O…O…Oli…fante!
Vir die Wildtuin se olifante is nie net die gras oorkant die spreekwoordelike draad altyd groener nie. Ook die gras anderkant die rivier. Sabiepark se wandelpad trek grootvoete soos ‘n magneet. Hier verras hulle wandelaars gereeld, hul massiewe lywe donker-nat soos hulle deur die Sabierivier gewaad het.
Veral in die winter, as die rivier laag is, kom avontuurlikes graag loer wat
duskant te ete is. Die plate riete aan die noordoewer is veral ‘n bederf-kossie.
Hul stomende “visitekaartjies” word dan oral op en langs die smal paadjie
gewerp. Soms versper kuiergaste uit die Wildtuin die pad en klap hul ore
dreigend vir verskrikte wandelaars. Ander kere knal dit nes kanonskote soos
vernielsugtiges onder die bome invaar. Sò ‘n plundertog kan ure duur. Dan hou ‘n
mens maar asem op. Die skade kan enorm wees.
Om ons lys olifant-verrassings op die wandelpad te tel, moes ek en Tokkie gou-gou die vingers van albei hande inspan. Sewe Vreemde Ontmoetings van die Groot Soort tydens ons eerste Julie-vakansie in Sabiepark in 1998 was van die hoogtepunte van twee geluksalige maande in die bos. Later jare het hul eie olifant-kronieke opgelewer. Die rekord van 1998 staan egter ongeskonde. Nader as in ons ongerepte boswêreld kan 'n mens kwalik aan ‘n olifant kom -- buiten in ‘n dieretuin of sirkus. Om skielik so ‘n enorme stuk vleis net 20 meter voor jou te sien opdoem, kan die hart laat bollemakiesie slaan. Op die minste bied dit 'n uitmuntende foto-geleentheid. Tyd om te fokus, bestaan egter nie altyd nie. Soms beweeg die kamera ietwat weens ‘n bewerige hand!
‘n Paar keer al moes ons taamlik onwaardig op die vlug slaan as ‘n reuse-gestalte, verskuil tussen die ruie bome op die wandelpad, ergerlik sy ore flap en sy slurp rondswaai.
* Op een van ons eerste ontmoetings doem ‘n onverwagte olifant sowat 50 meter van die einde van die wandelpad voor ons op, gebaai in die laatmiddagsonnetjie. Hy lyk kalm en vredeliewend. Maar die fotonemery word blykbaar ‘n irritasie. Toe die flits ‘n tweede keer blits, begin hy onrustig rondtrap. Eers roer net sy slurp heen en weer. Dan kom die ore in beweging. Skielik gee hy ‘n vasberade tree in ons rigting. Ons het nie ‘n sekonde langer vertoef nie. Tokkie laat vat met haar sonhoed in die een hand en my kierie in die ander. Kort op haar hakke volg die uwe wat nog eers 'n laaste foto wou neem. Die kamera flap om my nek. ‘n Ent agter my kom die olifant op ‘n skommeldraffie. In ‘n stadium verbeel ek my dat die afstand tussen my en die befoeterde bul onheilspellend krimp. Van agter af por ek my vrou uitasem aan: “Toe Tokkie, kan jy nie vinniger hardloop nie?”
Vir olifante het ek ‘n heilige ontsag. In ‘n stadium is in die intieme gesinskring disrespekvol vir my gelag oor ‘n scenario wat telkens onwillekeurig by my opgedoem het. Voor my geestesoog kon ek sien hoe ons die wandelpad aandurf sonder ‘n olifant in sig. Terwyl ons houtgerus terugstap, verskyn eensklaps ‘n plaat olifantlywe soos ‘n ondeurdringbare Berlynse Muur voor ons. Olifantlywe en enorme tande. Marisa lag nie
*Bly kalm, sê die kenners. ‘n Olifant raak eers werklik gevaarlik as hy sy ore plat teen sy kop trek en met sy slurp styf teenaan die lyf doodstil gaan staan. Ek sal nie weet nie. Teen daardie tyd rek die afstand tussen ons so vinnig as moontlik en sien die olifant net my rug!
meer vir my oor my “alarmistiese voorspooksels” nie. Sy en ‘n groep vriende het laatmiddag die wandelpad gaan verken. Hulle is haastig om by die huis te kom om ‘n vuurtjie aan te steek, en stap ‘n bietjie vinniger terug as wat aan te beveel is. Skielik steek die voorste stapper in sy spore vas. Toe hy omdraai, is hy witter as die ivoortande van die formidabele olifantbul wat die hele pad vol staan, die ene ore. ‘n Entjie verder staan ‘n maat wat selfs nog ‘n bietjie kollosaler lyk. "O, moer! O..o..oli…fante!" Die jongman wil fluister, maar die aankondiging kom so luid oor sy lippe dat die voorste een van die twee sy ore spits. Marisa vertel: “Oomblikke gelede was ons haastig en honger. Nou was ons lam, bang en aan die verkeerde kant van die twee groot reuse wat rustig hul aandete staan en pluk.”
Die "veldkenner" in die groep deel hortend vinnige instruksies vir oorlewing uit. "Olifante se ore is fyn en mis niks," verduidelik hy grotendeels met gebaretaal. "Maar hul oë is sleg. As hulle storm, moet ons almal in 'n groep saamkluister en probeer om nie soos mense te lyk nie!" Die olifante storm egter nie; hulle staan net asof hulle ingeplant is, en die son begin water trek. Wat nou? Al genade is om met die vernuf van grenssoldate eenvoudig by hulle verby te luiperdkruip soos Springbokrugbyspelers by Kamp Staaldraad! Daarna het die bedremmelde groepie hul treë gerek, terug na die veiligheid van die motor.
Die enigste roete vir olifante wandelpad toe is deur die Sabierivier. Vir Sabieparkers is so ‘n oortog -- hoewel nie droogvoets nie -- altyd ‘n sensasie, amper soos die Israeliete se epiese uittog deur die Rooi See. Ons ken mense wat al tien jaar lank elke winter Sabiepark toe kom en dit nog nooit gesien het nie. Die Van Deventers is egter weer gelukkig. Op net hul derde middagbraai in die piekniekplek -- onbewus van enige olifant-teenwoordigheid -- tel Tokkie se fyn ore ‘n gekraak van takke op. Die hoendersosaties is net lekker aan't goudbruin word, toe stap die leier uit die bosse die water in met nog twee stamgenote kort op sy (haar?) hakke. Hulle kom in hegte formasie halflyf deur die water, slurpe en sterte soos die skakels van ‘n ketting ingehaak. Nie lank daarna nie -- met die tjops en Vrystaatse boerewors op die kole -- volg nog drie. Dieselfde roete. Dieselfde formasie. Asof dit ingeoefen was. Dankie, julle ou staatmakers. Daardie “etensuurparade” was vir ons en ons gaste baie spesiaal.
Vervolg ...


