Nok, Nok ...
Afsprake word skielik gereël rondom die nagapies se rooster van kom en gaan. “Goed, sien julle so net na ses. Wil net gou my nagapies kos gee.” Tokkie bewapen haar elke aand tot die tande teen uile, vrugtevlermuise, slange of watter gevaar ook al haar nagpies kan bedreig of pla. Sy laat haar sowaar intimideer om uit die warm bed op te staan en 'n middernaghappie vir ‘n klakousie te gaan neersit. Daarna was die knapie doodtevrede. My vrou ontpop haar as eersteklas verpleegster. Dié rol neem sy oor na ‘n uitsonderlike ervaring met wat later as ‘n besorgde nagaap-moeder geïdentifiseer is. Daardie nagapie tree heel vreemd op. Sy sit vir ons en kyk op die stoepmuurtjie, klim af grond toe en terug, en spring daarna met kangaroespronge op die muurtjie rond. Dan word die lyfie gerek om ver te sien; dan staan sy regop op haar lang agterpote en bekyk die omgewing deurvorsend. Later sien Tokkie iets op die stoep; 'n padda vermoed sy. Sy stoot-stoot hom met haar voet, maar hy wil nie spring nie. Die polisieflits word aangesit. In die ligkol lê die kleinste, kleinste nagapie. My vrou dag eers hy is dood. Toe sy hom optel, hoor sy egter fyn klik-klikgeluidjies. Die pootjie klou krampagtig aan haar vinger en die stertjie lê met 'n swierige krul. Dis ‘n noodgeval. Tokkie spring in die motor en ry hek toe om by die Zellers raad te vra. Mariza sit met die pasiëntjie in die hand. Die twee vroue beland voor dooiemansdeur. Al raad wat Tokkie kry, is om die kêreltjie die volgende oggend kantoor toe te bring.
Op pad terug huis toe begin sy planne beraam vir ‘n lekker warm bed van watte. Op haar aandrang breek Johan een van sy insulienspuite se naald af om glukosewater in die mondjie te drup. Sonder welslae. Verskeie noodstappe word oorweeg. Demokraties word besluit om die pasiëntjie op die tafel by die stoepmuurtjie te sit in die hoop dat sy ma hom sal opmerk. Dit was verstandig. 'n Rukkie later sien ons 'n volwasse enetjie in die takke langs die tafel. Toe ons weer kyk, is die kleintjie weg. Met flitse fynkam ons elke stukkie stoep, grond, tafel en stoel. Al wat ons kry, is twee rêrige paddatjies.
Meneertjie het hom waarskynlik half kaduks geval uit die dakbalke waar in daardie stadium 'n hele paar nagapies bedags geslaap het. In ons harte glo, of hoop, ons die storie het 'n gelukkige einde en dat sy ma hom wel kom haal het. Later sou ons te wete kom hoe die klein dramatjie afgeloop het. Mariza vertel: “Half-ses die oggend van die voorlaaste dag van ons vakansie word ons wakker van 'n rumoer. Johan gaan stel ondersoek in en sien dat die nagapie weer uit die nes geval het. Hy gaan lê, maar ek staan wag, want ek's oortuig daarvan dat sy ma hom nie net sal los nie. Sowaar, 'n rukkie later spring sy ma uit die boom, gryp hom agter die kop en weg is hulle! Nou weet ons!” Net die volgende vakansie raak Tokkie nog dieper in die nagapies se lewens ingesuig. Nou is sy nie net meer verpleegster nie. Sy neem ook die mantel van sorgsame dagmoeder/babawagter op. Dit gebeur nadat ons sommer met ons aankoms ‘n nagapiebaba vas aan die slaap op die voorstoep kry. Hy het klaarblyklik uit die dak getuimel, sowat tien meter van die heel hoogste balk af. Die eerste sombere indruk is dat die val noodlottig was. Die arme Tokkie is in ‘n toestand. So maklik gee sy egter nie bes nie. Sy bly om die skynbaar lewelose lyfie kloek, maak hom op die Colin-tafel gemaklik en en skep later selfs met ‘n wynsak ‘n bietjie koelte. Hierdie behandeling hak die knoop deur. Ja, werklik, die ogies flikker oop. En toe die tradisionele piesangskyfies hul verskyning maak, sukkel hy belangstellend nader. Pa en ma het ure lank op die donker gewag voordat hulle ondersoek ter plaatse kom instel het. Eers sit hulle self ‘n paar piesanghappies weg voordat ma die kleintjie beetkry en in die takke verdwyn.
Vervolg ...


