Ontdekkings
Een heuglike ontdekking lei tot ander. Sommer met daardie eerste besoek al val skille van ons oë. Ons begin met ander oë in die Wildtuin rondry. Ons leer dat die natuur veel-veel groter rykdomme ontsluit as net die dag se grootwild-waarnemings. Dit is ‘n verrykende insig. Ons skaf dadelik ‘n voëlboek aan. Kort daarna ‘n boomboek. Toe een oor slange… Ja-nee, die bos het vinnig in ons bloed gekruip.
In die Visagies se boek ontdek ons boonop die name van ander Bloemfonteiners met eiendom in Sabiepark, onder andere Ronnie en Elma Schoombie, mede-eienaars van erf 267 uit Wildevylaan -- toe nog bekend as Meiringspoort, om klaarblyklike redes. Die argitek Hannes Meiring het die platdak-bosvilla in Sardiniese styl vir hom en sy joernalisvrou, Martie, ontwerp as, soos sy dit mooi gestel het, "'n huis van rus en droom en kuier". Ronnie en Elma (nou van George) bied hul "kuierhuis" vir 'n volgende oornag-stop aan, en ons aanvaar die aanbod gretig.
In Julie 1991 ry ons saam met ou vriende Manie en Sannie Steyn van die Wes-Rand (plus die twee spanne kinders) stadig in Apiesdoring af, draai regs in Wildevy, soos ons beduie is, en swaai in by die eerste kronkelpaadjie deur die bome rivier se kant toe. O wee! Die oomblik toe ons die Meiring-Schoombie-villa tussen die takke in die visier kry, bemerk ons mense op sy plat sementdak. Die ergste vrees word bewaarheid: ja, hulle slaap hier. Dit blyk Hannes het skoon van Ronnie se reëlings vergeet. Hy “leen” toe die huis vir 'n jong niggie, haar vriendin en twee buitelanders. Die vierstuks was al 'n nag of twee daar en het hulle só tuisgemaak as kan kom. Ons is indringers. Dit was duidelik.
Wat nou? Die Van Deventers en Steyns hou eenkant kajuitraad; die ander gaste ook. Daar’s spanning in die lug. Uiteindelik kry die bedagsaamheid van die Meiring-span die oorhand. Ons was al twee aande hier, vat vanaand die plek vir julle, bied hulle ruimhartig aan. Gelukkig bekom ons vir hulle alternatiewe slaapplek. Toe kuier ons en die Steyns daardie aand om die kampvuur darem vir jou 'n hond uit 'n bos. ‘n Magnumbottel goeie rooiwyn sak vinnig. Ons vuurtjie knetter gesellig, skaars 250 meter van Ukuthula (Tsonga vir Vrede van binne) wat jare later die Van Deventers se eie Tarlehoet sou word. Maar wie sou dit nou kon raai!
Die volgende oggend durf ons met harte in die keel die wandelpad aan -- 'n eerste ervaring van 'n ongewapende ekskursie in die ongetemde bos. Die stel reëls en waarskuwings by die beginpunt laat jou keel toetrek. Dit is gevaarlik om alleen te stap, lees ons, “aangesien konfrontasies met olifante, leeus, luiperds, slange, ens. nie uitgesluit is nie. Moenie afdwaal nie.” Nouliks by die eerste sement-seekoeispoor wat die gebaande weg aandui, oormeester 'n "ongemaklikheid" my. Manie laat hom ook nie twee keer nooi nie. "Ons draai terug," kondig die twee besorgde (bang?) vaders aan, en lei ons gesinne na veiligheid. Vandag, na dosyne wandelinge op daardie pad, voel ek nogal verleë om daardie abortiewe eerste poging te bely.
Nie dat “ongemak” oor moontlike gevare uniek is nie. Onder Sabieparkers tel veterane wat nie sal waag om ‘n voet op die wandelpad te sit nie. My swaer Fanie van Wyk van Harrismith sal my hopelik nie verkwalik nie as ek verklap hy het met ‘n klip in ‘n natgeswete hand op ‘n veilige afstand agter die voorhoede en al murmurerende die afstand afgelê. As die stomme man maar kon weet ek het voor die avontuurtjie van die brug oor die Sabierivier af ‘n olifant naby die einde van die pad gewaar.
Ek het hom en skoonsuster Maretha dus met voorbedagte rade
letterlik om die bos gelei om juis op daardie tydstip te gaan stap. Hy sou my
sweerlik met sy klip bygedam het. Maar om sò naby ‘n olifant in die bos te kom,
het tog vir enigeen sy bekoring. Later kon Fanie in die gasteboek manhaftig
neerpen: “Met ‘n klip in die hand stap ek tot teenaan die olifant!”
Die Sabiepark-saadjie was lank voor die koop van Ukuthula al in ons harte gesaai. Die ontkieming is te danke aan ‘n Kaapse besoek van ‘n oud-kollega, Danie Krynauw, en sy vrou, Kathleen, nou van Somerset-Wes. Tot einde 2003 het hulle twee amper ‘n dekade lank ‘n verruklike swaeltjie-bestaan gevoer. Winters was hul huis in die Laeveld; somers op Hermanus. Tydens ‘n gesprek met die Krynauws in die Naspers-kafeteria Van Alle Kante kry ek die bevlieging om na my imminente aftrede ook met so ‘n lewenspatroon te eksperimenteer. Tokkie is dadelik ontvanklik, ofskoon ietwat skepties oor die praktiese haalbaarheid. Nie links nie skryf ek dadelik vir Fickie en Ronnie of ons hul plekke die winter vir 'n paar weke kan huur.
Ek gooi ook die net wyer. Ken Saggers, ‘n eienaar van Johannesburg, kom van my plan te hore. Hy bel uit die bloute en vra of ek nie liewer my eie plek wil koop nie. Jean Smythe, 'n weduwee van Vishoek, soek 'n koper vir haar plek, waar sy ná haar man se dood ongereeld kom. Ek laat nie gras onder my voete groei nie, en bel dadelik die weduwee Smythe. Het sy vir my 'n plan en foto's? Sy het iets beter: 'n video wat vir 'n gestremde vriendin in Johannesburg vervaardig is -- eers onder, vertrek vir vertrek, dan stadig met die trappies op solderkamers toe. Boonop word al die diere wat oor 'n tydperk van maande kom besoek aflê het, in 'n klompie kort minute ingekonsertina. Ietwat misleidend. Maar met ontsaglike oortuigingskrag!
Die video en 'n geskeurde, water-bevlekte argiteksplan, word sommer die volgende dag al saam met 'n vriendin van Vishoek stad toe gestuur, en dieselfde aand bekyk en bepraat. Die gogga het met mening gebyt! Ons begin onderhandel. Ek weerstaan egter die druk van my klaar verowerde hart, en gooi ‘n bietjie wal. 'n Mens koop tog nie eens ‘n gebruikte kruiwa wat jy nie gevoel en gevat het nie. Wat nog van ‘n eiendom 2 000 kilometer ver, allawêreld!
Vervolg ...


