O…O…Oli…fante!
Swak plekke in die heining is deur die jare deur olifante uitgebuit om “onwettig” in Sabiepark te kom spioeneer. Eienaars van huise teen die rivier kan nogal oë laat rek met hul mededelings oor allerlei sulke “verrassingspakkies” met die komplimente van rondloperlede van die familie elephantidae. Verhale van gunstelingbome wat klap en kantel, donker kolosse in die skadu, tamaaie tande wat in die maanlig skitter, en mae wat net ‘n paar meter ver onophoudelik rommel, is redelik algemeen.
Gerrie Olivier van Oliviershoek (erf 280 in Appelblaarlaan) kom ‘n Sondagoggend vroeg agter daar’s olifante op sy werf. Hy gaan roep dadelik ‘n jong besoeker wat nie die bos ken nie, om in die avontuur te kom deel. Maar die twee misgis hulle in die sterk skemer met hoeveel besoekers daar is en waar hulle oral ‘n holte vir hul groot voete gevind het. Skielik besef hulle: “Ons is omsingel!” Al genade is om oor ‘n hekkie te klouter en hulle in ‘n hoekie van ‘n buurman se boomhuis klein te maak. ‘n Uur gaan verby, later twee. Toe daag die veldwagters op wat sy vrou, Ansie, intussen gaan ontbied het om die vermistes te help soek.
Veilig op moederaarde, loer Gerrie na sy horlosie en kondig aan: “Nou is ons te laat vir kerk.” “Maar het ons dan nog kerk nodig, oom?” vra die besoeker. “Het ons dan nie al genoeg gebid nie?” “O, het jy gebid? Ek het ook,” laat Gerrie toe hoor.
Dup en Minnie du Plessis van Loeriebos – ja, hulle van die leeubeleg -- vertel van twee besoekers wat in Gwarrieboslaan ‘n foto van ‘n olifant wou neem. Die kamera was op ‘n driepoot. Tydsaam en sorgvuldig het hulle die perfekte olifantfoto probeer opstel. Toe raak hul “model” sat vir die speletjie en storm. Die aspirant-fotograwe laat hul driepoot aan sy eie genade oor en druk mekaar behoorlik uit die pad soos hulle laat spaander. Net betyds haal hulle die veiligheid van hul huis. Ewe moedswillig, neem die ou satan toe vlakvoor hul voordeur stelling in. Hulle was lank gevangenes. ‘n Keer moes Dup self ‘n halfuur staan en wag om by ‘n olifant op sy motorpaadjie verby te kom.
Skade bly natuurlik nie uit nie. By Hans Wilreker (erf 336 uit Wildevylaan) is in 1998 (voor die elektrifisering van die olifantdraad) ses groot bome -- waaronder maroela, jakkalsbessie en knoppiesdoring -- omgekeer. Die olifante het ook deur 25 struikgewasse geploeg. Kettingsae moes ingespan word om die jakkalsbesssie-stompe op Hans se motorpad op te saag.
‘n Sondagaand klink dit van Tarlehoet se stoep af of ‘n jong oorloggie woed. Ons sit minstens ‘n uur lank oorweldig en luister hoe olifante weerskante van die piekniekplek onder die bome maai. 'n Wandeling op die rivierpad twee dae later, toe die pad weer oopgestel word, laat 'n vollediger prentjie van die verwoesting ontvou. Skaars 20 meter van die beginpunt af lê die eerste bolle, vars takkies en blare. 'n Entjie verder span ‘n geknakte stam (minstens 100 sentimeter dik) 'n boog oor die wandelpad. Ons moet bo-oor klouter. Toe’s dit skielik of ons in ‘n nagmerrie instap. Oral rondom ons is bome uitgeruk, omgestoot, afgebreek. Op die ontoeganklike oewer wes van die piekniekplek was die skade waarskynlik nog groter, het ons geraai. Later toe ons van Hans se skade hoor, het ons twee en twee bymekaar getel. Dit was klaarblyklik deel van daardie selfde aand se plundertog.
By Tarlehoet het ons nog nie self ‘n olifant raakgeloop nie. Wel het Jean Smythe met ‘n vies klik van die tong stoom afgegaan oor hoe ‘n “blasted elephant” haar enigste aalwyn uit die grond geloop het. Van toe af kom die suikerbekkies minder by Ukuthula/Tarlehoet. En daardie twee foto’s in ons woonkamer van ‘n olifant met ons blou swembadseil op die voorgrond dan? Dit is deur David Zeller van ons stoep af geneem en vir my gestuur met die volgende boodskap: “Sou dit nie heerlik wees nie om ‘n olifant uit die swembad van Tarlehoet dop te hou?”
Vervolg ...


