Reenboognasie

Sommige voëls se name is afgelei van die geluid wat hulle maak. Die hadeda roep wel iets wat klink soos “ha-ha-ha-de-da”. Dalk bevind die spookvoël hom ook in die kategorie, hoewel sy aanhoudende, geheimsinnige gefluit -- “oooooop” en ‘n “tiek-tiek-oooop” -- nie juis vir my spookagtig klink nie. En roep die piet-my-vrou werklik “piet-my-vrou?” Vir dieselfde prys kan dit mos wees griet-wil-trou. Of hier’s-ek-nou. Of sies-vir-jou. Buitendien: piet-my-vrou is mos g’n logiese naam vir mens of dier van die vroulike spesie nie. Ek ken vroue wat Pieties is, maar sommer net Piet? Nee, al die Piete wat ek ken, is mans.

Soos voëlname is voëlgeluide ‘n studieveld wat jou geduld en stamina toets. Dis net nog heelwat uitputtender. Die eindelose verskeidenheid van fluite, koere, krasse, kraaie, kwele , kwake, roepe, tjirpe en tjanke kan ‘n leerder oorbluf en lank laat kopkrap. Party geluide is onmiskenbaar. Hulle is die kenwysies van die bos en eie aan Afrika soos sy sonskyn en blouselblou lug. Die roep van die visarend -- misterieus en melankolies -- hoort bo-aan hierdie erelys. Dit is ‘n lied wat jou siel vlerke gee. Saam oor die hoogste boomtoppe sweef jy, weg, weg, ver weg tot waar stadsgewoel, werkspanning en daaglikse roetine nie meer deel van jou bestaan is nie.

In die laat somer tree die trotse bosveldvisvanger na vore. Dan oortref hy homself met sy sang, ‘n welluidende “trrp -trrrrr, trrp-trrrr”. Party mense glo hy en die vleiloerie roep saam die reën. Dalk besing hy sommer net die natuur. ‘n Lied van geluksaligheid oor die laatsomer se oorvloed: die geil, groen gras, ruie plantegroei, bome wat swaar dra aan vrugte en peule, riviere en strome wat sterk loop, reën wat neersif…

Die tradisonele “koe-koe-roe-koe-koe” van die duif kom in die bos in talryke variasies. Die tempo en toonhoogte verskil heelwat by die verskillende duifsoorte. Sit jy op jou stoep en werk of lees, kan jy vir geen stemmingsvoller agtergrondmusiek vra nie. My stem vir die mooiste klank gee ek vir die groenvlekduifie se nostalgiese “doe-doe-doe”. Sy beurtsang met die onvermoeide piet-my-vrou is voortreflik. Dit behoort die puntenerigste koorleier te behaag.

Ook die naguiltjie verdien ‘n ereplek wanneer kenmerkende klanke van die bos ter sprake is. Sy strelende lied (‘‘Good-Lord-deliverrr-us...”) is pure Mozart: Afrika se eie Eine kleine nachtmuzik. En suinig met sy sang is hy nie. ‘n Laeveldse naguiltjie se lied het ek een aand met ‘n stophorlosie gemeet. Presies vyf minute en 22 sekondes het hy die noot gehou. Wil gedoen wees! Of hoe, Mimi Coertze? En die hadeda? Ja, daardie bekende “ha-ha-ha-de-da” wanneer die ou langbek met die glansende brons vlerkvere van en na sy slaapplek vlieg, het gewis ook ‘n Afrikaklank.

‘n Lekker speletjie is om vir die voëls van die veld menswoorde in die mond te lê. Die piet-my-vrou is in daardie opsig ver van alleen.‘n Mens sal jou verbeelding nogal vrugbaar aan die werk kan sit oor die duet van die mannetjie en wyfietjie van die spesie rooikophoutkapper. Een gee telkens ‘n langerige hoë noot, waarop die tweede antwoord met kort, laer nootjies: “Toee! Moenie! Toee! Moenie! Toee! Moenie!” Wie pleit en wie wys van die hand? Weet regtig nie.

In die groter patrysfamilie is een van die sterre Skotland se “famous grouse” wat ‘n whiskeybottel versier. Aan die drankfront bring gevleuelde bewoners van die Suid-Afrikaanse bos egter ook hul kant. Ons eie bospatrys roep glo: “Bier en konjak! Bier en konjak!” ‘n Mens kan eintlik die ongeduld in sy stem hoor! Die Laeveldpatrys kondig uitdagend aan: “Ek drink jou bier!” – ‘n nare ding om te doen as die son so dooierus vat.

'n Voëlgeluid waarvoor ek al lank vergeefs my ore spits, ontwyk my ook in Sabiepark. Ek het lank gelede in 'n koerantrubriek van haar (ja, definitief in hierdie geval ‘n haar) gelees. Dit is die oranjeborsboslaksman, in sekere kringe ook bekend as die "lugwaardin-voël". Haar roep (in mensetaal omgesit) is glo: "Coffee, tea or me!"

Miskien bevind ek my hier neffens die Wildtuin in die verkeerde gebied. Geskeduleerde vlugte na Skukuza bestaan mos nie meer nie. Dié land nou in styl daar tussen Nelspruit en Witrivier. Maar moenie my verkeerd verstaan nie. Ek sou altyd die koffie kies!