Reenboognasie

By ons watergat hang twee houers met saad. Een is ‘n sogenaamde voël-restaurant met vyf vlakke en tien sitplekke. Dis ‘n patent van Chris van Rensburg. Die ander is ‘n meer ortodokse plaaslike weergawe uit ‘n curio-fabriek naby Graskop. Chris se restaurant lok veral die kleiner voëltjies in swerms: blou- en rooibeksysies met hul onuitputlike energie en ‘n “kwetterjoel” KVV’s (klein vaal voëltjies) wat almal eenders lyk. Die Bosveld-bak lok die groter vere-menere. Tot vyf neushorings kom eet op 'n slag.

Die tarentale ruk op in getalle en raak so vermetel dat hulle, soos Melkbos se wit waaierstertduiwe, soggens teen Tarlehoet se eetkamervenster kom pik-pik vir kos. Tokkie noem hulle haar “loseerders”, en skeep hulle nie af nie. Een uilskuiken raak ‘n keer skoon in ‘n dwaal. Hy skrik hom asvaal vir sy beeld in die ruit. “Kek-kek-kek,” verwoord hy sy skrik. Hy val daardie ewebeeld eindeloos aan, pikkend en fladderend, en kom nie agter hy maak ‘n krater van homself nie. Ou poelpetaat jou “aspetaat”!

Gewoonlik word die tarentale gul verwelkom, veral as ‘n string kuikentjies saamkom. Agterna tel Tokkie net veertjies op om vir vriende present te gee. “Sit die veer in jou hoed!” Dit raak egter dik vir ‘n daalder as hulle opdaag pas nadat ek klaar is om my kampvuur se as uit te skep, die plaveisel te vee en alles weer netjies op hul plek te pak. Juis dan kom skrop die spulletjie meermale met diaboliese tydsberekening dat die stof staan. Hulle grawe gate vir hulleself totdat die plaveisel weer die ene grond en blare is. Dan maak ek my stem dik en noem hulle name wat nie Tokkie se welgevalle uitlok nie. Hul mededinging met die duiker vir die beskikbare pitjie-voorraad is legendaries. Botsing van belange kom ook voor as hul kuier met dié van die bospatrysies oorvleuel. Die patrysies -- ja, hulle is nie Natalse fisantjies nie, hul stertjies staan kiertsregop -- is alte fraai as hulle só spoed optel sodra hulle binne ruikafstand van pitjies kom. Spring die tarentale hulle voor, lyk hulle so verslae dat Tokkie, ‘n dienende Martha van die eerste water, oop en toe afsit pittesak toe.

Uile, op hul beurt, is altyd onwelkom by Tarlehoet. Punt. Hulle bedreig die nagapies, en dié is mos “kroonwild”. Waag ‘n nagapie-jagter dit te naby, jaag Tokkie hom met die swembad se skepnet, wat ewe doeltreffend vir vrugtevlermuise is. Hoor sy snags ‘n uil op die dak hoe-hoe is haar nagrus daarmee heen.                                                                                                                                                    Vir voëlkyk is ‘n rustige uur of drie by die piekniekplek sterk aan te beveel. Binne ‘n halfuur het ons al deur ons verkykers die volgende gesien: ‘n visarend wat dodelik akkuraat ‘n blinklyf uit die water pluk; ‘n groenrugreier se stryd om ‘n te groot, spartelende vis in sy keelgat af te wurg; ‘n wit reier wat korte mette maak van ‘n paddatjie, en ‘n reuse-visvanger wat sy maal met ‘n paar harde klappe teen ‘n stomp hardhandig voorberei.

Hier het ons ook ‘n besonderse vangs aanskou, met ‘n “roof “op die koop toe. Eers was ons aandag op ‘n indrukwekkende reusereier (‘n ware Goliat, soos hy op Engels heet) wat soos ‘n standbeeld staan en wag dat ‘n padda of vissie verbyswem. Die langnek (slangnek?) tower skielik 'n vis uit die water, en ons is in ekstase oor sy kordaatstuk. Hy deurboor sy aandete met sy skerp snawel en karnuffel hom vir ‘n vale teen ‘n boomstomp om hom lekker sag te maak. Maar tussen die klou en die mond val die kos op die grond! ‘n Visarend swiep op hom af vanuit ‘n hoë trosvy. Die “rower” gryp die vis uit die ontstelde reier se kloue en gaan sit uitdagend daarmee op ‘n tak. Die reier kon net staar en staar. Die toonbeeld van veronregting. Jy kan nie altyd wen nie!

Ons kry die bont visvangers, wat hier baie bedrywig is, ook dikwels jammer. Soms woer hulle dosyne kere soos naaldekokers bo die water en duik telkens hoopvol op hul prooi af. Maar dis soos hengel. Die grote kom alte dikwels weg.

‘n Reuse-swerm rooibek-kweleas in vlug is ‘n ongelooflike gesig. Soos ‘n swart wolk sprinkane sak hulle op ‘n jong boom toe. Met ‘n suising van vlerke vertrek die formasie kort daarna. Dat hulle so heen en weer kan blits sonder botsings is verbysterend. Maar een ding verstaan ek nou: hoe my studentevriend Vos Grey, ‘n uithalerboer van Ermelo se wêreld, met een skoot hael tagtig van die voëltjies voor sy slaapkamervenster kon plattrek. Daarna het die swerm vinnig padgegee. Vos kon sy Sondagmiddagslapie ongestoord voortsit.

‘n Mens sien by die piekniekplek ook saalbekooievaars (een van die Vyf Grotes in die wêreld van die gevleueldes), nimmersatte, vleiloeries, kuifkop-visvangers, watertrappers (een van die “Spesiale Vyf”), witkopkiewiete, bergkwikkies en ander skaars watervoëls. Jy moet net geduldig wees. Die Vyf Grotes? Ja, dat ‘n eie Vyf Grotes en ‘n Spesiale Vyf onder voëls voorkom, het ons een dag op Satara se kennisgewingbord te lere gekom. Trouens, daar is ook ‘n Kleurryke Vyf en ‘n Onmoontlike Vyf. Volgens wie se oordeel watter voël in watter kategorie opgeneem is (en waarom byvoorbeeld die karaktervolle visarend nie een lysie haal nie) weet ek nie. Voëlkykers is mense met sterk insigte. Hulle sal onwaarskynlik oor hierdie keuses konsensus bereik. Nietemin, vir wat dit werd is, hier volg dié lysies:

Vyf Grotes: gompou, bromvoël, breëkoparend, swart aasvoël en saalbekooievaar.

Spesiale Vyf: Dickenson se valk, kuifkop-tarentaal, reuse-ooruil, watertrapper en knopstert-troupant.

Kleurryke Vyf: kuifkopvisvanger, klein byvreter, gewone troupant, Marico-suikerbekkie en koningsblousysie.

Onmoontlike Vyf: dikbek-koekoek, visuil, bosloerie, blou visvanger, en geelbekrenostervoël.

Maar laat ek vertel van die “Spesiale Uil”! Herman en Rina le Roux het kom kuier. Ons sit by die piekniekplek met ‘n glasie witwyn en die twee vroue tel die “reuse-uil” met hul verkykers aan die oorkantste oewer op. Opgewondenheid soos min. Herman het egter sy bedenkinge. As dit ‘n uil is, is dit ‘n “moegse” uil, konstateer hy (wat brei) skepties. Almal kyk weer. Die nadere ondersoek bring aan die lig dis geen uil nie. Dis ‘n waterbok. Die bok se wit “kringgat” het vir die verwarring gesorg. Die “Spesiale Uil” was toe in elke opsig ‘n “Onmoontlike Uil”! Maar ‘n mens maak maar sulke “ligte mistykies”. ‘n Reuse-ooruil in ‘n digte trosvy het ek al as “sonder twyfel ‘n luiperd” geïdentifiseer. ‘n Kykweer het laat blyk ek had dit ver mis.

Vervolg ...