Nawoord
Al wat swaar is van Sabiepark is elke keer se tot siens.
Jou besittings word, in die woorde van Mariza, soos eiers in mieliemeel versigtig weggepak. Laatmiddag word die stapskoene vasgeryg. Jy stap knars-knars na die piekniekplek. Langs die Sabierivier vertoef jy ‘n rukkie. Bakhand oor die oë tuur jy oor die water vir lewe wat dalk in die oewerbos skuil.
Vir oulaas word die aand ‘n vuurtjie aangesteek, sommer plat op die grond tussen ‘n paar los bakstene. Die roosters hang al van vanoggend af silwerskoon geskrop teen die pakkamer se muur. Vir die nagapies word ‘n soenoffer uitgesit: ‘n ekstra happie piesang. Die duikertjie kry ‘n groter skeppie pitjies. Die diere wat wei-wei oor die werf kom, word een vir een gegroet: “Tot siens. Pas julle op. Ons kom weer.”
Die lanterns word gedoof. Jy sit in die donker en kyk lank op na die trosse sterre. Later in die bed lê jy stil na die naggeluide en luister. Jou ore is gespits. Dalk kom die sebras of die blouwildebeeste vannag weer drink.
Die tyd vlieg, dink jy hardop. Tempus fugit. Weke flits soos ‘n gedagtenis verby. Maande rol voort. Die jare drafstap aan. Al hoe vinniger en vinniger namate die afdraende steiler raak. Nou is nog ‘n boskuier op ‘n einde. Finaal afgetik. En wat die toekoms vir jou inhou, weet jy nie.
Die wete van nie weet nie gee verganklikheidsdenke vlerke. Jy wonder stilweg hoeveel keer jy nog die voorreg sal hê om hier te kom wakker word met die naaste bome wat amper by die slaapkamer se skuifdeur inkruip.
Vroeg die volgende oggend ry jy by die hek uit en swaai links na Hazyview op die eerste skof van die lang reis suide toe. In jou hart is dankbaarheid oor nog ‘n salige vakansie in jou geliefde bos. Saam met die dankbaarheid in die gemoed skuif ook ‘n knaende swarigheid in posisie. Die afskeid bring ‘n heimwee wat skielik ‘n lastige nattigheid in die oë wil laat opstoot.


