Nok, Nok ...

‘n Seisoen van nagapie-neerstortings breek nou aan. Elke paar dae moet Tokkie ‘n kleintjie red. Een krul hom selfs op in een van my gehawende ou Green Cross-sandale, wat my vriend Jan Scholtz verbeeldingryk Journey’s end gedoop het. Die apie pas presies in die holte vir die toon. Tokkie se liefderike vertroeteling is iets om te sien. Eers word hulle in kombersies toegewikkel. Dan kry hulle slaapplek op MY sitkamerstoel. As dit skemer raak, word hulle versigtig uitgedra en strategies op die “piesang”-tafel neergesit. Gerieflik vir die opraping. Later begin ek wonder of die vallery -- duikery? -- nie aspris is nie, ter wille van die grenslose bederwery op moederaarde. Wat veral tot agterdog bydra, is dat party klein maaifoedies so sekuur “val”, netjies op ‘n sagte kussing.

Een agtermiddag is besonder bedrywig aan die nagapiefront. Kort na die eerste stort ‘n tweede en kort na die tweede ‘n derde kleintjie van bo af. Hulle val soos ryp vye. Tokkie skarrel heen en weer soos sy beddegoed uit handdoeke en allerlei los lappies optower. Ons het amper nie genoeg stoele vir al die onverwagte gaste nie. Die lyfies word knus toegewikkel. Net die oë en ore steek uit. Die gordyne word styf toegetrek om die skerp lig uit te hou.

Die meeste kere verloop die operasie foutloos. Na ‘n vinnige happie -- elkeen het maar sy voorkeure -- kry die ma haar baba en karwei hom weg. Een ou lyk egter maar pê toe my besorgde vrou hom op ‘n stoelkussing aantref. Sou hy dit tot die aand maak of nie? Uiteindelik breek skemer aan met ‘n bietjie lewe nog in die klein lyfie sigbaar. Dié keer werk dinge egter nie helemaal volgens plan nie. Drie grotes kom uit die nes en eet hulle knuppeldik. Maar hulle ignoreer die kwynende kleintjie soos ‘n stopstraat. Eers nadat ons al bed toe is, kom die ma (of iets anders) hom haal. Lewend of dood. Hoe sal ons weet? Diep in die nag hoor ons ‘n hartverskeurende gehuil. Dalk die treurende moedertjie? En die volgende oggend kon dit net nie rustig raak in die nes nie. Veral een bly grootoog vir ons koekeloer. Vir lank. Net nuuskierig? Dalk verwytend? Dalk berouvol? ‘n Mens wens jy kon weet -- en troos as dit troos is wat nodig is. Die toneeltjie gryp Tokkie so aan dat sy hardop wonder of ek nie maar alleen moet terug Kaap toe nie. Wat moet van die stomme goedjies word?

Ek weet nie in watter stadium sy besluit het die nagapies moet beter akkommodasie kry nie. Johan en Mariza beskou die versugting egter as ‘n bevel en neem omtrent die Kaap op horings vir ‘n geskikte huis. Eers word die Tygerberg-dieretuin geskakel, wat wil weet of ons ‘n permit het om nagapies aan te hou! Dan agtereenvolgens ‘n troeteldierwinkel, ‘n apeteler in Loevenstein, ‘n kwekery wat in broodbome spesialiseer, die World of Birds in Houtbaai en die DBV, wat seker nou nog na Mariza soek, “want navorsing het bewys dat jy glad nie aan die apies mag raak nie. Tot siens!”

Uiteindelik kry Mariaan, wat swart Australiese swane teel, ‘n nes, die ware Jakob, by ‘n vriendin. Mariaan wou nie geld hê nie, sy en haar voëls oorleef op skenkings. O ja, kom kuier gerus weer. Uit die aard van die saak! Die uitgeholde stuk garingboom is tussen ons bagasie toe ons weer die noordwaartse tog aandurf. Op 15 Maart 2000, Tokkie se verjaardag, is die montering daarvan op die dagboek. Ongelukkig begin haar verjaardag met 'n harde val toe haar voete op die dik moslaag voor die kombuis onder haar uitgly. Dit skrik haar egter nie af nie. Kort daarna is sy op die trapleertjie wat bo-op die hoë Colin-tafel staangemaak is. Met koperdraad wat by die kantoor gebedel is, word vir die nagapies 'n netjiese tuiste aan die dakbalke vasgewoel -- die eerste van drie op verskillende hoogtes.

Ek staan onder en bewonder my vrou vir haar ywer en vernuf met tang en draad, wat ek haar beny. Van die boonste dwarsbalk hou twee paar ogies haar bewegings dop. Sou hulle besef dit is alles vir hulle gerief? Ek twyfel so in die stilligheid. Maar hoe sal hulle dan ook weet in Tarlehoet se huis hang selfs ‘n skildery -- skilder: Johan Coetzer van die Bottega-galery op Oudtshoorn -- van ‘n ronde-oog nagapie in ‘n boom in die volmaan?