Kameraad Langeraat
Nadat ons in 1998 die weduwee Smythe se Ukuthula koop, het ons gou die beste manier ontdek om die park ten volle te geniet. Dit is te voet. Hier loop jy hierdie verrassing raak, 'n paar tree verder 'n ander een. Kameelperde, veral, besorg stappers oomblikke van dankbare betowering. In daardie stadium was die kameelperdbevolking drie keer groter as die huidige nege of tien. Op enige staptog, maak nie saak in watter rigting nie, kon jy daarop reken om ‘n klompie vorstelike nekke tussen die bome te sien uitsteek. Sommer elf op een slag was geen ongewone gesig nie. Kuiergaste kon hul oë nie glo nie. Een middag hou ‘n Kapenaar stil om pad te vra by my en Tokkie waar ons omring deur kameelperde staan. “Is dit julle troeteldiere?” wil hy toe gemaak-ernstig by ons weet!
Danksy hierdie “troeteldiere” se instinktiewe nuuskierigheid -- en hul geduld met tweebeen-lasposte en hul kameras – ontstaan geleenthede waar 'n mens feitlik deel word van hul wêreld. En buitengewoon fotogenies is hulle inderdaad met hul slanke nekke en blokkiespatrone op die vel. Veral die kordate kleintjies. Dié ken die kuns om hul oulike lyfies soos wafferse bakvissie-modelletjies te wikkel. Hul kapokkie-manier van staan sal enige fotograaf se hart laat vermurwe. Min diere is so ‘n roes op film. En ‘n gewilder agtergrond vir ‘n aandenking van ‘n Sabiepark-kuier is moeilik te bedink. Ek sou graag wou weet in hoeveel foto-albums van vriende pryk hul foto’s met een of meer van Sabiepark se kameelperde wat strategies oor hul skouers loer. Gelukkig was Tokkie se klein mik-en-druk-Pentax in haar immer teenwoordige “bos-sak” toe sy een middag ‘n kameelperd-kleinding naby die piekniekplek raakloop. Eers het junior “soos ‘n Mej. Poniestert” langs ‘n rooi aalwyn vir haar “pragtig staan en kyk.” Later het die beentjies blykbaar moeg geraak. Toe vou sy hulle onder haar in en gaan sit plat langs dieselfde rooi aalwyn. Dit moet die mees gefotografeerde aalwyn in Sabiepark wees!
Soms is die ou nasie darem te nuuskierig. Een agie het Tom van Wijk (erf 43 in Maroelalaan), ‘n nuwe eienaar en ywerige fotograaf, die “skrik van sy lewe” besorg, volgens sy vrou, Annette. Sy vertel: “Ons was in ons noppies toe ons op ‘n naweekbesoek twee kameelperde teenaan ons huis aantref. Tom het dadelik na sy kamera gegryp. Hy wou so na as moontlik aan hulle kom vir ‘n goeie foto. Voetjie vir voetjie het hy gevorder tot so drie meter van die bul. Terwyl hy nog sy kamera stel, kry hy ‘n skok toe die reuse-dier skielik laag afbuk en met sy kop feitlik teen die lens skuur. Hoewel heeltemal uit die veld geslaan, het Tom ‘n paar nabyskote geneem. Ons probeer nog uitwerk: was die kameelperd net nuuskierig of was dalk ‘n element van ondeundheid betrokke? ” Ek vermoed laasgenoemde is nie onwaarskynlik nie.
Tokkie het nie net een keer met ‘n vrag kameelperdfoto’s by die huis opgedaag nie. Amper nog meer film is opgeskiet toe sy ‘n middag vir Ouma ‘n klompie Sabiepark-babatjies wou gaan wys wat die ooievaar pas vir ‘n verskeidenheid bosbewoners afgelewer het. Terwyl ma en dogter ‘n donshaar-sebratjie sit en bewonder, sien Tokkie in haar truspieël twee kameelperdbulle aankom. Hulle loop styf teen mekaar met hul boude, “nes skoolseuns wat mekaar wil wegdruk om te wys wie’s baas”. Die twee stryders is naderhand feitlik op die motor. Maar hulle bly aanstryk. Met net twee meter spasie oor trek sy haastig weg. Hoe kon sy weet of hulle die voertuig raaksien en betyds gaan stop? Waarskynlik was hulle so oorhoops met mekaar dat hulle die hele tyd skoon bo-oor die metaalgevaarte in die pad gekyk het!
Toe die enjin skielik dreun, ruk dit hulle egter uit hul onverskilligheid. Hulle tree uit die pad en begin mekaar behoorlik met die boude stoot. Die lang bene trap-trap asof hulle ingewikkelde danspassies uitvoer. Die volgende oomblik klap die nekke. Die een tref 'n boom se tak en dit val met ‘n groot gedruis. Tokkie en haar ma het die kragmeting tien minute sit en dophou. Of dit dalk net ‘n speelgeveg was -- “necking” noem die Engelse dit ewe pikant -- of ‘n lang, stadige baklei-wals weens ‘n liefdesdriehoek, wis sy nie. Dat speelgevegte algemeen onder jong bulle in Sabiepark voorkom, het ons egter al gehoor. Volbloed-gevegte, daarenteen, is heelwat skaarser. Die hiërargie is gewoonlik reeds in “vriendelike gevegte” uitgesorteer voordat ‘n jong bul ‘n ernstige uitdager van die gesagsorde kan word.
Werklike konflik kom wel van tyd tot tyd voor. Op twee staptogte net twee weke uitmekaar het ons kameelperdbulle gekry wat mekaar met hul nekke staan en peper. In stadige aksie. Eers gee die een sy teenstander ‘n harde veeg. ‘n Sekonde lank gebeur niks. Dan kry nommer twee ‘n beurt om te reageer. Ewe ridderlik. Asof hulle afgespreek het om so een-vir-jou, een-vir-my te baklei. Van enige defensiewe aksie word geen teken gesien nie. Alles gebeur in spookagtige stilte. Nie dat kameelperde regtig stom is, soos baie mense dink nie. Al uiter hulle nie ‘n geluid terwyl hulle veg nie, kan hulle hard alarm maak as leeugevaar dreig. Die kameelperd se modus operandi in só ‘n krisis is nogal uitdagend. Hy staan direk vir die leeu en kyk -- as ‘t ware onder vier oë. Met ‘n regop nek word lug dan vinnig ingeneem. Dit bring ‘n soort blaasgeluid voort. Verskeie blêrgeluide kan ook oor sy lippe kom. Spits maar die ore.
Vir my het dit nie gelyk of daardie bulle, in geykte rugbyterme, mekaar net “groet” nie. Albei gevegte was te lank en te intens. Te geweldige houe is met die koppe en nekke gewissel. Al om die beurt is gestamp en gestoot totdat ons later moeg geword het van kyk. Maar hul stamina is bewonderenswaardig. Die bakleiers hou eenvoudig net aan en aan. As hul fut opraak, bly die twee so in gevegsformasie staan en wag. Sodra die energievlakke styg, begin hulle mekaar letterlik van vooraf “nekslae” toedien. ‘n Ernstige geveg kan groot skade veroorsaak. Daardie dun nekkies het geweldige krag. Kameelperde slaan mekaar soms bewusteloos. Of dood. ‘n Noodlottige geveg is wel seldsaam, maar dit kan gebeur dat ‘n nekwerwel versplinter met onvermydelike gevolge. Gelukkig is darem nie een terwyl ons kyk vir die volle telling planke toe gestuur nie.
Vervolg ...


