Skukuza konneksie
‘n Groot nut van die Skukuza-konneksie is die toegang tot elektrisiteit -- ‘n gerief wat by die huis ontbreek. Vir was en stryk en allerlei ander huishoudelike funksies is krag met die druk van ‘n skakelaar wel nie noodsaaklik nie, maar tog by geleentheid uiters nuttig. Dat in Skukuza se kampeergebied nie net een nie, maar twee waskamers is wat met muntoutomate funksioneer, is dus ‘n waardevolle ontdekking. Die prys is ook reg. Omdat jy nie weet hoe lank jy dalk gaan tou staan vir ‘n waskans nie, vat Tokkie altyd ‘n boek saam. Sy vorder egter nie juis skouspelagtig met die leeswerk nie. Daarvoor sorg die spesiale waskamer-kultuur.
Dis altyd ‘n uitvraery oor en weer en ‘n uitruilery van inligting: Wie het wat waar gesien? Watter paaie is aan te bevel? Watter is “dood”? Terwyl die masjiene egalig snor, stap ‘n spierwit-gryskop die waskamer binne. Hy kom net ‘n bietjie rondkyk, deel hy mee. Hy verlang tog só na die kamplewe. Twintig jaar lank het hy en die “ou vrou” altyd met ‘n woonwa gekom. Nou’s hulle te gevorderd in jare. ‘n Rondawel is egter glad nie so lekker en romanties nie.
Griet het Tokkie verskeie kere op wasuitstappies vergesel. ‘n Sjangaanse vrou knoop met haar ‘n gesprekkie aan in Tsonga. Ekskuus?, bely Griet kopskuddend haar onbegrip. “Nou watter tale praat jy dan?” “Afrikaans.” “Net Afrikaans?” “Ja, net Afrikaans.” “O, dan is dit mos apartheid se skuld!”
Voor die koms van Brent se invertertjie (wat 14 volt omskakel tot 220 volt) moes daardie waskamer by geleentheid as rekenaarkamer dubbel. Terwyl Tokkie en Griet aandag gee aan die inhoud van die wasgoedmandjie, konnekteer die uwe sy drarekenaar aan ‘n muurprop en haal so staan-staan by die strykblad agterstallige werk in. ‘n Geriefliker alternatief is later ontdek: die stoep van ‘n rondawel. My eerste eksperiment hiermee was op die stoep van rondawel 182. Drie Amerikaanse vroue het pas hul bagasie uitgedra. Ek sak toe op hulle toe met die rekenaar onder die blad en die ongewone versoek of ek maar mag inprop. “Go ahead,” kom dit toe uit een mond.
Om e-pos af te laai, is natuurlik meer as ‘n kragprop nodig. Jy soek ook ‘n telefoonlyn. Dié het letterlik in my skoot geval toe ek in Sanparke se kantore gaan raad soek met ‘n sagteware-haakplek. ‘n Vriendelike amptenaar het my probleem gou opgelos. Toe nooi hy my: “Werk sommer hier. Kom gerus terug as jy wil e-posse stuur of ontvang.” Ek het my nie twee keer laat nooi nie. Maar die ligging van daardie vriendelike amptenaar se kantoor is my geheim. Jammer.
‘n Steeks rekenaar kan jou lewe lelik ontwrig. ‘n Vrydag begin vir my sleg toe myne, ‘n bejaarde Toshiba-dramodel, skielik allerlei streke uithaal. Dit eindig amper nog slegter. Raadop, besluit ek die middag om weer by die kundige amptenaar in Skukuza te gaan hulp soek. Maar eers wil ek net gou ‘n droogtefoto neem van sebras en wildebeeste by ‘n voerpunt in Sabiepark. Na dié stoot ek agteruit. Die mikrobus se groot agterruit tref ‘n eensame rooiboswilg wat in die middel van Wildevy staan. Die glas verbrokkel in duisend stukkies. Ek ry toe maar huis toe, skaamkwaad. Die atmosfeer daar is klaar gespanne, weet ek, vanweë ‘n herhaling vroeër die oggend van ‘n ongelukkige neiging om irritasie oor ander dinge op my onskuldige vrou uit te haal. Sy reageer daarop soos altyd. Taamlik verergd. Hierdie keer kry Tokkie haar bedremmelde man egter jammer. Sy help in stilte die stukkies opvee en die gat met ‘n stuk plastiek toeplak.
Ek pak weer die reis aan. In die gebou in Skukuza waar ek sit en werk, kom ek later agter alles is grafstil. Ek loer by die deur uit. Nêrens roer iets nie. Natuurlik, dis al lank na vieruur op ‘n Vrydagmiddag. Ek pak op en pluk aan die voordeur. Dié is gesluit. Só is elke ander deur op die grondvlak. Ek probeer die middelvlak. Geen buitedeur. Die tweede vlak. Net kantore, pakkamers en toilette. Tot die heel laaste deur op die boonste vlak. Ek draai die handvatsel. Dit swaai oop. Ek stap uit op ‘n hoogliggende parkeergebied. Baie verlig. Ek wil-wil ook vir myself lag kry oor my amperse penarie. Want selfoon in my sak of te nie, sou Tokkie my sweerlik moeilik kon bevry het voordat die hek sluit. Dit sou ‘n lang, vaal wagtyd sonder kos of geselskap kon word!
Vir kommunikasiedoeleindes is nie net www.Skukuza onmisbaar nie. Ook vir drukwerk bied die Skukuza-konneksie die antwoord. By die Stevenson Hamilton-gedenkbiblioteek handig jy eenvoudig jou disket in. ‘n Laserdrukker doen die ding vir ‘n skrale paar sente vir ‘n A4. Terwyl jy wag, kan jy koerant lees (gewoonlik net ‘n dag oud), die boeiende uitstallings deurkyk of die hondebegraafplasie onder ‘n koelteboom voor die biblioteekgebou besoek: ‘n kolletjie “heilige grond” waarvan min besoekers bewus is. Ek kom graag daar. Elke klipstapeltjie of eenvoudige steentjie vertel ‘n storie van die diepe band tussen ‘n veldwagter en ‘n getroue vierbeen-vriend waarmee baie kampvure en avonture gedeel is. ‘n Mens voel om jou hoed vir hulle te lig.
Vervolg ...


