Skukuza konneksie
Kotie de Beer het in Maart 2001 Skukuza se eerste luiperdslagoffer geword. Die wete dat ons haar gereeld Sondae in Skukuza se kerk gesien het, het die persoonlike belewenis van die tragedie versterk. Dié blonde, lewenslustige huisvrou het die middag gaan draf op ‘n roete wat sy soos die palm van haar hand geken het. Toe bespring ‘n honger luiperd haar van agter. In die middel van die straat. Teenaan die kwekery wat ons self telkens besoek. Sy was oombliklik dood. Haar nek was gebreek.
Twee boeties het net na skool die betrokke luiperd skuins voor hul huis opgemerk. Hulle het alarm gemaak. Veldwagters het kom ondersoek instel sonder dat hulle die dier kon opspoor. Enkele ure later is Kotie neergevel. Oor waarom die luiperd juis op die weerlose vrou toegeslaan het, is verskeie teorieë geopper. Een vermoede was dat hy siek was. Dit sou verklaar waarom hy ‘n sagte teiken uitgesoek het.
Op Donderdag 14 Augustus 2003 is Skukuza weer deur ‘n luiperd-aanval geskud. ‘n Seun van nege jaar, Binkie Nobela, is ook helder oordag aangeval, skaars 400 meter van sy ouerhuis af. In ‘n vreemde sameloop van omstandighede was hy twee jaar tevore een van die seuns wat die luiperd opgemerk het wat die ongelukkige Kotie aangeval het. Binkie het die noodlotsdag by ‘n vriend gaan huiswerk doen, en het kortpad huis toe deur die veld gevat. Op ‘n oopgetrapte voetpaadjie waar die dorp se mense gereeld loop. ‘n Gewapende veldwagter het later gesien hoe die volwasse luiperd die kind se lewelose liggaampie oor die straat sleep. Hy het op die luiperd geskiet, maar hom net gekwes. Twee lede van ‘n soekgeselskap het die aanvaller vankant gemaak. Die luiperd was al lank in die tand, sowat tien jaar oud.
Twee dae voordat Binkie oorval is, het die kinders van Don English, veldwagter, ’n klein bosbokkie in hul tuin opgemerk. Don het die bokkie gevang en buite die erf losgelaat sodat hy en sy ma mekaar kon vind. Dinge het egter anders verloop. Ds. Carl, ‘n buurman van English, en sy drafmaat, Gus Mills, roofdier-ekspert van Sanparke, is na hul gewone middagdraffie deur die veldwagter ingewag met die res van die verhaal. Dit blyk terwyl hy en sy vrou, Sharon, hul middagkoffie geniet, het hy iets gehoor. Hy is dadelik buitentoe en sien ‘n luiperd teen hul grensdraad. Hy stap stadig en versigtig terug huis toe om Sharon te gaan roep. Weer buite gekom, is daar eers geen teken van die luiperd nie. Enkele oomblikke later draf die dier egter met die nimlike bosbokkie in sy bek verby, en verdwyn in die bos.
Die volgende middag gesels ds. Carl en Gus Mills oor die luiperd se teenwoordigheid. Sê nou ‘n kind word aangeval, spreek ds. Carl sy kommer uit. Net 24 uur later gebeur dit. Die Donderdag skuins voor 16:00 word die ongelukkige Binkie bespring. Hy was, soos hulle sê, op die verkeerde tyd op die verkeerde plek... Binkie was in die kategese by die Skukuzakerk, waar sy ouers ook aktief inskakel. ‘n Roudiens is in die kerkie vir hom gehou, soos twee jaar tevore vir Kotie. Die kerk was elke keer gepak met geskokte roubeklaers.
Later het ons gaan kyk waar die aanval plaasgevind het. Dis naby 'n bruggie wat ons gereeld oorsteek as ons die personeeldorp van Lake Panic se kant benader. Ek onthou ek het al voorheen vir Tokkie gesê my hare rys as ek sien hoe mense -- volwassenes en kinders -- daardie kortpaadjie vat. Enige gevaarlike bewoner van die Wildtuin kan enige tyd daar skuil. Maar gevaarlike diere is deel van daardie mense se lewe. Leeus brul van tyd tot tyd onder hul slaapkamervensters.
So ‘n brul kan selfs genesende krag hê -- só is altans van die kansel verkondig by een van die eerste dienste wat ons bygewoon het. Die vorige predikant, ds. Chris Marais, was die Sondag die prediker. Die leraar vertel toe van ‘n lidmaat wat ernstig siek in Pretoria in die hospitaal was. Een aand skakel hy om na die pasiënt se welstand te verneem. Die oom is nog maar baie siek, rapporteer die suster. “Nou gee vir hom asseblief ‘n boodskap,” vra ds. Chris. “Sê vir hom die leeu het gisteraand onder sy kamervenster gebrul.” Die suster was taamlik verras oor dié vreemde versoek. Maar nie lank daarna nie tree beterskap in…
‘n Laaste leeustorie kom van ds. Carl, wie se fyn humorsin vroeër in die
verbygaan vermeld is. In ‘n gemeente-nuusbrief vertel hy van ‘n dooie leeu wat
hy op pad terug na Skukuza van die oosgrens af teëgekom het. Toeriste het hom
die karkas gewys. Die leeu is oënskynlik deur buffels doodgemaak. Hy vertel:
“Soos ‘n verantwoordelike burger betaam, kontak ek een van ons gemeentelede die
oomblik toe ek ‘n sein op die selfoon kry. Na ‘n paar minute se verduideliking
van presies waar die karkas lê, is ek tevrede en gaan voort met my lewe. Die
inligting word verwys na die staatsdiereartse. Later vind ek uit dat die man van
veeartsenydienste wat die leeu gaan soek het, redelik gesukkel het om op grond
van my aanduidings die plek te identifiseer. Na ‘n groot gesoek is die leeu toe
opgespoor en bevestig dat buffels hom doodgemaak het.
“Droogweg merk ons veeartseny-kollega na bewering toe op: ‘As dit is hoe die dominee die pad aanwys, is ek baie bekommerd oor sy gemeente!’ ”


