek. Toe
sak sy hoopvol in 'n jagposisie neer. 'n Bosbokkie draf verby. Maar hy’s net
buite haar bereik. Later probeer sy 'n rooibokrammetjie beetkry. Weer sonder
welslae. Dit is egter wys om vir sulke onvoorsiene vertragings op pad kerk toe
voorsiening te maak.
In ‘n stadium is die toegangspermitte by die hek elke dan en wan verander. Op een vorm was drie kolomme: een vir die getal volwassenes, een vir hoeveel kinders en een vir OSV's. Ons vra 'n vriendelike hekwag waarvoor die OSV's staan. Aanvanklik is hy uit die veld geslaan. Nee, hy wil nie vir ons lieg nie, hy weet regtig nie. Toe helder sy gesig op: "Perhaps it is for the unborn babies." Ten minste ‘n kreatiewe uitleg! Tokkie, altyd prakties, wonder dadelik hoe swangerskappe van korte duur bepaal gaan word: sonars vir elke vroulike besoeker? Later help 'n ingeligte hekwag ons: OSV staan vir open safari vehicle of oop safarivoertuig. Daardie groen Land Rover Defenders of Nissan Hardbody’s met die rye bankies vir toeriste het die laaste jare werklik vervuil op die Wildtuin se paaie. Elke paar minute sien jy een. Ongelukkig is "ons rivierpad", die S3 oorkant die Sabie van ons piekniekplek af, een van die top-OSV-roetes. Die pad, voorheen altyd in 'n goeie toestand, raak deesdae vinnig sinkplaat.
Ons huidige Wildtuinvoertuig is ‘n Volkswagen-mikrobus wat ver paaie geloop het. Die “Bosbus” is sy naam. Die “Bosbus” het die Honda vervang. Dié bly nou op Melkbos, om die eenvoudig rede dat ons vir die 20 uur se tog deur die Karoo, die Vrystaat, Gauteng en Mpumalanga te lui geraak het. Die mikrobus bêre ons gerieflik naby die lughawe op Kempton Park. Dit het sy voordele. Soms rittel en skud hy egter maar erg op ‘n namiddagritjie op die S3. En met paaie-instandhouding klaarblyklik minder hoog op die agenda as tevore kan jy maar net hart vashou. Hoop darem nie tye kom wanneer almal sonder 4X4's verplig sal wees om net op die teerpaaie te hou nie!
By die hek herken ek een middag ‘n jong man se melodieuse Franse aksent. Hy en sy vroulike metgesel kom van Parys. Hulle betaal, laat vat haastig Skukuza toe en kyk ‘n witrenoster vlak langs die pad skoon mis. In Skukuza sien ek hom weer. Ek roep hom en verduidelik: in die Wildtuin moet jy stadig ry en deeglik rondkyk, ou vriend. Ek vertel hom van die renoster waarby hulle woeps verby is. Hy betuig innige dankbaarheid oor die vriendelike advies -- “Thank you, thank you” -- maar: “We have already seen a rhino in Hluhluwe.” Jy kon hierdie Suid-Afrikaner met ‘n tarentaaldonsie omtik oor daardie nonchalante respons.
Skukuza spog dat hy “alles het wat nodig is vir ‘n geslaagde Bosveldvakansie” -- van ‘n resident-dokter tot ‘n nood-paddiens. Vir Sabieparkers is dit hul naaste en gerieflikste “dorp” vir poskantoor- en banksake, kruideniesware, brandstof, bier, houtskool, koerante, tydskrifte en wat nog. Jy raak gou slim. Jy ontdek dat jy vir roetine-inkopies nie net op die deftige Parkwinkel aangewese is nie. Die kleiner, minder elegante winkeltjies in die personeeldorpe – veral die Whengele Ra Albasini in die kampong – is goedkoper. Laasgenoemde is ‘n rasegte, outydse handelaar op die hoek. By hom kan jy paraffien in groot maat koop teen die beste prys in die hele kontrei. Op sy rakke is ook basiese kossoorte wat nie op die gewone toeris se inkopielys is nie. Soos stampmielies. Of mieliemeel.
Ons eerste Kersfees in die bos was in 2002. By die Parkwinkel was ‘n spesiale Kersaanbod: laat jou foto neem saam met Kersvader vir R10. Die agtergrond was ‘n sebravel. Om saam met ‘n swart Sinterklaas in ‘n rooi pak te poseer voor ‘n sebravel -- dis mos Afrika! Vir die man agter die wit wattebaard het ek herken toe hy dit ‘n slag wegskuif om sweet af te vee. Dit was die ronde, joviale Wonderboy van die winkel se fotodiens waar ek nogal dikwels films ingee. In Julie 2003 sê ek vir Wonderboy: “Jy was mos verlede jaar Kersvader.” Hy kon op sy rug val dat ek, soos hy vermoed het, hom in sy mondering geïdentifiseer het. En dat ek boonop onthou het!
Die dokter kry mens nodig vir enigiets van kwaai insekbyte tot ‘n spysverteringstelsel wat van al die braaivleis protesteer. Ons nood was omtrent hoog na ‘n ongelukkie by die hek. Manie Steyn gaan haal sy vuurwapen in die motor om dit te laat verseël. Op pad terug kantoor toe, stap hy met sy voorkop in die skerp kant van die dak se hoek vas. Hy syg neer soos ‘n os. Die bloed maak spore op sy gesig. “Manie is geskiet!” Dié vreesgedagte laat ons hardloop om by die gevalle vriend te kom. Toe ons hom bereik, kom hy dronkerig orent. Hy verdryf vinnig alle vrese oor ‘n skietwond deur sy eie stiksienigheid en die skerp hoek van die dak in tale te verwens. ‘n Paar steke in Skukuza se spreekkamer en ‘n paar kopseerpille later was hy reg vir die Wildtuin!
Vervolg ...


