Ontdekkings
Laterig die aand van 1 Julie 1988 ry die Van Deventers die eerste keer deur Sabiepark se hek, besoekerspermit veilig in die sak. Toe ons onder die helder sterre soek-soek by erf nommer 97 uitkom, net mooi waar die strate Maroela en Wildevy mekaar ontmoet, spat slapende sebras en rooibokke in die gedompte motorligte uiteen.
Wat 'n ontdekking! Om met ons kinders sorgvry in die veld te kan rondstap -- die wild dikwels so naby dat ‘n mens net jou hand moet uitsteek om aan hulle te vat -- is vir ons louter genot. Van die boomweelde en voël-gedruis kan ons nie genoeg kry nie. Op 3 Julie sit ons die reis voort, deur die Krugerhek na Skukuza en daarna noordwaarts na Satara en Olifantskamp. Net voordat ons ry, pen ek en Tokkie die volgende spanpoging tussen die foto's en allerlei pennevrugte in ons gashere, Fickie en André Visagie, se gesellige Sabiepark-logboek neer:
"Dit was 'n fees! Sebras en rooibokke het 'n verwelkomingskomitee gevorm wat ons ingewag het. Daarna het 'n nuuskierige gesinnetjie vlakvarke, 'n eensame blouwildebees, 'n huppelende troppie rooibokkies en 'n duikertjie kom dagsê. 'n Kameelperd het ook gekom, maar toe was ons nie tuis nie. Sy spore was tot teenaan die stoep. Hy het blykbaar ook aan die groot boom op die stoep staan en peusel.
“Besoekers met skynbaar minder vreedsame intensies was 'n regiment gebande muishonde wat die huis kompleet omsingel het. Die generaal het gedurig bevele gegee en sy manskappe in onheilspellende slagordes opgestel. Toe hulle sien dat ons nie gaan wyk nie, het hulle net so skielik padgegee as wat hulle gekom het. 'n Houtkapper het 'n boodskap in Morsekode gebring. Ongelukkig kon ons dit nie ontsyfer nie.
Die buffels het nie kom kuier nie, maar ons het hulle wel
raakgeloop waar hulle met verwondering en intense konsentrasie 'n tenniswedstryd
staan en dophou. Dankie vir 'n heerlike blaaskansie in jul Bosveldparadys.”
Dat 'n spesie soos gebande (gestreepte) muishond bestaan, het ons voorheen nie geweet nie. Ek moes die naam van die woelwater-diertjies in 'n Wildtuinboek naslaan. Dat verskillende soorte houtkappers voorkom en dat party "houtkappers" eintlik spegte is – die kardinaalspegte, goudbandspegte en baardspegte noem Sabieparker Chris Sevenster (erf 232 in Maroelalaan ) die KGB -- was ook nog aan ons onbekend. Van die hope Bosveldbome kon ons nie eens een by die naam noem nie. Maar dat dit liefde met die eerste oogopslag was, was so seker soos die son se opkoms.
Sabiepark het die manier om jou hart terstond te verower. Ook David en Christine Serfontein van Hetnet (erf 292 in Appelblaarlaan), Randburgse bure in die jare sewentig, was dadelik verlief op die plek. Die Serfonteins het op ‘n verkenningstog saam met David se broer-hulle by die piekniekplek ‘n vleisie op die kole gesit. Welgedaan, strek David hom na ete op die gras uit vir ‘n Sondagmiddagslapie. Toe hy wakker word, sien hy net olifante. ‘n Yslike trop het in die rivier kom drink. Hy kon nie vinnig genoeg sy handtekening op ‘n koopkontrak plaas nie!
Vervolg ...


