Skukuza konneksie
Skukuza se gholfbaan was lank net vir Wildtuinmense en hul vriende beskore. ‘n Paar jaar gelede is die baan met sy waarskuwingsbordjies -- “pas op vir die leeus”, “pas op vir die krokodille”, en dies meer -- vir die publiek oopgestel. Elkeen wat dit op die baan waag, word skriftelik ingelig wat om te doen as hy ‘n gevaarlike dier “raak speel”. Die eenvoudigste raad is: soek die naaste boom en klim in hom. Roer jou litte! Elkeen moet ook ‘n vrywaringsvorm teken, al stap jy net as ‘n toeskouer saam. As jy “aangeval, gegaffel of verskeur” word -- ja, so koelbloedig staan dit daar in swart op wit! -- moet jy weet dis vir jou eie rekening!
Ek loop graag nege putjies saam met Johan of Brent. Wel, leeus en krokodille het nog nie daar ons paaie op een van die putjies gekruis nie, net kameelperde, vlakvarke en rooibokkies. Maar ons het darem ook vars seekoeispore in die dou op die setperk van die derde putjie raakgeloop. En stomende vars olifantmis. Die vrywaring is geen foefie nie. Op die telkaart is ‘n foto van ‘n leeu wat op die eerste putjie, ‘n langerige sethou van die klubgebou, aan ‘n buffel smul. Dit is nie geposeer nie!
By die “negentiende putjie” hoor ‘n mens allerlei stories van rondtes wat in die folklore verewig is. ‘n Gewilde anekdote is van ‘n bank-kêrel van Skukuza -- ‘n propperliese laventelhaan -- wat pas na die wittebrood met sy skone bruid uit Johannesburg ‘n paar gate wou gaan speel. Die heer se klere was altyd pynlik netjies en sy swaai uit die boek. Hierdie keer was geen uitsondering nie. Hy vat sy tyd om hom presies reg op die bof te posisioneer. Toe hoor hy ‘n hees blafgeluid. Met die vinnige opkyk, sien hy ‘n bont streep aankom. Wildehonde! Verskrik gooi hy sy stok dat dit doer trek, raap hom op en spring sy bruid amper plat om via haar arms in die boom te kom. Sy staan versteend. Veilig op ‘n tak, kry hy sy stem terug en bulder ontfermend: “Vat die naain aain (nine iron)! Vat die naain aain!”
Soos dinge uitgedraai het, het die bruid nie die nege-yster nodig gekry om haar lyf en lewe te verdedig nie. Die wildehonde was duidelik op die spoor van iets anders as ‘n bloesende jong bruid. Maar haar bewondering vir haar bruidegom het ‘n terminale knou weg. Só ook sy eie ego. By die klubhuis is hy, soos verwag kon word, later ongenadiglik gespot. Die vernedering was te erg vir vlees en bloed. Kort na die insident het hy ‘n verplasing gevra, en gekry. Later het die nuus die Wildtuin bereik dat die huwelik op die rotse geloop het. Ai, dit kan soms maar ‘n hondelewe wees...
Gholfspelers (of hul bruide) het darem nog ysters om hulleself mee te verdedig. Wat doen ‘n stomme ongewapende drawwer as gevaar uit die bos skielik opdoem? Dit is elke jaar in die lente ‘n relevante vraag. Dan vind die Skukuza-halfmarathon plaas. Sowat 'n duisend atlete neem daaraan deel. Hulle word afgesit met die geblikte brul van ‘n leeu. Daarna hardloop hulle al rondom die personeeldorp, verby Lake Panic, wat deel van die gholfbaan vorm. 'n Trop buffels het enkele jare gelede die roete versper. Veldwagters moes hulle verjaag voordat die wedloop kon begin. Ons eerste Skukuza-halfmarathon (darem net as toeskouers!) het sonder só 'n komplikasie verloop. 'n Trop bobbejane het hulle egter boeglam geskrik vir die vreemde gesig van ‘n klomp pompende bene, party bleek en die ander pikswart. 'n Hiëna het uit die bosse gekom, die spulletjie een verwarde kyk gegee en verkas. 'n Vlakvark het langs ‘n swetende drawwer ingeval. Toe moes jy hom glo sien versnel!
Die halfmarathon verdien elke jaar ondersteuning. Só het ons daar en dan besluit. Dis 'n lekker okkasie met 'n kermis-atmosfeer. En ons kerk, die NG gemeente Krugerwildtuin, is deel daarvan. Buiten dat ons dominee, ds. Carl Louwrens, flink die langpad saam aandurf, verkoop ons kerk se kraampies smaaklike eetgoed! “Ons dominee” en “ons kerk” -- saam met hulle het ons sedert 1998 al ‘n hele paar sakke sout opgeëet. Een was met Februarie 2000 se vloed, ‘n krisis vir die gemeente. Later het ons die swaarkry van rasionalisasie saam beleef. In ‘n stadium het die uitvloei van lidmate selfs ‘n bedreiging vir die gemeente se voortbestaan geword. Ten derde was daar die skok van twee noodlottige luiperdaanvalle in iets meer as twee jaar net ‘n hanetree van mekaar af.
Dat ons sulke beproewings hier sou meemaak, het ons kwalik besef toe ons in April 1998 die eerste keer met ‘n “kerkpermit” stilhou by die kerk waar ‘n gesinnetjie vlakvarke juis toe op die groen grasperk baljaar. Dat dit nagmaal is, het ons eers besef toe ons die intieme, skemeragtige kerkgebou binnestap. Voor die preekstoel was die gedekte tafel en in die lug die aroma van muskadel. Met my uiters informele blou broek en sandale -- die broek met rek en ‘n wit toutjie om die middel -- het ek koes-koes in die agterste bank neergesak. Maar toe verras die dominee ons. Ry vir ry word die nagmaalgebruikers na vore geroep om die brood in ontvangs te neem. Dan moet die vader des huises dit vir sy gesinslede breek. Waar berg ek my, waar vlug ek heen?
Vervolg ...


