Skukuza konneksie
By ons eerste doopdiens hier is net een babatjie gedoop. ‘n Kinderkoor het haar toegesing, ‘n CD is gespeel en in die voorportaal was ‘n rangskikking met ‘n reuse-tietiebottel; een waarmee wees-olifantjies gevoed word. Na die diens was daar ‘n kreunende koektafel onder die bome wat enige kerkbasaar eer sou aandoen. Die dooptee in Skukuza is vir die hele gemeente, ontdek ons, want dié sakrament word selde bedien.
Die Paassangdiens vind plaas op ‘n unieke plek: die indrukwekkende Granokoppie langs die H1 suide toe. Treffend is dit om op kampstoeltjies daar hoog bokant die veld te sit terwyl die nag stadig rondom toesak, en die Paasverhaal in lied (met kitaarbegeleiding), poësie, Skriflesing en gebed te herdenk. Ds. Carl is ‘n man vir simboliek. Ons het brood gebreek wat deur sy vrou, Sarah, gebak is, en kinders het lang spykers uitgedeel om die aanwesiges aan Golgota te herinner. Lidmate moes vooraf Johannes 11:25 en 26 op ‘n stukkie papier skryf : ....”Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook....” Net voor die einde van die diens is dié briefies, kaartjies en koeverte uitgeruil. Tokkie was bevoorreg om met Esmarie Jacobs, ‘n voorslag-onderwyseres van Skukuza, te ruil. Esmarie se kaartjie was ‘n pragstuk, op ‘n rekenaar geproduseer met ‘n mooi raampie om en boonop gelamineer vir ‘n lang leeftyd.
In die vloed is in die personeeldorp enorme verwoesting aangerig. Altesaam 61
huise het deurgeloop. Die skooltjie (waar al by geleentheid leeus op die stoep
‘n slapie kom vang het) het sy rekenaars, boeke en ander toerusting verloor.
Sowat 150 mense -- almal lidmate van die gemeente -- was dakloos. Die kerk moes
die eerste paar dae etes aan die vloedgeteisterdes verskaf. "Ons het 'n krisis,"
het ons ds. Carl oor die radio hoor sê. Op Melkbosstrand was ons op naalde en
spelde vir nuus uit Sabiepark. Maar ons harte het uitgegaan na die goeie mense
van Skukuza in hul nood. In die winter van 2001 het rasionalisasie in die Krugerwildtuin rondgeloop soos
‘n brullende leeu. Die snoeiskêr is diep in die ou personeelkorps ingesteek. Vir
die gemeente was die vertrek van soveel lidmate en vriende wat “briewe gekry”
het -- ‘n sagter manier om te sê hulle het hul werk verloor -- traumaties.
Sondag vir Sondag het ons saam met die krimpende kuddetjie ds. Carl se woorde
van troos, bemoediging en hoop aandagtig ingedrink. Einde Augustus was die
spertyd. Dan moes die vertrekkendes uit wees. Die laaste Sondag van die maand
was nagmaal, ‘n afskeid wat geen mens onaangeraak kon laat nie. Op pad kerk toe
ry ‘n meubelkarweiwa van Elliot’s saam met ons die Park binne. Dit bring op ‘n
harde manier die boodskap tuis dat die einde van ‘n lang pad vir baie
Wildtuinmense aangebreek het. Die nagmaalpreek was na aanleiding van Jesaja 43:1 tot 7: ”Ek het jou op jou
naam geroep, jy is myne. As jy deur water moet gaan, is ek by jou, deur riviere,
hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie
skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die
heilige van Israel, jou redder….” Soos ons ds. Carl toe al leer ken het, het hy
daardie Sondag weer gepreek, sonder ‘n nota voor hom en met ‘n ruim skoot humor.
Die gemeente het aan sy lippe gehang. Sy boodskap het Tokkie soos volg opgesom:
“Kom uit jou kamer uit.” ‘n Beeld wat hy gebruik het, was dié van ‘n
dikmond-tiener wat hom/haar vies in die kamer toesluit -- die ene
selfbejammering. Hy het ook Psalm 23 gelees: “Die Here is my herder.” Ten slotte
het die gemeente die Onse Vader gesing. In min oë het nie trane opgewel nie. Die gemeente was altyd kleinerig. Daardie insnyding het hom in sy hart getref.
Na die nagmaal is ‘n gemeentevergadering gehou oor die vraag: wat nou? Die
dertig of wat gesinne wat oorbly, net 120 mense, was daaroor baie seker. Hulle
wou nie by Hazyview of waar ook al ingelyf word nie. Hulle sou op eie bene
probeer staan. “Die Here sal voorsien.” Op 5 Oktober 2001 het van my ‘n brief in
Kerkbode verskyn. “In krisis op krisis -- natuurrampe, tragedies, menslike nood
-- was die NG gemeente Krugerwildtuin … vir sy intieme Wildtuingemeenskappie
deur die jare ‘n anker van vaste hoop. Nou dobber die anker onheilspellend.
Selfs na die vloed ... kon die gemeente opstaan en voortgaan. Maar vanjaar se
drastiese rasionalisasie van Parkeraad-personeel het hom in sy hart verwond.”
My brief was ‘n pleidooi om hulp, want, het ek betoog, “as die deure van die
kerkie moet sluit, sal die stem van die kerk op ‘n belangrike buitepos stil
raak, waarskynlik vir altyd. Die verlies sal enorm wees -- nie net vir die
bewakers van daardie wonderlike natuurerfenis nie, maar ook vir besoekers wat
graag Sondae in die Wildtuin-gemeente geestelike verkwikking gaan soek.” Net ‘n
maand later was ‘n brief van ds. Carl in die pos: “Ons gemeente gaan met ‘n paar
aanpassings in die bediening volstoom voort.” Later het ek gehoor die
makrogemeente Moreletapark in die ooste van Pretoria met sy ses leraars en 15
000 lidmate het ‘n helpende hand uitgesteek. Ek wonder of Moreleta ooit sal
besef hoe ver en wyd die dankbaarheid oor daardie geldelike lewensboei weerklank
gevind het.
Vervolg
...


