O…O…Oli…fante!

Voor die Groot Vloed van 2000 was die skaduryke piekniekplek self in die winter ook 'n gewilde uithangplek vir olifante. In Oktober 1998 het Eric en Sannie Wiese van Kaapstad kom kuier. Kort na hul aankoms is ons piekniekplek toe. Daar wag 'n bielie ons in, eers nonchalant, later in ‘n onverklaarbare knorrige luim. 'n Groot boom in sy pad word eers in ‘n kort kragvertoon onderstebo geloop. Die "geen-toegang"-bordjie by die begin van die wandelpad word daarna netjies met sy slurp verwyder. Toe kies hy padlangs koers. Op een van my gunsteling-olifantfoto’s balanseer 'n besoeker uit die Wildtuin hom op sy groot voete soos 'n swaarlywige ballerina (?) op die eilandjie wat later hangbruggie en al Mosambiek toe saamgesleur is. Dis seker een van die laaste foto’s van daardie gewilde kuierhoekie voordat dit deur die vloedwaters uit die pad gevee is.

Klein diertjies, ook klein olifantjies wat al genoeg gewig dra om ‘n Springbokskrum te anker, is vir my vrou onweerstaanbaar. Sy wil hulle altyd net optel. Haar dag is gemaak toe sy een laatmiddag olifante op die sandbank by die seekoeigat raakloop. Sy kan amper aan die massiewe lywe vat. Onder hulle is ‘n heel kleintjie wat nog gerieflik tussen ma se bene inpas. Sy lomp slurpie lyk of dit minstens twee nommers te groot is. As bonus drink die outjie voor haar aan sy ma. Dit maak die moedersdrang om te vertroetel nog sterker. Later is Tokkie ‘n meelewende toeskouer van die gesukkel om die buksie teen ‘n bultjie op die oorkantste oewer uit te kry. Twee keer beland hy feitlik op sy blaker. Eers toe kry sy ma -- al erg ongeduldig -- dit by hom ingeprent om met sy voorpote op sy knieë te sak. Sy en blykbaar ‘n ouer broer of suster gooi hul gewig van agter af in vir ‘n hupstoot. Een, twee, drie, stoot! Een, twee, drie, stoot! Hoewel die hele operasie vlakvoor haar -- die enigste lewende siel op die uitkykplatform -- afspeel, kan Tokkie geen foto neem nie. Die enigste werkende kamera van die Van Deventers in daardie stadium is saam met my wat elders geokkupeer is. Daarna het ons nie gras onder ons voete laat groei nie. ‘n Tweede ene is dadelik aangeskaf.
Die suidoewer oorkant die piekniekplek is dig bevolk met olifante. Wildtuinbesoekers sien soms groot troppe van die brug by die Krugerhek af as hulle uit die bosse uit water toe stap. Dan dam die motors op daardie brug op soos op ‘n Saterdagogggend by ‘n bedrywige sakesentrum in ‘n groot stad. ‘n Skare mense hang oor die relings. Kameras flits. Vir die olifante moet dit amper ‘n groter aardigheid wees as wat hulle vir die opgetoë skaretjie is. ‘n Wenk vir Wildtuinbesoekers: ry maar wawyd wakker oor daardie brug; hou stil en bespied die omgewing deeglik met ‘n verkyker. Weerskante van die rivier. Tien teen een sien julle olifante nog voordat julle deur die Krugerhek is. Gelukkige fotograwe kry dalk ‘n goeie skoot van ‘n olifant by Coert Steynberg se Paul Kruger-beeld uit wit graniet, of van een met sy slurp in saluut by die bord wat Wildtuinbesoekers verwelkom. In my Sabiepark-albums is albei tonele fotografies gedokumenteer.

Na die Groot Vloed bied die hele piekniekplek en wandelpad nou van begin tot einde ‘n panoramiese uitsig. Dis ‘n eersteklas plek om olifante van gade te slaan. Danksy die wonder van die selfoon is hul teenwoordigheid deesdae boonop net ‘n oproep ver. "Kom gou! Hier’s ‘n spul olifante!” Die boodskap per hoogs gevorderde "bostelegraaf" laat ons een middag alles net so los en vinnig afsit rivier toe. Die energie is nie verspil nie. Eers tou 'n troppie van tien al langs die rivier af in die brug se rigting. Toe peul nog sesstuks slurp omhoog uit die bosse. Daarna maklik 25 (waarskynlik meer) grotes en kleintjies wat -- onbewus van die toeskouers oorkant die water -- vir 'n weergalose “piekniek van die olifante” sorg. Dit speel en raas soos uitgelate kinders. 'n Paar is gly-gly die wal af vir 'n stofbad. 'n Entjie verder wil twee botterbulletjies mekaar vat. Die bos dawer. 'n Kleintjie soek dringend melk. Later bondel almal by die water. Hulle plas en blaas en spuit mekaar nat. Vir 'n kosbare uurtjie vergeet 'n mens amper die gevoel van verlies wat jy nog altyd ervaar elke keer as jy die “nuwe” piekniekplek betree ...

Op ‘n veilige afstand, met die rivier gerusstellend tussenin, kan ‘n mens olifant-gedrag ure lank dophou. So kry jy nogal heelwat te lere van die olifant-kultuur. Dit is nie net insiggewend nie, maar dikwels ‘n openbaring van ‘n eg-menslike streep wat die waarnemer verstom. Met baie wat jy waarneem, kan jy jou vereenselwig. Dissipline is byvoorbeeld prysenswaardig. Ma’s kan kwaai wees. As as hul kleingoed te woelig of stout raak, word die slurp gou-gou as ‘n lat ingespan. Die slurp: daardie koddige aanhangsel is ‘n sterk, veeldoelige en gerieflike hulpmiddel. Olifante wend dit behendig aan vir talryke uiteenlopende take. Hierdie “stertjie van voor” dien om kos te pluk, water te drink (minstens 200 liter ‘n dag, ofte wel sowat 600 blikkies koeldrank), kinders te beheer, bekendes te groet, geliefdes te betas, en mekaar in ‘n goeie gees of in woede met sand, water of selfs klippe te bestook.

As olifante baklei, baklei hulle met passie. As hulle speel, is dit met aansteeklike genot. Dat olifante ‘n lekker humorsin het, dit het ek self gesien. ‘n Halfdosyn lomerige buffels het, met my verkyker op hulle gerig, vinnig opgespring, verward rondgekyk en verergd weggedraf toe twee platjies hul slurpe vol water trek en met die kragtige waterkanonne in hul rigting laat waai. Die nut van ‘n slurp is nie seisoengebonde nie. In die hoogsomer is die water volop. Dan is olifante lief vir “snorkel duik”, bad en swem. Hulle kan geruime tyd heeltemal onder die water bly met net die puntjie van die slurp wat uitsteek om asem te haal. In droogtetye raak die water min. Dan gebruik die grootvoete weer hul tande en slurpe om diep gate in die harde modderkors te grawe. Ondergrondse water syfer stadig in hierdie “gorras” op en olifante kan hul dors les.

Vervolg ...