O…O…Oli…fante!

‘n Hewige heiningdebat was in daardie stadium in Sabiepark aan’t oplaai. Die vraag was of die ou elf-draad heining van 2,5 kilometer tussen die park en die Wildtuin wat in Februarie 2000 voor die vloedwater geswig het, heropgerig moet word of nie. Ek was ‘n geesdriftige pro-grensdraadman. Zeller was ongeesdriftig. ‘n Duiweltjie het in my oor gefluister ek moet antwoord: “Sou dit nie heerlik wees nie om olifante in Sabiepark te hê sonder dat hulle mense se lewe en eiendom bedreig?” Maar toe sê ek vir hom “skoert, Satan!”, en laat weet vir David terug: “Dankie, die foto’s kom by al my ander gewaardeerde Sabiepark-soeweniers.” Soos dit wel het.

Op 8 Julie 2002 is, soos gewoonlik, op die tweede Saterdag van Julie algemene jaarvergadering gehou. Op inisiatief van die voorsitter, Hendrik van Nieuwenhuizen, word toe besluit op ‘n referendum oor die vraag: ‘n heining -- ja of nee? In albei kampe was hartstogtelike pleitbesorgers. Twee verteenwoordigers, ek (vir) en Chris Sevenster, ‘n ginekoloog van Centurion (teen), kry opdrag om die argumente te verwoord.

Die nee-mense het hoofsaaklik ekologiese en ekonomiese redes aangevoer. Wildheinings is onaanvaarbaar, het Sevenster betoog, omdat dit die natuurlike beweging van diere tydens droogtes en brande belemmer. Ekonomiese voordele is ook deur hom voorgehou, onder meer die hoë koste van die vang en uitdunning van wild. Groot roofdiere sou dan die takie sommer namens ons verrig! Allerlei kreatiewe regverdigings is nie-amptelik gehoor, soos dat bome Sabiepark “oorneem” en periodieke olifant-aandag nodig het. Sekere eienaars het pront verklaar hulle wil nie in ‘n “moffiekamp” woon nie. Leeus, olifante, buffels, seekoeie en dies meer bring ten minste ‘n bietjie “opwinding”.

Goed en wel, het die ja-mense teruggekap, maar sonder ‘n grensdraad sou die unieke karakter van Sabiepark radikaal verander. Lewensgevaar sou ‘n konstante metgesel word op enige beweging te voet. Die heining is buitendien nie net noodsaaklik om gevaarlike diere uit te hou nie. Dit moet ook roekelose mense, veral besoekers en kinders, van die rivier met sy seekoeie en krokodille afkeer. En sê nou ‘n trop plunderende olifante vaar die park in? In ‘n ommesientjie kan hulle ons boomprag verwoes, soos in Ntsiri, Sharalumi en Mbabat noord van ons wel al gebeur het. Hulle kan dakke afruk, septiese tenks flenters trap (soos daardie bejammerenswaardige kameelperdbul), en ander duur toerusting soos waterpype beskadig. So het ons gewaarsku.

In November is ‘n spesiale referendum-uitgawe van die nuusbrief aan elke eienaar gestuur. ‘n Stembrief is ingesluit. Teen 30 Januarie 2001 moes dit terug wees. Soos die duiwel dit wou hê, raak indringer-olifante toe juis in die tyd tussen die jaarvergadering en D-dag ‘n yslike kwessie. Van Julie tot September word nie minder nie as vyf “oorgrensbesoeke” aangemeld. Tot ses “gaste” op 'n keer loop die hele park vol. Olifantfoto’s word geneem onder meer by die TV-kamer (George Lourens), by die suiping van erf 240 in Apiesdoringlaan (deeleienaar André Potgieter), by die parkhoof se huis omtrent op die verste punt van die rivier af (Fickie Visagie), by ‘n verdwergde BMW op erf 142 in Maroelalaan (ook Fickie Visagie) … en natuurlik neffens Tarlehoet se swembad. Minstens 100 groot bome en aalwyne, sommige dekades oud, bly in die slag. Twee keer moet helikopters gehuur word om die rondlopers terug te jaag Wildtuin toe.

In September neem die bestuurskomitee 'n noodbesluit: die olifant-skokdraad (‘n enkeldraad net mooi hoog genoeg om ‘n olifant twee keer te laat dink) moet dadelik weer op. Die ja-mense was stilletjies verheug. Vir die saak van ‘n heining was daardie olifant-aktwiteit en die bestuurskomitee se ingryping nie nadelig nie. Toe die uitslag kom, was

dit: vir 98, teen 74, bedorwe 11. Verpletterend was dit nie. Maar in minstens 98 huise is sugte van verligting geslaak. Dat ons nie onnodig spoke gesien het nie, is later deur ‘n reeks olifant-aanvalle op wildbewaarders en toeriste in die noordelike provinsies en in Botswana onderstreep. In die Sabi-Sand-wildtuin, net oorkant die pad van Sabiepark, is ‘n ervare ekoloog deur ‘n olifantkoei vermorsel. Ook uit die Sabiepark-omgewing het die praktyk ondersteunende argumente vir ons pro-heining-standpunt gelewer.

In April 2003 sit Dawie en Annatjie Strydom en hul dogter, Lientjie, by die rivier toe minstens 62 (korrek!) olifante, klein en groot, meteens uit die wandelpad bars. Die Strydoms kyk vasgenael hoe hulle deur die rivier storm en die oewer uit hardloop dat ‘n stofwolk oor hulle hang. Die vreesaanjaende gedagte kom dadelik by die Strydoms op: watter ramp kon Sabiepark getref het as 62 olifante dit gelyk sou binneval!

In September 2002 gaan stap Martie Nel van Bosveld (erf 127 in Jakkalsbessielaan) en haar kleindogter, Clarise (13), op die wandelpad. Die meisie stap vooruit; ouma kom agterna. Skielik sien Clarise net wit skaars ‘n meter of wat voor haar -- die tande van ‘n olifant. Een van drie wat voor hulle opdoem. Martie sien ook die gevaar en roep dringend: “Moet net nie hardloop nie.” Clarise hou gelukkig kop. Sy stap stadig weg met lang hale. Die olifante skrik egter net so groot vir die meisiekind wat skynbaar doodsveragtend op hulle afstap. Hulle plons in die water in en mik vir die oorkantste oewer asof die orke van Lord of the rings op hulle losgelaat is.

Sê nou die kind het die olifante teengekom op een van Sabiepark se paadjies waar jy nie so waaksaam is nie, ril Martie. 'n Mens ys saam met haar oor wat kon gebeur het.