Reenboognasie
Voor kerk op ‘n Sondagoggend stort ‘n groterige voël op ons werf neer. Soos ‘n meteoriet uit die blou lug. Die bondel vere tref die aarde met ‘n dowwe plofgeluid en bly wanhopig spartel. Aan sy spikkels en sierlike lang nek kan ons hom identifiseeer. Die ongeluksvoël (letterlik) is ‘n boskorhaan -- die eerste waarmee ons kennis maak.
Die stomme korhaan is in vlug deur ‘n jagarend agter die nek beetgepak. 'n Stuk vleis is uit sy lyf geruk, en sy einde is nie mooi om te aanskou nie. Hy gaan stadig en pynlik sy dood tegemoet. Die jagarend gaan sit 'n rukkie in ons huilboerboon en betrag die menslike ophef om sy prooi afkeurend met blitsende oë. Toe styg hy vorstelik op. Hoër en hoër. Totdat hy net ‘n ver klein spikkeltjie teen die blou lug is.
So onverwags en skielik speel ‘n klein natuurdrama hom voor ons oë af. Ek en Tokkie, die verwonderde toeskouers, is dit eens: geen ander voël-ervaring, in Sabiepark, die Wildtuin of waar ookal, het nog op ons groter impak gehad as hierdie merkwaardige lugaanval nie. Die boskorhaan se wrede laaste oomblikke bly by ons spook.
Wat ook spook, al is dit om ‘n ander rede, is ‘n seldsame volstruis-besoek by Tarlehoet. Omdat ek te lui was om ‘n bietjie moeite te doen. Hierdie gevleuelde kameelperd -- die wetenskaplike naam is werklik struthio camelus -- het gereeld by die kantoor gaan “vlerksleep”. Die dag staan sy teen die skuifdeur by ons agterstoep en pik-pik. Só tuis soos ‘n volstruis.
Mense sê ‘n volstruis se oog is groter as sy verstand. Ydelheid ontbreek egter nie by ‘n wyfievolstruis nie. Haar kop is strategies presies reg gedraai dat sy haar spieëlbeeld in die ruit kan bewonder. Ouma Marietjie sit by die eetkamertafel en tok-tok aan die binnekant van die ruit. So vermaak die twee mekaar ‘n hele ruk. Bring die kamera, versoek Tokkie in ‘n stadium. Ag, sy sal nog dikwels kom, antwoord ek onwillig om my storieboek neer te sit. Maar die volstruis kom nie weer nie, want daardie nag word die groot voël deur ‘n luiperd gevang. Soos verskeie makkers voor haar keer sy as ‘n luiperdmaal terug tot stof(fers) sonder dat daardie gemoedelike foto van haar en Ouma ooit geneem is. Jammer, Tokkie!
‘n Volstruis kan wel nie vlieg nie. Maar met sy lang, dun bene kan hy die aarde skeer. ‘n Vinniger wese op twee bene bestaan nie, het ek iewers gehoor. Tot 60 km/u op die spoedmeter haal hy as hy eers op spoed is. Hierdie wyfie was egter nie vinnig genoeg om vir die luiperd weg te hardloop nie. ‘n Lam linkervlerk het haar tot ‘n sagte teiken gereduseer.
‘n Volstruis is ‘n volstruis. Met sy dun tuinslangnekkie en graatjiebene kan jy
hom met niks anders verwar nie. Die boskorhaan en die jagarend kon ons egter nie
dadelik eien nie. Vir sulke moeiliker identifikasies hang twee groot
glansplakkate op Tarlehoet se stoep met afbeeldings en beskrywings van nie
minder nie as 216 voëlsoorte van die Krugerwildtuin. Dit klink na ‘n magdom,
maar is minder as die helfte van die 480 soorte wat in en om die Wildtuin
voorkom. Op Sabiepark se amptelike lys is self ‘n gedugte 256 voëls. Dis amper
‘n derde van Suid-Afrika se unieke reënboognasie van die natuur. Om almal te
ken, is ‘n onbegonne taak. Die Van Deventers, nog maar amateurs, bly bitter ver
agter by die gedugte voëlkykers Steven en Carol James van Hogwarts. Hulle kon al
tot 146 spesies op ‘n dag op hul kerfstok afmerk. Ons hoogstens tien of twaalf.
Maar ons soek met konsentrasie en kry ook ons belonings.
Die gesogte bosloerie (narina trogon) het ons net een keer skrams by die
piekniekplek gesien. Die pragtige bloukuifkloeries kom egter gereeld op ons
werf. Met hul Josefsklede van blou en rooi -- wat hulle ook van die groen
Knysnaloerie onderskei -- is hulle loshande koning onder Tarlehoet se gereelde
gevleuelde kuiergaste. Ja-nee, elke besoek van die sku loeries is 'n okkasie.
Des te meer as hulle jou die eer aandoen om oop en bloot hul dors in jou
watergat te kom les, wat hulle nogal verrassend lief is om te doen. Hoor jy hul
skor “kok-kok-kok” (soos ‘n werfhoender, sê Tokkie), los jy alles waarmee jy
besig is en storm na buite. As dit jou gelukkige dag is, sorg hulle vir ‘n
asemrowende vertoning. Dit hop van die reuserosyntjie na die Laeveldse
melkbessie, dan na die swartklapper en 'n knoppiesdoring. Die volgende halte is
die groot maroela by die swembad. Daarna die Bosveld-saffraan. Daarin smul hulle
behaaglik aan die bessies. Uiteindelik soek hulle die koel skaduwees op van die
groot huilboerboon (waar die boskorhaan geval het). Hoog in die pragboom gaan
sit hulle in ‘n mik styf teen mekaar soos twee duifies. Met kleure trap ek maar
klei. Rooi-groen-kleurswak. Só is ek toentertyd op Tukkies gediagnoseer toe ek
nie in Sielkunde I (Prakties) ‘n maklike toetsie onder die knie kon kry nie. Om
die syfers te onderskei wat in kolletjies met verskillende skakerings van rooi
en groen in ‘n mengelmoes van ander kleure versteek is, was bo my vuurmaakplek.
Om sekere skakerings van blou en pers uit te ken, lol ook maar, asook geel en
liggroen. Die kleure van die bloukuifloerie is egter selfs vir my dowwe oog
onoortreflik.
Die troupant met sy uitspattige skakerings van skokpers sorg self vir ‘n
wondermooi spatsel kleur by die kosbak of die gemesselde voëldam neffens die
watergat. En moenie die byvreters -- die rooikeel is vir my die treffendste --
of die borriegeel swartkopwielewaal weggooi nie. Kort op hul hakke in my boekie
is die paradysvlieëvanger met sy diepbloukop en lang, grasieuse rooibruinstert.
Die paradysvoël is op sy stukke veral hier van Oktober af. Dan dos hy hom uit in
sy swierige “hofmaakpak”.
Maar die elegante voël is nie net ‘n vryer nie. Hy’s ook ‘n bakleier. Vra maar
vir Piet Möhr van Net Reg wat op ‘n dag wou vrede herstel toe twee
paradysvlieëvangers mekaar in die lug pak en al vegtende by sy voete neerstort.
Hy tel hulle op, en vermaan hulle tot broederliefde terwyl hy in elk hand een
vashou. Toe hy hulle los, begaan hy egter die fout om dit gelyktydig te doen.
Toe is dit sommer dadelik weer sulke tyd. Die twee vloog mekaar al fladderende
in totdat hulle weer saam harpuis ruik. Maar hierdie keer was Piet reg vir
hulle. Nadat hy hulle ‘n tweede keer opgetel het, los hy net een. Eers toe dié
net ‘n spikkeltjie is, kry die ander strydlustige sy vryheid.
Die lewensblye withelmlaksmanne en kakelaars is nie so kleurryk nie. Maar hulle
kikker ‘n mens se dag sommer op. Hulle is die toonbeeld van aktiwiteit as hulle
so in klein groepies woerend van boom tot boom flits. Een groot verskil: die
withelms glo laksmanne moet gesien en nie gehoor word nie; die kakelaars glo
totaal verskillend! Hulle hoor jy lank voordat jy hulle sien. Kakel beteken nie
verniet nie kekkel. Hul Xhôsanaam is iNtlekibafazi ("giggelende ou vroue").
Die spegte timmer hul harte uit. Dag in en dag uit. In die haak-en-steek by die
swembadjie sien ons drie wat gelyk kap-kap-kap. Dis ‘n rekord vir Tarlehoet.
Eers kry ons hulle jammer. Dit klink of hulle nooit klaar kry nie. Toe sien ons
‘n yslike gat in ‘n boom by Arne en Ria Weiland (erf 41 in Jakkalsbessielaan).
‘n Speg (spegte?) se werk. Daarna wyk die jammerte. Nou bewonder ons net hul
produktiwiteit.
Vervolg ...


