Reenboognasie
Op 'n vroeë oggendwandeling kry ons bly-verras in ‘n driffie ‘n ent van Tarlehoet af die Afrikaanse sperwer. Dié sku lid van die valkfamilie sit in die digte plante langs 'n waterstroom en eet sy ontbyt wat hy pas gevang het. Sy gestreepte bors, soos 'n rugbytrui, en geel pote laat min tyfel oor sy identiteit. Gelukkig piekel Tokkie haar Newman-gids oral saam. Op aandritte kry ons talle naguiltjies in die middel van die pad. Hulle maak nie aanstaltes om weg te kom voor die groot wiele nie. Tokkie moet meer as een keer uitklim uit vrees dat dit dalk ‘n beseerde uiltjie is wat nie in staat is om weg te vlieg nie. Net as sy hulpvaardig by hulle kom, raap hulle hulle op en … tot siens.
Gelukkig (?) hoef Sabieparkers nie meer op hul hoede te loop vir ‘n volstruis nie. Daarvoor het die luiperds finaal gesorg. Eienaars kan egter vermaaklike stories opdiep uit die dae toe hierdie kwaai voëls, so groot soos hulleself, nog volop was. Een vrou, baie waardig en korrek, moes haastig in ‘n boom klouter om aan een se wrewel te ontsnap. Sy het minstens ‘n uur lank sit en roep en roep totdat haar stem naderhand hees was. Haar redder moes haar met brandwyn laaf. ’n Vroulike werknemer se lyf is lelik oopgekloof. ‘n Kombi is ‘n diep skeur op sy deur toegedien. ‘n Verliefde mannetjie is glads agter Ria Weiland en Lucy Crabtree, vrou van die eerste parkhoof, aan. Oor die intensie van sy attensies kon daar min twyfel wees. “Sy bene was rooi,” vertel Ria. Die twee mans, Arne en Ian, het lekker gelag. Toe troef Ria hulle: “Julle lag nog. Julle sal nie lag as ons moet eiers lê nie!”
Een Sabiepark-volstruis word met deernis onthou. Dis Struisie, wat hondmak geword het. Sy had die manier om met almal – veral kinders -- maats te maak, uit die bloute by die kombuisdeur op te daag vir ‘n ietsie te ete, en op ‘n beleefde afstand agter stappers aan te tou. ‘n Keer toe ‘n septiese tenk onklaar raak, had die eienaar omtrent sy hande vol met die nuuskierige Struisie wat oral haar kop indruk om sy gesukkel dop te hou. Elke paar minute moet hy eers haar nek wegklap om hom dan weer toe te spits op sy onaangename taak.
Voëlkyk is nie vir sissies nie. Dit verg konsentrasie en vinnige koördinasie om die verkyker te gryp, die onderwerp van kop tot toon te bestudeer en deur ‘n proses van eliminasie blitsig by ‘n diagnostiese bevinding uit te kom. Om dan nog die duisternis name ook te probeer memoriseer -- party onlogies, ander die vrug van ‘n ryke verbeelding -- is ‘n reusetaak. Tussen al die bontrokke, bokmakieries, janfrederiks, katakoeroes, klopkloppies, lewerikke, lysters, sterretjies, valke en vinke raak ‘n gewone sterfling maklik verdwaald. Hoekom heet ‘n spookvoël byvoorbeeld spookvoël en nie die een of ander soort boslaksman nie? Klink haaksnawel-boslaksman nie vleiender nie? Of hoekom is ‘n troupant ‘n troupant? Trouens, wat op aarde is ‘n troupant, so met die “t” aan die einde? Die Engelse naam, lilac breasted roller, is klaarblyklik vir die manjifieke helderpers voël nader aan die kol. As name so willekeurig toegeken word, kan jy mos maar vir ‘n visvangertjie ‘n struikrowertjie ook noem. Of vir ‘n hadeda, in die idioom van die dag, ‘n alarmvoël of ‘n sirenevoël. (Probeer weer, sê my vrou glad nie geïmponeer nie.)
Vervolg ...


