Nok, Nok ...
‘n Dag of twee later word ek om 05:30 wakker van ‘n sagte, aanhoudende geweeklaag. Daar sit die kaboutertjie toe by die slaapkamer se skuifdeur en tik teen die ruit asof hy wil inkom om kennis te maak. “Aangename kennis. Ek is die resident-nagapie. Is julle die nuwe eienaars?” Ek maak Tokkie wakker. "Wil jy die outjie sien?" Die naam “outjie” was nou al by ons ingeburger. Natuurlik wil sy. Saam hou ons toe sy lewenslustige kirpatse dop.
In ‘n stadium is hy op my vrou se motor se dak (myne was onklaar in die Kaap).. Ek ys vir sy onthalwe. Maar toe maar, sê sy, “hy is so klein en fyntjies dat ek hom dit maar vergewe!” Hy spring nog ‘n hele rukkie daar rond. Op die tafel, op die braaier, in die bome en op die stoep. Tokkie begin bekommerd raak, want dit word dan al hoe ligter en sy weet nie hoe ver sy slaapplek is nie. Dat die slaapplek glad nie ver was nie, is die volgende ontdekking een oggend voor ontbyt. “Nok, nok,” sê ek vir Tokkie. “Wie's daar?” “Nagapies!” “Waar?” “In die nok.” Dis 'n groot ontdekking en die verantwoordelikheid daaraan verbonde is nog groter.
In 'n oogwink word ons bewegings deur die mikro-diertjies in die stoep se dak
aan bande gelê. Ons praat selfs in 'n fluisterstem, want hulle moet bedags slaap
sodat hulle snags uitgerus kan rondspring en kos soek. Tokkie verklap sy het
soos 'n (dag-)aap gevoel toe sy agterkom die (nag-)apie sit vir haar en kyk hoe
sy haar hare droogmaak -- koddige vrou. Toe gaan drink ons maar ons koffie binne
om die “outjies” nie te steur nie. Maar die nok trek ons soos 'n magneet. Ons
sal by die deur uitkom en skelm-skelm boontoe loer. Dan sien ons net
pieringogies wat ons belangstellend dophou.
In 'n stadium is een op die naat van sy rug, kleine arms en beentjies in die lug en met 'n stertjie wat langs die balk afhang. Die volgende oomblik hang drie stertjies langs mekaar. Pure biltonkies. Nou begin die groot wag vir die donker. Saam met die eerste skemerdrankie kom die eerste enetjie rats teen die muur af en spring in die boom. Binne sekondes is daar twee. Vir die kleintjie verloop die aftog egter nie voorspoedig nie. Hy plons uit die dak kaplaks op die stoep. Asjas! Maar ‘n paar vinnige spronge tot in die boom red darem sy eer. Gou is die ma (?) by die knapie. Saam-saam raak hulle in die boom weg. Dit lyk of sy hom aan die nekvel beet het.
Nog ‘n groter vreugde lê voor: om VYF nagapies in die dak te ontdek. Vroegmiddag sien Tokkie 'n grys bondeltjie. Sy hoop dis 'n nagapie; ek vermoed dis dalk 'n slang. Gelukkig is sy in die kol. Teen skemer kruip die eerste een teen die muur af. Op sy hakke volg 'n tweede. "Yster, yster,” roep Griet. Toe besef ons ons moet opkyk. Daar kom nommer drie, vier en vyf op mekaar se hakke. Hulle pak saam in die pendoring en hou ons stip dop. Die volgende oomblik swiep 'n groot voël in die boom. Dalk ‘n uil wat glo nagapies se grootste vyand is? Ons hoor 'n fyn skreeugeluidjie. Met moord in die hart en die swembad se skepnet in die hand is Tokkie agterna na die boom waar die voël (uil?) gaan sit het. Maar niks. Net ‘n doodse stilte. Die oggend bespied ons met verkykers die nok -- vergeefs. Twaalf uur later kom net vier af onder toe. Minstens een ontbreek. “Wanneer is ‘n uil ‘n vuil uil,” wil Tokkie weet. “Maklik, wanneer hy nagapies vang.” Trouens, kan ‘n vuil uil vuiler wees?
Van daardie dag en datum tree ‘n subtiele verandering -- miskien ook nie so erg subtiel nie! -- by my vrou in. Die piesang-ritueel begin. Stoele word saans in ‘n halfmaan gepak vir die beste hoek om hulle uit dop te hou. Sy peper my met feite. As ek nie met die nodige alakriteit en entoesiasme regeer nie, kry ek ‘n kwaai kyk. Haar kennis kry sy uit ‘n verskeidenheid boeke, asook eerstehands by David en Handa Zeller wat heelwat persoonlike nagapie-ervaring het. Afgedwaalde kleintjies word naamlik van tyd tot tyd in die kiosk by die kantoor op die vloer gevind. Dié kry die Zellers se persoonlike, toegewyde aandag. Vondelinge word warm gehou vir die dag, laatmiddag ‘n ietsie gevoer, en in ‘n boom gesit sodra die ander begin aktief raak sodat hul mammies hulle kan kom oppik.
Ek hoor van hul raakvat-handjies (soos gimnaste s’n, met die duime ekstra lank om takke mee vas te gryp), hul oë (dis baie groot en kan amper nie in hul oogkasse beweeg nie) en hul nekke (wat hulle ‘n hele 180 grade kan draai sodat hulle reg agter hulle kan sien). “Moet dit nie probeer na-aap nie!” grap ek. Maar Tokkie dink nie ek is snaaks nie. By Tarlehoet se resident-dosent in nagapiekunde verneem ek ook die klein diertjies bly omtrent hul lewe lank in bome. Hulle maak graag hul neste in gate in die stam. Soms in ou voëlneste. Mammies “parkeer” hul kleingoed in ‘n tak wanneer hulle gaan kos soek. Daar klou die kleintjies op lewe en dood tot net voor dagbreek wanneer die ma’s se nagskof verby is. Ek hoor nagapies piepie op hul hande vir ‘n vaster greep. Dit verklaar elke oggend se vars druppeltjies op die Colintafel en die stoep. En hulle draai mense om hul piepklein pinkies. Laasgenoemde kennis kom nie uit ‘n boek of van Tokkie nie. Dit belewe ek eerstehands.
Vervolg ...


