Ontdekkings
Die geleentheid om “te voel en te vat” kom die naweek van 15 en 16 November 1997. Ek en Tokkie spring vol afwagting met 'n geleende motortjie in Johannesburg weg Sabiepark toe. By die hek moet ons amper omdraai weens die een of ander tegniese fout met ons permit. Ons harte klop in ons keel. Maar uiteindelik is die haakplek uit die weg geruim. Ons gaan soek Ukuthula. Toe die skuifdeur oopgly op die gesellige woonkamer met die hoë grasdak en rottangmeubels, geval dit my dadelik. Ek behou egter my kommentaar voor, wagtende vir Tokkie om die eerste woord te spreek. Sy laat my in spanning wag.
Ons gaan stap die middag en kry 'n olifant net oorkant die grensdraad. Ons sien ook 'n pasgebore rooibok-lammetjie, 'n klein kameelperdjie wat drink en 'n rooibok-"kindergarten" wat blykbaar ring a rosy speel, al in ‘n kring. Maar ons braai amper uit in die subtropiese somergloed. Toe Tokkie bra gehawend by die huis kom, dog ek dis neusie verby. Die primitiewe swembadjie se water bied egter lafenis -- en 'n gebrek aan swemklere is diep in die bos gelukkig nie 'n struikelblok nie! Die aand toe die vuurtjie begin flikker en die sterre begin flonker, kom ek dankbaar agter ons is in die groot saak ad idem. Die Sondagmiddag voor ons wegry Johannesburg-lughawe toe, skryf Tokkie dit swart op wit vir die kinders: "Geen twyfel dat ons gaan koop nie."
Amper onbehoorlik haastig word die daad by die woord gevoeg. In Maart 1998 trek ons al in. Die naweek van 14 en 15 Maart, Tokkie se verjaardag, kom kuier ou Bloemfonteinse vriende Herman en Rina le Roux, nou van Johannesburg -- ons eerste gaste. Die firma Van Deventer en Le Roux, die een só onhandig soos die ander, durf met 'n hamer, skroewedraaiers en 'n handboortjie 'n groot projek aan. Die naam Ukuthula moet af. Dis mooi maar onpersoonlik. ‘n Swaar stuk swarthout met die nuwe naam, Tarlehoet, moet op. Dit was die naam van ons huis in Dan Pienaar, Bloemfontein, waar ons twaalf jaar lank gelukkig gewoon het, van ons terugkeer uit Johannesburg in 1980 tot ons verhuising in 1992 Kaap toe.
Maar wat beteken Tarlehoet (Tarlehoek, of selfs Tarentaal, volgens onverskilliges wat nie twee keer kyk nie)? Toemaar, tot 1980 het ons ook nie geweet nie. Toe koop ons by Bontie Bonthuys, bekende letterskilder, sy leidakhuis op die boonste hoek van Genl. Van Schoor- en Kmdt. Senekalstraat. Bontie was 'n Noordwester, en versot op Elizabeth Vermeulen se stories oor sy streek. Boeke soos Temmers van die Noordweste. Hy noem toe sy huis Tarlehoet na 'n Boesman-karaktertjie in een van Vermeulen se verhale. Die naam was op 'n koperplaatjie bo die voordeur. Die Boesmantjie, knielend met pyl en boog in die hand, is verewig in 'n gebrandskilderde tekening op 'n glas-voordeurpaneel, asook op 'n stuk leiklip by die posbus.
Bontie wou die naam verwyder. Ons het gevoel dit moet bly. Dit is deel van die huis. Soos die Boesmantjie self. Dit het ook nie lank geduur nie toe beteken Tarlehoet nie meer vir ons 'n wildvreemde Boesmantjie nie. Dit kry 'n spesiale eie betekenis: "Plek waar ons gelukkig is." Toe ons Ukuthula koop -- 'n plek wat ons instinktief geweet het diep in ons harte gaan kruip -- was Tarlehoet dadelik die naam wat ons te binne geskiet het. 'n Melkbosser met 'n cowboynaam en 'n groot liefde vir mooi hout, Dick Turpin, het dit vir ons op 'n sierlike stuk swarthout uitgekerf. Dis die bord wat moes op.
Om Ukuthula af te kry, is egter klaar 'n gesukkel. Toe dit boortyd word, met net 'n ongerieflike handboortjie tot ons beskikking, wil-wil die twee "skrynwerkers" met die vyf duime aan elke hand net tou opgooi. Rina probeer simpatiek raad gee. Herman kap egter teë: "Rina, ek doen hierdie werk al die afgelope … halfuur!" En die twee druk dapper deur. Uiteindelik is Tarlehoet op, vas aan die twee houtpale wat voorheen jare lank vir Ukuthula 'n vaste anker was. Ons poseer by die nuwe naam vir foto's: ek en Herman, ek en Tokkie, Rina en Tokkie. Met die draf 'n vlakvark verby. Rina vat korrel en skiet -- 'n gawe soewenier van ‘n gedenkwaardige dag. Van Deventer en Le Roux is nie min in ons noppies nie oor 'n uitdagende taak wat bekwaam uitgevoer is. Die vierstuks kuier die aand in die swembadjie met bier en koffie. “Tokkie het verjaar en ons het in die maanskyn in die swembad baljaar.” So het Herman die gedenkwaardige geleentheid in ons gasteboek opgesom.
Met daardie kloeke oud-kollega met die huppel in sy stap onstuitbaar aan die voorpunt stap die Van Deventers die volgende middag die eerste keer die wandelpad van begin tot einde -- nog 'n ontdekking! Maar ons loop te vinnig en praat te veel. Ons sou later eers leer: op die wandelpad loop jy stadig soos harmansdrup met elke sintuig fyn gespits -- dan maak hy “oop”. Die Dinsdag voor ons ry, loop ek en Tokkie 'n laaste draai. Ek betrag trots my en Herman se handewerk en druk met die een hand besitlik op die stuk hout. Die volgende oomblik gee dit 'n kreungeluid en hang windskeef. ‘n Wrede ontdekking: die naambord is heeltemal los. Beteuterd dra ek en Tokkie dit huis toe, en roep die kantoor se hulp in. Hulle het ten minste beter gereedskap.
Sentimentele siel wat ek is, ry ek met Ukuthula in die kattebak die 2 000 kilometer Kaap toe. Ek bel vir Jean Smythe op Vishoek en sê geheimsinnig: "Ek het vir jou iets van Sabiepark saam gebring." "O Hennie, how nice!" Kom drink tee. Kom sommer more. In Vishoek sukkel ek eers om die adres te kry. By die regte voordeur val 'n gulle verwelkoming ons egter te beurt. Opgewonde wil die vorige eienaar weet: "What did you bring for me?" Ek haal die swaar stuk hout te voorskyn -- en sien ontnugter hoe haar gesig val. "Old Mike (haar oorlede man) isn't with us anymore," sê sy. "Use it for firewood."
Ons het Ukuthula toe nie opgebrand nie, wel die stuk kiaat mooi laat poleer. Dit is nou ‘n deftige klerehak in Marisa-hulle se voorportaal. Vir Tokkie het ek later net gesê: "Ek kom spook by jou as jy my ooit so-iets aandoen. Maak jy dan liewer maar self die vuur!"


