Nok, Nok ...

Sodra dit sterk skemer is, kom nagapies uit alle oorde vir 'n “vingerete” in die bos aangesweef. Dié rats nagdiertjies daal soos valskermspringertjies op Tarlehoet se stoep neer. Party kom uit die nesse bo teen die nok wat spesiaal vir hulle opgehang is. Ander arriveer uit die ooste op ‘n vasgestelde roete. Soms verras een of twee ons om die suidwestelike hoek van die huis.

Uit die nesse is die vinnigste pad ondertoe direk teen die muur af. Die outjies uit die ooste hoor jy as hulle “tsjak-tsjak” op pad is. ‘n Minuut of wat later merk jy hulle op in die knoppiesdoring skuins voor die huis. Daarvandaan spring hulle in ‘n sekelbos, in ‘n Transvaalse katjiepiering, in die groot maroela teenaan die stoep en uiteindelik in ‘n gewone pendoring wat geiler dae geken het. Dis die laaste stasie voor die kostafel. Die alternatiewe roete om die hoek is via ‘n haak-en-steek met gevaarlike dorings. Uit hom is dit net een substansiële sprong tot in die maroela. In ‘n avontuurlustige bui kom die om-die-hoek-sluipers soms op die swembadmuur na die pendoring aangehupppel.

Die kostafel is bekend as die Colin-tafel. Dis ‘n geskenk van Colin Hickling, oud-burgemeester van Bloemfontein. Die tafel is lekker hoog dat jy met jou elmboë daarop kan leun, soos op ‘n kroegtoonbank. Vir die nagapies is die hoogte om ‘n ander rede klaarblyklik gerieflik. Deel van elke aand se roetine is om die tafel te “dek”. Piesang -- nie te ryp nie! -- is veral gewild. Heuninghappies kry ook aftrek. Ons ken mense wat sweer by stukkies Bar-One en malvalekkers. ‘n Pierinkie suikerwatertjies is nie te versmaai nie.

Een aand dreig ‘n krisis. Die piesangs is gedaan omdat die baas van die huis sowaar gewaag het om saam daaraan te eet. Peer word as substituut aangebied. Dit gaan nie goed af nie. Tokkie kon sweer daar was ‘n verwytende blik in die ronde ogies en ‘n verergde swaai van die lyfies. Wat van papaja? Nee wat, vergeet daarvan.

Nagapies is die eerste twee tot drie uur van die aand op hul aktiefste. Elke aand as die skemer daal, is hul bos-kabaret op die program. Maar jy raak nie moeg daarvoor nie. Alle oë bly op die pendoring vasgenael van die oomblik af dat die eerste klein rakker dit bereik, die wêreld ‘n ruk lank grootoog bespied en dan met ‘n plofgeluid op die tafel land. Die skyfie piesang word soos blits opgeraap en in ‘n tak van die pendoring geëet. Soos ‘n groenmielie. Van kant tot kant. Die patriarg het ‘n gereserveerde mik in die pendoring. Daar sit die ou vader soos ‘n koning op sy troon en eet sy piesang met ‘n meerderwaardige houding.

Valskermspringertjies is die netjiese beskrywing van André Visagie van Bloemfontein. Tokkie meen weer hulle is soos ‘n Japanse blitstrein. Hul betroubaarderheid is onoortreflik. Dat die verkeer so seepglad verloop, is verstommend. Hoe botsings in die lug vermy word, weet nugter. Met kritieke tydsberekening bly die een wat kom en die een wat gaan, egter uit mekaar se pad. Soms as die piesanglus te groot raak, tref twee-twee tegelyk die tafel. ‘n Keer of wat was daar drie op ‘n slag. Maar darem eers as die “koning” klaar is …

Drie rekords word weer en weer verbeter: hoeveel nagapies opdaag, hoe lank dit vat om die tafel skoon te maak en hoeveel piesangs verorber word. Die rekord-opkoms is agt, die tyd ‘n blitsige tien minute en die getal piesangs twee en ‘n bietjie.Toe ons oordrag van erf 154 vat, vertel Jean Smythe ons danig in haar skik van ‘n “bush baby” in die nok. ‘n Woordeboek ruim ons onkunde uit die weg. ‘‘Dis ‘n nagapie, man.” ‘n Boek oor die natuur vul verder aan oor die onderskeid tussen ‘n nagapie (galago moholi) en ‘n bosnagaap (galado crassicaudatus), wat in Sabiepark veral teenaan die rivieroewer of langs die Amazinispruit boer. Die bos-weergawe is aansienlik groter en forser. Hul sterte is sulke dikkes en hul hande is knewels. Insekte en boomgom is die kleintjies se stapelkos. Die grotes lewe hoofsaaklik van vrugte en gom. Albei is versot op piesang…

Hoe dol op die happie bosnagape is, het ek en Tokkie eers op ons sestiende Sabiepark-vakansie agtergekom. Ons het in Julie 2004 by George en Rina Cloete van Nyamazane (erf 24 uit Maroelalaan) vier snoep besoekers by ‘n feesmaal van gekerfde piesang gesien grom en gryp. Van nagapies se voorliefdes weet ons egter al van Junie 1998 na ‘n mededeling deur Griet Williams, kranige huishulp uit die Kaap, dat hier “eekhorinkies” is wat na donker in die bome rondspring. Daardie aand sit die nuwe Sabieparkers op die punte van hul stoele. Kort na skemer -- in daardie goue uur wanneer die son die hemel agter die swart takke van die Bosveldbome rooi begin tint -- sien ons ons eerste nagapie terwyl hy soos ‘n sweefstok-arties van tak tot tak woerts-warts. Die stukkie piesang wat eksperimenteel uitgesit is, verdwyn in ‘n oogwink.

Vervolg ...